Interaktiewe kaart: Windhoek

Foto's: Erns Grundling

As jy Windhoek binnery op die B6 van Gobabis se kant af, sien jy geen tekens van ’n stad nie. Rondom jou lê wye ooptes, met heuwels en bergreekse in die verte. Die grassies is vaal, die doringbome groen (mits dit onlangs gereën het) en jy gewaar dalk ’n paar nuuskierige bobbejane of ’n vlakvarkgesin langs die pad.

Eers wanneer jy digby die heuwels buite Windhoek ry, betrap die geboue wat opdoem, jou byna onkant.

Rondom die spogbuurt Ludwigsdorf en Klein-Windhoek word die B6 Sam Nujomarylaan wat jou neem na die koel deel van die stad. Hier’s ’n klompie restaurante bymekaar – onder meer Portugees, Indies en Italiaans – binne stapafstand van mekaar. Dié deel herinner ’n bietjie aan Melville in Johannesburg, maar sonder die hipsters.

Ek maak ’n nota om op ’n Saterdagaand hier te kom draai en hou aan op teen ’n steil bult uit. Net anderkant die bult is een van Windhoek se Duitse kastele, Hotel Heinitzburg, op regterkant.

Die uitsig van Namibië se Tintenpalast, of Parlementsgebou af. Die standbeeld op die voorgrond is van Hosea Kutako, ’n Namibiese leier wat in 1970 oorlede is.

Windhoek het steeds sterk Duitse invloede uit die tyd toe die land ’n Duitse kolonie was (1884-1915). Jy sien dit in die argitektuur (die parlementsgebou is die Tintenpalast), op spyskaarte (enigeen vir ’n Wiener Schnitzel?) en jy hoor dikwels “wie gehts” (“hoe gaan dit?”) op straat.

Jy hoor ook Afrikaans, Oshivambo, Engels, Herero en selfs Chinees en ander tale in die strate van Windhoek.

Gepraat van strate – die name op die stadskaart is net so uiteenlopend: Hier is ’n Frankie Fredericksstraat wat die land se bekendste naelloper gedenk. Duitse straatname, soos Beethovenstrasse en Guthenbergstraat is volop. In die Katutura-township is glad ’n Beijingstraat. My gunsteling is die hoek waar Rugby- en Netbalstraat bymekaarkom.

Nou ry ek bultaf na Windhoek se sakekern. Op die westelike horison lê die Khomas Hochlandberg se rondings. Iets aan Windhoek se gevoel, die kleure en landskap laat jou dink aan Bloemfontein, mét ’n paar wolkekrabbers.

Verskeie hoë geboue troon uit bo die uitgestrekte stad. Die prominentste een is die Hilton Windhoek, ’n luukse hotel met nege verdiepings. (Ons weet nie of Paris Hilton al daar oornag het nie...)

Windhoek se stadsgrense lê wyd en die oppervlakte beslaan 5 133 km². Volgens die Namibiese koerant Republikein is Windhoek, wat grondoppervlakte betref, die grootste stad in Afrika! Om dit in perspektief te stel: Windhoek se oppervlakte is byna twee keer groter as die Kaapstad-metropool s’n. Maar waar die Moederstad 3,74 miljoen mense het en ’n bevolkingsdigtheid van 1 530 mense per vierkante kilometer, het Windhoek 63 mense per vierkante kilometer…

Windhoek se oppervlakte is byna twee keer groter as die Kaapstad-metropool s’n. Maar waar die Moederstad 3,74 miljoen mense het en ’n bevolkingsdigtheid van 1 530 mense per vierkante kilometer, het Windhoek 63 mense per vierkante kilometer…

En anders as in die Kaap en ander groot Afrika-stede soos Johannesburg, Nairobi en Lagos is die oggendverkeer nie ’n nagmerrie nie. Jou volgende afspraak – of dit nou by ’n vriend, ’n museum of Joe’s Beerhouse is – is nooit verder as tien minute se ry weg nie.

Plek vir almal

Toe Jonker Afrikaner die stad in 1840 gestig en ’n kerk gebou het, was hier net ’n klein nedersetting naby ’n permanente stroompie.

