Die meeste kinders wil hulle eie boomhuisie hê... Wel, deesdae het boomhuise braaiplekke, wit linne en spoeltoilette vir kinders én grootmense. Ja, party het selfs ’n watergat. Kom, klim saam!

1. Kameeldoring, Mokala- nasionale park

Kameeldoring-boomhuis, Mokala- nasionale park. Foto: Willem van der Berg

Op die stoep van die Kameeldoring-boomhuis hoef jy glad nie te kommer oor sonbrand nie, want bo jou kop is ’n groen sambreel van fyn blaartjies. Van waar jy by die tafel sit en teug aan jou oggendkoffie (en van die braaiplek af) het jy ’n mooi uitsig oor ’n watergat. Ja, jou eie watergat, net 50 m van die boomhuis af.

Hier kom kort-kort springbokke, wildebeeste, bastergemsbokke, swartwitpense, rooihartbeeste, koedoes en vlakvarke water suip. Rondom jou gesels versamel- en neushoringvoëls oor ditjies en datjies. Die boomhuis is ’n entjie van die naaste roete af, dus pla niemand jou nie.

Klik hier om die volle artikel te lees


2. Cedarscape, Citrusdal

Iewers aan die voet van die Olifantsrivierberg staan ’n populierbos op die oewer van die gelyknamige rivier.

In dié bos sit jy hoog bo in die takke op ’n houtdek en kyk hoe twee gewone janfrederikke mekaar jaag. Dié aksie gebeur teen ooghoogte, want die dek waarop jy sit is deel van ’n boomhuis. Cedarescape is eintlik ’n boomhuisbackpackers. Plankiespaadjies verbind vyf dubbelkamers met ’n gemeenskaplike badkamer.

Terwyl jy op dié plankiespaadjies stap, verwag jy dat ’n Avatar-agtige nimf by jou gaan verbyswiep. 

Klik hier om die volle artikel te lees

Cedarscape, Citrusdal. Foto: Esma Marnewick


3. Bona Ntaba Tree House, Hoedspruit

Dis nie elke dag dat jy in ’n grootmens-weergawe van ’n boomhuis kan bly nie, én met wild wat onder op die grond rondloop.

Van die stoep af van een van Bona Ntaba se vier het jy ’n uitsig oor die bosveld en op ’n helder dag ook die Noordelike Drakensberg.  Elke boomhuis is rondom ’n regte boom gebou. Giraffe is byvoorbeeld gebou rondom ’n maroelaboom. Die takke krul deur die klein stoep, slaapkamer en badkamer. 

Klik hier om die volle artikel te lees

Bona Ntaba Tree House Lodge, Gernseuy-privaatnatuurreservaat, Hoedspruit. Foto: Shirell Lynch


4. Ngepi Camp, Okavangorivier, Namibië

A, Ngepi! Hierdie bly een van Weg se gunsteling-plekke vir laaglê.

Jy kan ook hier kamp, maar hulle boomhuise is besonders: Elkeen staan met voete in die Okavangorivier! Die huisies is só ontwerp dat jy die son tussen jou tone sien opkom as jy op die bed lê. Dié boomhuise is wel soms tussen bome gebou, maar staan eintlik op pale. Wanneer die Okavangorivier vol is, kabbel die water skaars ’n halfmeter onder jou houtstoepie!

Ek is al hier wakker gekekker deur ’n reusevisvanger skaars drie meter van my bed af. Die roep van ’n visarend iewers naby is ook gewaarborg.

Bring jou verkyker: Jy kan op jou stoep sit en voëls kyk, en selfs oorkant die rivier soms olifante, buffels en ander wild sien rondbeweeg.

Klik hier om die volle artikel te lees

Ngepi Camp, Okavangorivier, Namibië. Foto: Toast Coetzer


5. Teniqua Treetops, Sedgefield

In 2002 het Viv en Robyn Patz die korporatiewe lewe in Johannesburg gegroet en diep in die Knysnawoud kom woon.

Hulle het aanvanklik in ’n woonwa gebly en oor die jare heen Teniqua Treetops opgebou tot een van die gewildste blyplekke langs die Tuinroete.

Die boomhuise, wat tot sowat 8 m hoog in die inheemse woud staan, met uitsigte oor die Outeniekwaberg, is gewild onder wittebroodpaartjies.

Maar hier is ook eenhede vir gesinne. Teniqua Treetops is trots ekovriendelik: Jy drink rëenwater en was met rivierwater en die enigste grassnyers is die perde. 

Klik hier om die volle artikel te lees

Teniqua Treetops, Sedgefield. Foto: Lloyd Louries


6. Anna’s Country Accommodation, Greyton

Anna’s Country Accommodation lê in die hartjie van Greyton aan die voet van die Riviersonderendberg.

Die minder avontuurlustige reisiger kan lêplek kry by een van drie selfsorgkothuise, maar Anna se ware trekpleister is die boomhuis. Die boomhuis is versteek in die takke van ’n statige ou eikeboom. Die tuin is so ruig jy vergeet skoon dat jy in die middel van ’n dorp bly.

Hier kan jy wegkom van die geraas van die stad, maar steeds winkel toe stap vir ’n plak sjokolade of vars brood.

Klik hier om die volle artikel te lees

Anna’s Country Accommodation, Greyton. Foto: François Haasbroek