Die Weskus adverteer homself nie wyd nie. Hier word nie van dakke af geskree nie – die landskap en sy mense kom kruip stadig onder jou vel in.

Dis in die sout snoek-en-tjips gemaak van aartappels uit die Sandveld, wat jy sit en eet in jou kar iewers op ’n kaai. Dis in die ooptes waardeur jy ry, en die wilde, yskoue Atlantiese Oseaan wat altyd iewers op die gesigseinder wag. Dis wanneer mense jou hand stewig skud, jou in die oë kyk en vra hoe dit met jou gaan.

Op hierdie agt dae lange toerplan gaan jy daai mense ontmoet en hope seekos eet. Jy kan die toerplan maklik uitrek tot twee weke of, as jy haastig is, kan jy dit in vyf dae ook kadraf. Maar moenie te haastig wees nie...

Jy kan dié roete met enige kar aandurf. Daar is wel grondpaaie; dus kan jou kar se pens nie te laag hang nie. Jy kan die Weskus enige tyd van die jaar besoek. Sit in die skaduwee as dit warm is. Stoot die deur toe as die wind waai. Trek ’n trui aan as die mis van die see af inrol. En sê dankie as dit reën. 

Wat gaan ek sien?
  • Weskus- nasionale park
  • Langebaan
  • Kaap Columbine
  • Paternoster
  • Velddrif
  • Bergrivier
  • Rocherpan
  • Elandsbaai
  • Lambertsbaai
  • Doringbaai
  • Papendorp
  • Hondeklipbaai
  • Kleinzee
  • McDougallsbaai
  • Port Nolloth

DAG 1

Weskus- nasionale park

Begin in Kaapstad en vat die R27. Was jy lanklaas in Bloubergstrand? Hou stil langs die see en kyk vir Tafelberg soos jy hom ken van Instagramfoto’s. Ry dan voort met die R27 tot parallel met Melkbosstrand – draai regs in by The Farmyard by die Total, waar jy tipiese padstalproviand kan aankoop vir jou reis.

Op Yzerfontein kan jy oefen vir die groot eet wat voorlê op jou toer by Beaches-restaurant, reg teen die see. Beaches is net oop vir middagete – pak ’n bord calamari-en-skyfies (R145) weg en gaan stap kaalvoet op die strand. As jy ontbyttyd al op Yzer aankom, mik vir Wild Flour Coffee Shop (Buitekantstraat 51).

Die afdraai na die Weskus- nasionale park is sowat 18 km noord van Yzerfontein.

Die park beskerm skaars strandveld, sandvlaktefynbos en ’n groot deel van die Langebaan-strandmeer. Dié strandmeer lok veral in die somermaande groot getalle waadvoëls soos die grysstrandkiewiet, krombekstrandloper en knoete.

In die blommeseisoen (Augustus en September) is die veld rondom Seeberg en veral in die Postbergdeel van die park oortrek met gousblomme (wittes, geles, perses...). Eland en rooihartebees is volop en as jy gelukkig is, gewaar jy ’n rooikat of Kaapse grysbok.

As jy middagete al hier is, gaan eet gerus by die Geelbekrestaurant by die park se inligtingsentrum. Ry dan verby Churchhaven tot waar die pad eindig by Tsaarsbank.

Draai daar om en gaan lê in die water by Kraalbaai. Neem ’n foto van Die Preekstoel, ’n interessante rotsformasie. Daai huisbote wat jy daar sien? Ja, jy kan daar ook slaap vanaand...

Weskus
Kraalbaai-huisbote
BLY HIER

DUINEPOS

Hier word jy wakker met ’n voëltjie wat gisteraand se vetjies van die braairooster af pik. Die 11 selfsorghuisies het plek vir 4 of 6 mense elk. Hier’s ook ’n swembad en klouterpark vir die kinders.

Koste Vanaf R1 135 p.n. vir 2 mense; R1 488 p.n. vir 4 mense; R100 per ekstra persoon. Sluit een gratis bondel braaihout in. Pryse styg in Augustus 2019.

022 707 9900; duinepos.co.za

KRAALBAAI-BOTE

Toemaar, jy hoef nie ’n skipperlisensie te hê nie! Dié drie bote is permanent vasgemeer in Kraalbaai – jy vaar soontoe in ’n kleiner bootjie.

Koste Larus (plek vir 6): R2 600 p.n., Serenity (plek vir 6): R3 100 p.n. en Nirvana (plek vir 22) kos R12 700 p.n. Al drie bote is selfsorg. Dis halfprys in Mei, Junie en Julie (onthou, dis winter).