Jonker het op die naam Windhoek besluit, glo vanweë die wind wat gereeld hier waai, of dit verwys na die plaas in die Kaap waar sy familie vandaan gekom het: Winterhoek.

Aanvanklik was dit ’n piepklein nedersetting totdat die Duitse offisier Curt von Francois met 32 man Windhoek in 1890 bereik het.

Kort hierna is die Alte Feste – die fort op die hoek van Robert Mugabe- en Sam Nujoma-rylaan – opgerig om as hoofkwartier vir die Duitsers se militêre mag (die Schutztruppe) te dien in die koloniale periode.

Die Alte Feste was tot onlangs ’n bekende museum, maar word deesdae afgeskeep. Die bekende standbeeld van die Duitse ruiter op ’n perd, die Reiterdenkmal, wat voorheen oorkant die Christuskirche gestaan het, is in 2009 verwyder en staan nou effens vergete in die Alte Feste se binnehof.

Ek mik vir die Warehouse Theatre in Talstraat. Die Warehouse Theatre, die kuierplek The Boiler Room, The Loft en die gewilde Craft Centre en Craft Café is in dieselfde kompleks.

Die Warehouse Theatre is vanjaar 28 jaar oud en is dié plek om van Namibië se voorste kunstenaars, soos Shishani (sy woon deesdae in België), Elemotho, die groep Tonetic en Ras Sheehama te sien optree.

Dis ’n kuierplek waar mense van alle geure en kleure almal lekker saam kuier ná vertonings.

Conny Pimenta, mede-eienaar van die Warehouse Theatre, bly haar hele lewe lank in Windhoek. “Omdat die stad so klein is, kuier mense meestal by dieselfde plekke en raak later soos familie,” vertel sy. “Die diens is meer persoonlik. In Suid-Afrika kan jy in ’n groot stad rondstap en verlore voel, maar hier in Windhoek sal iemand vinnig met jou begin gesels.”

“Omdat die stad so klein is, kuier mense meestal by dieselfde plekke en raak later soos familie."

’n Bronsstand- beeld van Namibië se eerste president, Sam Nujoma, voor die Onafhanklikheidsmuseum wat op 21 Maart 2014 ingewy is.

’n Windhoek op Windhoek

Die nuwe Onafhanklikheidsmuseum, langs die Alte Feste, is vyf verdiepings hoog. Dit staan ook onder Windhoekers as die Koffiepotgebou bekend – dit lyk kompleet soos ’n reuse-koffiepot. Ek mik vir die NIMMS-restaurant op die vierde verdieping en bestel ’n Windhoek Lager (NIMMS staan vir National Independence Memorial Musuem).

Windhoek het geen tekort aan kolle om die dag vaarwel te roep nie, en NIMMS is die nuutste toevoeging. Hier is twee ruim balkonne waar jy rustig kan teug aan ’n skemerkelkie terwyl die stadsliggies begin flonker rondom die bekende Christuskirche.

Die meeste besoekers aan Namibië maak ’n draai by die Christuskirche op die verkeersirkel in Robert Mugaberylaan. Dié kerk is in 1910 voltooi en binne kan jy die loodglasvensters en uitsonderlike houtwerk bewonder.

Voordat ek Windhoek behoorlik leer ken het, was dit bloot ’n deurrydorp op pad na Swakopmund, Etosha of die Caprivi. Maar dié plek en sy mense oortuig jou gou om ’n dag of twee langer te bly. Ek lig my Windhoek op Windhoek. Tjeers, op die “grootste” stad in Afrika met die minste maar van die lekkerste mense... 

Windhoek in ’n neutedop

Sonsaktyd

Windhoek het ’n paar plekke waar jy (gratis!) met ’n drankie na die stadsliggies kan kyk.

NIMMS-restaurant-en-uitkykdek

Die NIMMS-restaurant by die Onafhanklikheidsmuseum het ’n 360°-uitsig oor die stad.

Na die noorde kyk jy af op die Christuskirche, die Parlementstuin en die Tintenpalast. Die restaurant se deure maak eers 10 nm. toe (11 nm. op Saterdae en Sondae); dus kan jy ná die sonsondergang aansit in dié “Afropean”-restaurant en weglê aan salmpasta, biefstuk of ’n meer tradisionele Oshiwambu-gereg.

Waar? Robert Mugaberylaan

Kontak 00 264 81 230 1269; nimms.com.na

Die twee uitkykdekke by die NIMMS-restaurant bied die beste uitsig oor die stad.

Hilton Windhoek se Skybar

Neem die hysbak sowat ’n halfuur voor sononder tot op die negende verdieping en kom staan op die houtdek langs die swembad.

Kyk hoe die son verdwyn agter die Khomas Hochland in die weste. Konstruksiewerk aan ’n gebou langsaan belemmer jou uitsig na die Christuskirche, maar dis die beste plek om te sien waarom die Onafhanklikheidsmuseum die Koffiepotgebou heet.

Waar? Eerwaarde Michael Scottstraat

Kontak 00 264 61 296 2929; hilton.com

Hotel Thule

As jy wil wegkom uit die middestad, mik vir Hotel Thule, sowat 5 km van die stadskern af. Dié deftige hotel is op ’n heuwel wat uitkyk oor die woonbuurte Eros en Klein-Windhoek en die Auasberg in die verte.

Sit op die stoep of bespreek ’n tafel in die On the Edge-restaurant.

Waar? Gorgesstraat 1

Kontak 00 264 61 371 950; hotelthule.com

Hotel Heinitzburg

Heinitzburg is ’n kasteel met drie verdiepings. Ene dr. Hans Bogislav (bekend as Graaf von Schwerin) het dit in 1914 laat bou as ’n liefdesgebaar aan sy vrou, Margarethe von Heinitz.

Vandag is dit ’n luukse hotel, maar jy kan ’n skemerkelkie bestel en die sonsondergang geniet al bly jy nie daar nie. Kyk wes oor die stadskern en die Khomas Hochland op die horison.

Waar? Heinitzburgstraat 22

Kontak 00 264 61 249 597; heinitzburg.com

River Crossing Lodge

Op die houtdek by die River Crossing Lodge, suidoos van die stad, kan jy duidelik sien hoe Windhoek deur berge omgord word. Die lodge is op ’n wildreservaat van 6 500 ha. Bestel iets by die kroeg, maak jou tuis op ’n stoel langs die swembad en klink jou glasie met ’n geliefde.

Waar? 3 km buite Windhoek; die afdraai is op die B6.

Kontak 00 264 61 401 494; rivercrossing.com.na

ETENSTYD

Kies uit meer as 100 restaurante in Windhoek.

The Stellenbosch Wine Bar & Bistro

Ja, hier is ’n stukkie Stellenbosch in Windhoek! Dit is volgens Tripadvisor die no. 1-restaurant in die stad. Sit terug in die binnehof onder sambrele langs ’n fontein en lê weg aan ’n sappige biefstuk of iets ligs soos Noorweegse salm met geroerbraaide groente. Die wynlys het verskeie Suid-Afrikaanse staatmakers.

Waar? Sam Nujomarylaan 320

Oop Ma.-Sa.: 12 vm.-10 nm.

Kontak 00 264 61 309 141; thestellenboschwinebar.com

Joe’s Beerhouse

“Wil jy Joe’s toe gaan?” is gewoonlik die eerste vraag wat ’n besoeker hoor met sy aankoms in die stad. En met goeie rede. Joe’s bly ’n legendariese eet-en-kuierplek en is bekend vir prettige dekor, ’n onpretensieuse atmosfeer en uitstekende wildvleis. Al is hier plek vir tot 600 gaste, is dit wys om altyd vooraf te bespreek.

Waar? Nelson Mandelarylaan 160

Oop Elke dag 12 nm. tot laat

Kontak 00 264 61 232 457; joesbeerhouse.com

Craft Café
Snuffel vir aandenkings by die Namibia Craft Centre (by die Craft Café).

Craft Café

In die hart van die stad, binne die Ou Brouerye-gebou, sal jy die Craft Café kry. Die fokus hier is op gesonde goed en hier is talle opsies vir vegetariërs.

Vrugtesap word vars uitgedruk – probeer die lemmetjie-en-gemmer. Die spinasie-en-fetaquiche met slaai en die appeltert is gewilde keuses.