076 017 4788 (Martin); kraalbaailuxuryhouseboats.com

ABRAHAMSKRAAL

Hier is vier opgeknapte selfsorgkothuise in die park. Drie is naby die Geelbek-inligtingsentrum terwyl Abrahamskraal (slaapplek vir 6) op sy eie in die veld staan naby die gelyknamige watergat. Hier’s geen kragpunte nie, en as boorgatwater jou pla, moet jy jou eie drinkwater bring.

Koste R2 003 p.n. vir 4 mense, R384 per ekstra volwassene, R192 per ekstra kind jonger as 12 jaar. Oor naweke moet jy Vrydag en Saterdagaand bespreek.

012 428 9111; sanparks.org

Weg sê Al dié blyplekke is in die park, en daarom geld daaglikse bewaringstariewe; R59 p.p. en R30 per kind jonger as 12 jaar.

In die blommeseisoen (Aug./Sept.) verhoog dit tot R83 en R42.

Hektye: 7 vm.-5.30 nm. van April tot Augustus, en tot 6.30 nm. in ander maande. 

EET HIER
  • The Farmyard-padstal: 021 553 2563
  • Vygevallei-padstal: 074 138 1610
  • West Coast-padstal: 071 658 9167
  • Beaches-restaurant: 022 451 2200
  • Wild Flour Coffee Shop: 022 451 2315
  • Geelbek-restaurant: 084 406 7434
DOEN DÍT

STAP IN DIE VELD

!Khwa ttu is langs die R27 net voor jy by Yzerfontein se afdraai kom. Dis ’n kultuur-en-opvoedingsentrum. Hier is ook kort staproetes (1-4 km) en jy kan elande sien. Bestel ’n piekniekmandjie as jy in die veld wil eet of bespreek ’n begeleide staptoer saam met ’n San-gids wat jou van die veld en die plante leer. Hier is ook ’n restaurant, gastehuise en tentkamp.

Toegang R50 p.p. (R40 vir kinders 12-18 jaar, gratis vir kinders jonger as 12)

022 492 2998; khwattu.org

KYK FOSSIELE

Sowat vyf miljoen jaar gelede was die Weskus ’n plek waar groot diere met lang tande rondgesluip het – hier was selfs bere! Kom kyk by die Weskus-fossielpark na fossiele en uitgrawings. Begeleide toere is 45 minute lank en kos R80 p.p. (kinders, studente en senior burgers kry afslag). Bel vooraf om te bespreek en seker te maak dat dit oop is.

022 766 1606; fossilpark.org.za

Weskus
Paternoster

DAG 2

Kaap Columbine en Paternoster

Ry na die Seeberg-uitkykpunt, kyk vir oulaas uit oor die Weskus- nasionale park en volg dan die teerpaadjie na die Langebaanhek.

Jy ry dadelik die dorp binne. Draai links wanneer jy Breëstraat bereik, in die rigting van die strandmeer. Parkeer voor Pearly’s of Driftwoods en bestel koffie. Sien jy daai eiland in die meer? Dis Schaapeneiland. Dis ’n lang storie, maar hier is ’n kolonie hasies op die eiland... bespreek ’n kajakvaart soontoe met Gravity Adventures om hulle te bekyk.

Langebaan, Saldanha en Vredenburg is besige dorpe. Ontsnap uit die verkeer en korrel vir Jacobsbaai of Paternoster met hulle witgepleisterde huisies.

Sorg dat jy laatmiddag op Paternoster se strand is – dis pret om te sien wanneer die visserskuite inkom ná ’n dag op die water. Kuier vanaand tuis as jou selfsorgplek lekker toegerus is, anders kan jy by verskeie restaurante op die dorp eet.

Weskus
Sea Shack
BLY HIER

KAAP COLUMBINE

As jy stilte soek, kom hou jou lyf vuurtoringwagter in een van drie selfsorghuise net agter die vuurtoring. Saans is dit net jy, die gesuis van die see en die lig wat deur die donker swiep.

Koste Twee van die huise het slaapplek vir 6 mense: R1 300 p.n. in Mei en Augustus. Ander maande: R1 800 p.n. Die ander huisie is vir 2 en kos R1 000 p.n., heeljaar.

021 449 2400; lighthouse.tourism@transnet.net; stayatlighthouses.com

SEA SHACK

Hier naby Kaap Columbine voel dit asof jy op ’n afgesonderde eiland uitgespoel en gou ’n huisie met tamatiekissieplankies aan mekaar getimmer het. Die eenhede is klein, maar dis net vir slaap.

Hier is ’n gemeenskaplike kombuis, kuiergedeelte en badkamers.

Koste 10 eenhede: R790 p.n. vir 2 mense. Drie permanente tente: R500 p.n. vir 2 mense. Spongebob Baby Unit R895 p.n. vir 2 volwassenes en 2 klein kinders. Bring jou eie handdoeke.