Waar? Talstraat 40

Oop Ma. en Di.: 9 vm.-6 nm.; Wo.-Vr.: 9 vm. tot sononder; Sa. en So.: 9 vm.-3.30 nm.

Kontak 00 264 61 249 974; craftcafe-namibia.com

Wilde Eend Bistro

By die Wilde Eend Bistro kan jy buite onder groot wit sambrele in ’n tuin terugsit en ligte maaltye geniet soos ’n spek-en-fetaburger met ’n papaja-en-mentsalsa. Die koffie is van die beste in Windhoek en die suurlemoentert sal jou weer en weer laat terugkeer.

Waar? Uhlandstraat 10

Oop Ma.-Vr.: 8 vm.-5 nm.; Sa. 8 vm.-1 nm.

Kontak 00 264 61 272 632

Wilde Eend Bistro
Wilde Eend Bistro

The Social Restaurant

As jy op soek is na topklas Mediterreense cuisine in Windhoek, sal dié stylvolle restaurant se spyskaart jou mond laat water. Val weg met ’n steak tartare, berei op die eg Franse manier, voordat jy weglê aan tarentaallinguine of gebakte tongvis. Dit is veral lekker om onder die bome op die stoep te sit.

Waar? Hoek van Robert Mugabe-rylaan en Liliencronstraat

Oop Ma.-Sa.: 12 nm.-10 nm.

Kontak 00 264 61 252 946

Die Windhoek-manier

Botha Kruger, ’n bestuurskonsultant van Kaapstad, werk al 18 jaar gereeld in Windhoek.

“In vergelyking met ander stede soos Gaborone en Maputo het Windhoek definitief meer van ’n dorpsgevoel,” sê hy. “Windhoek sluit oor etenstyd, van 1 nm. tot 2.30 nm. Dit is ’n bietjie van ’n Windhoeksiësta. Aanvanklik is dit vreemd vir Johannesburgers en party mense is krities hieroor, maar dis die Windhoekmanier.

“Ek hou van die integrasie in Windhoek. Dit is die hub van Namibië, ’n mikrokosmos van die land. Mense van reg oor die land kom werk hier.”

SPEELTYD

Windhoek is – soos die res van Namibië – ’n plek vir buite speel. Hier kan jy behoorlik bene rek en saam met die gesin ontspan.

Windhoek se Avis-dam is net die regte plek vir ’n Sondagmiddagstappie.

Avisdam

Windhoekers noem die Avisdam hulle “Sondagdam”. Jy sal veral op Sondae laatmiddag baie gesinne, drawwers en honde hier aantref. Die dam is in 1933 voltooi en ongeveer 50 ha groot.

Kom maak jou tuis naby die damwal met ’n piekniekmandjie en ’n verkyker vir voëlsoek.

Waar? 3 km buite die stadskern langs die B6 (lughawepad)

Koste R25 per voertuig

Kontak 00 264 61 255 224; avisdam.org

Die Botaniese Tuin

Kry ’n kaart by ontvangs en volg ’n netwerk van paadjies in dié 12 ha-tuin – die bome en plante is goed gemerk. Moet egter nie Kirstenbosch verwag nie; dis droog in Namibië...

Wees op die uitkyk vir kokerbome en ’n digte versameling van die Windhoek-aalwyn, die simbool van die stad.

Oop Ma.-Vr.: 8 vm.-5 nm.; Tweede Sa. van elke maand van 8 vm.-11 nm.

Waar? Orbanstraat 8

Toegang Gratis

Kontak 061 202 9111

Kokerboom, Botaniese Tuin

Katu Tours

Meer as twee derdes van Windhoek se inwoners bly in Katutura. Verken dié township teen ’n luilekker pas op ’n bergfiets saam met Katu Tours.

Trap deur die bedrywige Evelynstraat, die Soweto Mark en Sinhle Quarters waar jy kapana (braaivleis) kan eet.

Waar? H.v. Independencerylaan en Abraham Mashegostraat

Wanneer? Toere vertrek Di.-So. om 10 vm.

Koste R750 p.p. (2 tot 20 mense per groep)

Kontak 00 264 61 21 0097; katutours.com

Daan Viljoen-wildreservaat

As jy Windhoek se stadslewe wil systap, hoef jy skaars 20 km te ry na die Daan Viljoen-wildreservaat tussen die heuwels van die Khomas Hochland-berg.

Jy kan oornag by die Sun Karros Lodge of as dagbesoeker die 6,5 km-wildkykroete ry en foto’s van blouwildebees, springbok, Hartmann se bergsebra, kameelperd en eland op jou Instagramprofiel deel. Hier is ook twee staproetes.

Waar? 18km buite Windhoek, langs die C28

Koste Dagbesoekers R30 p.p.; R10 per voertuig

Kontak 00 264 61 232 393; sunkarros.com

KULTUURTYD

Teatergangers en boekwurms skuif nader!

Suzy Eises, ’n Namibiese saxofoonspeler, in aksie by die Warehouse Theatre.

Warehouse Theatre-kompleks

Dié teater bied musiek-, teater- en komedievertonings aan van Namibiese én Suid-Afrikaanse kunstenaars.

By The Boiler Room langsaan is dit Dinsdagaande karaoketyd wanneer Prince se “Purple Rain” en Bob Marley se “Three Little Birds” oor die luidsprekers weergalm. En op Vrydae en Saterdae hou die plaaslike Afro-pop groep Mashura die gaste aan die dans tot laat. The Loft is ook deel van die kompleks.

Waar? Talstraat 48

Oop Slegs vir konserte. The Boiler Room en The Loft: Ma.-Sa.: 4 nm.-laat

Kontak 00 264 61 402 253

Xwama Cultural Village

Dié kuierplek is in die Katutura-township. Sit met jou voete in die sand, sluk die alkoholiese brousel oshikundu en luister na tradisionele stories en liedjies. Op die spyskaart is onder meer bok- en skaapkop, bonesop en mopaniewurms.

Waar? Hoek van Omongostraat en Independencerylaan

Oop Ma.-Do.: 11 vm.-9 nm.; Vr.-Sa.: 11 vm.-11 nm.; So. 11 vm.-7 nm.

Kontak 00 61 210 270

Twapewa Kadhikwa (links), eienaar van Xwama Cultural Village, en Meke Hedimbi, ’n werknemer, wys van die aandenkings wat jy hier kan koop.

Uncle Spike’s Book Exchange

Dié boekruilwinkel was vroeër deel van Neville Edgar Bauser, oftewel “Uncle Spike”, se speelgoedwinkel in Kaiserstrasse (nou Independence-rylaan). Buiten boeke in elke genre is hier klassieke Namibiese boeke van skrywers soos Doc Immelman, Jan Spies en W.A. de Klerk.

Waar? Op die hoek van Tal- en Gartenstraat

Oop Weeksdae: 8 vm.-5.30 nm.; Sa.: 8 vm.-1 nm.

Kontak 00 264 61 226 722

Wat nog? Op die hoek van Hosea Kutakolaan en Puccinistraat is The Book Den, ’n meer moderne boekwinkel. Ma.-Vr.: 9 vm.-5 nm.; Sa.: 9 vm.-1 nm.; 00 264 61 239 976 

Wat sê Windhoekers?

“Ek woon al sedert 1982 in Windhoek. Dit voel nie soos ’n stad nie – dit is meer persoonlik. Windhoek se gematigde klimaat is ook vir my die beste in Namibië. Dit is nie so warm soos in die noorde of mistig soos by die kus nie. In die somer geniet ek dit om buite te sit by lekker restaurante soos Die Wilde Eend en Que Tapas. Die kultuurlewe is ook lewendig – vanjaar vind ons sesde Woordfees plaas. Windhoek is die plek waar ek wil oud word en vir die res van my lewe bly.” – Susan Alexander, dosent

“Die Warehouse Theatre is Windhoek se kultuurhoofkwartier. As iets hier nie op die Warehouse se verhoog was nie, het dit nie gebeur nie. Die koerantwerk hou my besig, maar ek geniet ’n sundowner by The Loft, ook by die Warehouse. Al wat ek regtig mis in Windhoek, is Uber.” – Lloyd Zandberg, skrywer en kunsredakteur by Republikein

“Ek woon al 32 jaar in Windhoek. Dit bly een van die skoonste stede in Afrika. Ek geniet ook die buitelewe buite die stad, soos die staproetes by die Daan Viljoen-wildreservaat. En die restaurante vergelyk baie goed met ander groot stede. Ek geniet The Social se Mediterreense flair en die Indiese kos by Garnish in Klein-Windhoek.” – Willie Olivier, media-opleier en vryskutjoernalis

Stoep van hotel thule

SLAAPTYD

Windhoek en omstreke het ’n groot aantal blyplekke. Hier is ’n paar van ons gunstelinge.