079 820 6824 (Frank); seashack.co.za

KLEIN-PATERNOSTER

Hier is hope blyplek op Paternoster, maar ons beveel hierdie aan omdat ons baie lekker hier gebly het! Dis ’n paar strate van die see af, maar dit beteken ook dis in ’n stiller straat. Boonop woon ’n uil in die tuin – vra dat iemand jou wys.

Koste 6 selfsorgeenhede met slaapplek vir 2 tot 6 mense: Vanaf R500-R800 p.n. vir 2 mense, en dan R100-200 per ekstra persoon. Van 5 Desember tot 15 Januarie – en oor Paasnaweek – is die pryse hoër.

082 804 2500 (Pikkie); kleinpaternoster.com

SWARTRIET BEACH CHALETS

Dié gewilde gesinsoord op ’n plaas met sy 30 selfsorghuisies is sonder fiemies. Swem, ry branderplank of stap strandlangs die 2½ km tot op Jacobsbaai.

Koste Country Cottages (vir tot 6 mense): Vanaf R910 p.n. Kyk op die webwerf vir ander opsies, asook spesiale aanbiedinge vir senior burgers.

022 715 4044; swartriet.com

Weskus
Kaap Columbine-vuurtoring
DOEN DÍT

KAJAKVAART

Die Schaapeneilandvaart (sowat 2 uur) by Langebaan kos R650 p.p. (tot 4 mense, daarna is dit goedkoper). Hulle bied ook kajakvaarte in die Weskus- nasionale park aan vanaf R995 p.p. (4 uur).

021 683 3698; gravity.co.za

BESOEK ’N VUURTORING

By Kaap Columbine-vuurtoring is ’n museumpie, én jy kan in die toring opklim! Dis oop weekdae van 10 vm.- 3 nm. R16 vir volwassenes en R8 vir kinders jonger as 12.

022 752 2705

EET HIER

Langebaan Driftwoods: 022 772 1413

Pearly’s: 022 772 2734

Jacobsbaai Charlie’s Deli & Café: 073 873 2226

Paternoster Voorstrandt: 022 752 2038

Blikkie Pizzeria: 079 598 8616

Mondvol-koffiewinkel: 073 939 0186

DAG 3

Velddrif en Rocherpan

Volg van Paternoster af die grondpad na St. Helenabaai en draai in by die hawe. Koop vis-en-tjips by BP Marine Fish Products en gaan eet teen die kaai. Jou stukkie vis het tien teen een hier aan wal gekom, en die aartappels kom uit die aanliggende Sandveld.

Jou volgende bestemming is Velddrif. Die dorp het een voet in die see, en een in die Bergrivier. Deel daarvan is Port Owen, die vakansiedorp vir ouens met seiljagte, en Laaiplek is weer pure eelthandevistermanne. Gaan kyk hoe lyk al twee kante.

In Bokkomlaan teen die Bergrivier is ’n eetplekkie (sien kassie) en jy behoort ook ’n bossie bokkoms vir padkos te kan koop. Wees op die uitkyk vir ’n pelikaan en die spannetjie ganse wat hier hou, of draai jou verkyker oor die rivier se vloedvlakte en soek flaminke.

Klok hierna in by die Rocherpan-natuurreservaat sowat 25 km verder noord. Hier is drie netjiese voëlskuilings rondom die pan (dis ’n seisoenale vleiland, droog tussen Maart en Junie). Somermaande klink dit erger as ’n kerkbasaar hier – elke voël wil sy fluit laat hoor. Mik reguit vir die braaiplek by die tweede voëlskuiling. Terwyl Pa die vuur aansteek vir worsrolle, kan die res verkykers uithaal en soek vir onder meer flaminke (groot- en klein-), kleindobbertjies en Kaapse slopeende.

Kom stap laatmiddag langs die aangrensende strand (net oor die duin). ’n Swerm trekduikers drom gewoonlik saam by die waterrand totdat jy te naby kom en laat spaander dan in ’n swart boemerang bokant die branders.

BLY HIER

ROCHERPAN-NATUURRESERVAAT

Die selfsorghuisies is slim ontwerp – die kuier-en-leefdeel het groot glasdeure en -vensters en hier’s ’n kaggel. Vier van die huisies het slaapplek vir 2 volwassenes en 2 kinders (op ’n futon). Die ander 4 huisies het slaapplek vir 6 mense. Die strand is nie swemvriendelik nie, maar hier is ’n swembad en klimraam vir die kinders.

Koste Vanaf R850 of R990 p.n. vir 2 mense, en dan betaal jy ekstra vir bykomende persone. Kinders en senior burgers kry afslag. Dagbesoekers: R50 p.p. en R30 per kind 4-17 jaar (gratis vir jonger as 4). 021 483 0190; 079 203 1092; capenature.co.za

Weg sê Pak jou verkyker en voëlboek in wanneer jy Weskus toe kom. Die verkyker is ook goed vir wanneer jy iewers by die see sit en vir die bote doer ver wil kyk.