Urbancamp.net

Hierdie netjiese, boomryke kampplek bied goeie waarde vir geld én jy’s vyf minute se stap van Joe’s Beerhouse af! Elke kampplek het ’n afdak. Hier’s ook netjiese permanente tente.

Dis ’n gesellige plek met ’n swembad, gratis Wi-Fi en ’n restaurant met Duitse geregte soos Leberkäse (Google dit!). Bespreek vooraf, want dis baie gewild.

Waar? Schanzenstraat 2

Koste Kamp R160 p.p. Tent met twee enkelbeddens vanaf R490 p.n.

Kontak 00 264 61 244 251; urbancamp.net

Arebbusch Travel Lodge

Hierdie lodge langs die Eros-lughawe is skaars 7 km van die stadskern af, maar voel pure bos met akasia- en doringbome op die groot terrein.

Die lodge is gewild onder Suid-Afrikaners – kamp, bly in ’n selfsorgeenheid of verras jou maat met ’n aand in een van die luukse dubbelkamers. Hier is ’n groot swembad en ’n restaurant op die perseel.

Waar? Op die hoek van Golf- en Auasstraat

Koste Kamp vanaf R135 p.p.; Selsorg vanaf R1255 p.n. vir 2 gaste. Dubbelkamer vanaf R1 270 p.n. (ontbyt ingesluit).

Kontak 00 264 61 252 255; arebbusch.com

Klein-Windhoek Guesthouse

Dié gewilde gastehuis is in ’n stil straat in Klein-Windhoek, sowat vyf minute se ry van die stadskern af.

Die personeel is gaaf en jy kan by hulle Riverview Bar and Restaurant langs die swembad op die dek sit en weglê aan van die lekkerste pizzas in Windhoek.

Waar? Hofmeyerstraat 2

Koste ’n Dubbelkamer R1 300 p.n. (ontbyt ingesluit). Gesinskamers (4 mense) vanaf R1 600 p.n. (ontbyt ingesluit). Selfsorg ook beskikbaar.

Kontak 00 264 61 239 401; kleinwindhoekguesthouse.com

’n Nuwe inwoner vertel

Karin Eloff, ’n skrywer en joernalis van Johannesburg, het in Desember 2016 saam met haar tienerdogter in Windhoek kom woon. Karin werk tans as ’n subredakteur by Republikein.

“Windhoek se kleurskema is iets wat uitstaan. Alles is hier om een of ander rede ’n skakering van sandkleurig of bougainvillea-pienk. Ek het ook nog op geen ander plek gebly waar mense jou waarsku om nie te ver met jou honde te gaan stap nie – nie omdat jy aangerand kan word nie, maar omdat die luiperds of bobbejane glo lus is vir jou diertjies.

“Dit is natuurlik omdat die arme wilde diere weens droogte al nader aan die voorstede kom vir kos en water. Windhoek is nie Windhoek sonder droogte nie.

“Die stad se veiligheid, veral in vergelyking met Suid-Afrika, is ’n groot bate. Ek hoef nie tuis met ’n paniekknoppie om my nek rond te loop nie en ek kan saans uitgaan sonder om gekaap te word. Hier is wel misdaad in Windhoek, maar dit is heelwat minder gewelddadig. Dit maak ’n groot verskil aan ’n mens se gemoed.

“In Windhoek kry jy alles wat jy nodig het. Hier is ook tattoo artists, bubble tea, dokters, hospitale en koel mense.

“Wat wel ’n aanpassing is, is dat ’n mens nie meer anoniem is nie. Waar jy ook al gaan, loop jy iemand van jou werk of die skool raak. Dus kan jy nie in die openbaar loop en gesigte trek of ’n tantrum gooi nie, want die hele Windhoek sal daarvan hoor.”