EET HIER

St. Helenabaai

  • BP Marine Fish Products: 022 736 1246

Laaiplek

  • Eigebraai-restaurant by die Laaiplek-hotel: 022 783 1116
  • Velddrif (Bokkomlaan) Ek & Djy-vissery: 082 331 1171
  • Die Vishuis: 066 263 9046

DAG 4

Elandsbaai

Staan vroeg op en sit vir oulaas by een van die skuilings of drink koffie op jou stoep en kyk hoe Kaapse kanaries sake doen in die fynbos.

Net ’n paar kilometer buite Rocherpan kom jy by ’n T-aansluiting. Draai links en jy’s binne 4 km by Die Skooltjie-padstal. Dis ’n ware vonds: Jy’ t sitplek buite, lugreëling binne, rakke vol ingelegde lekker dinge, draairoomys, pasteie... Hierdie is ook die kortste pad Elandsbaai toe, en als teerpad.

Draai egter regs (grondpad) by die T-aansluiting – rigting Aurora – indien jy iets van die binneland en sy mense (koring-, aartappel- en veeboere) wil ervaar. Ry na Aurora en dan Redelinghuys waar jy weer die R366-teerpad kry. Volg dit seewaarts en jy kom by Elandsbaai uit. Die bonus van hierdie roete is dat jy vir 30 km al langs die Verlorenvlei ry – nog ’n voëlparadys.

Die Bobbejaanberg lê suid van die vlei, en waar dié berg die see ontmoet, lê Elandsbaai. Die dorp is ’n gunsteling onder Kaapse branderplankryers, en by die Wit Mosselpot kan jy aansit vir iets te ete en jou ore spits oor wat die surfer by die tafel langsaan te sê het oor die branders.

Ry laatmiddag na Bobbejaanpunt, verby die kreeffabriek tot waar jy kan stop en opstap na die rotsoorhang waar mense in die Steentydperk – nes jy, nou – sit en kyk het hoe die son oor die see sak.

BLY HIER

VENSTERKLIP-GASTEPLAAS

Hier is kampplek en verskeie selfsorghuise. Vensterklip is sowat 5 km binneland toe – dit kyk uit oor Verlorenvlei.

Koste R850 p.n. vir die Flip Flop-backpackerseenheid (slaapplek vir 4), R1 800 p.n. (4 volwassenes en 2 kinders) en R3 500 p.n. vir die gerestoureerde ou plaashuis, Louw’s Manor (8 volwassenes, 2 kinders). Daar is ander opsies ook – sien webwerf. Kamp: Vanaf R275 p.n. vir 5 mense. Privaatstaanplekke: R575 p.n. vir 5 mense.

022 972 1340; vensterklip.co.za

ELAND'S BAY GUESTHOUSE

Dis in die dorp op die pad na Bobbejaanpunt, jy behoort dus ’n brander te hoor breek saans. Dis lekker vir groot groepe vriende wat iets wil vier op ’n naweek weg.

Koste Gastehuis: Vanaf R3 325 p.n., slaapplek vir 14 mense. Annekseenhede (een vir 4, een vir 5 mense): R1 400 p.n.

022 972 1229; elandsbayguesthouse.co.za

STRAW REVOLUTION

Dié oulike oopplanstrooibaalhuis is ’n entjie van die see af en het slaapplek vir 6 mense.

Koste Vanaf R1 100 p.n.

072 130 1755; strawrevolution.co.za 

EET HIER

Op pad

  • Die Skooltjie-padstal: 084 549 3166 (Gretha)

Elandsbaai

  • Wit Mosselpot: 082 496 8931 (Chantal)
  • Elandsbaai-hotel: 022 972 1640
  • Vensterklip: 022 972 1340
  • DAG 5

    Lambertsbaai

    Swenk binneland toe in die rigting van Leipoldtville. Van die Vensterklip-gasteplaas af klim jy ’n bult uit, en daarna moet jy begin kyk (na regs) vir die Vensterklip – ’n klip met ’n “gat” in; so asof dit ’n venster op die blou lug doer agter is. As almal in die kar al koffie gehad het, sal iemand dit weldra raaksien.

    Kort voor jy by Leipoldtville uitkom, bereik jy ’n T-aansluiting. Draai links op die R365-teerpad wat jou langs die Langvleirivier na die see, en na Lambertsbaai lei. (Onthou: Die kortpad wat langs die Sishen-Saldanha-spoorlyn loop, is deesdae gesluit vir die publiek. Jy moet dus die langer pad volg.)

    Ry na die hawe, die hartklop van die dorp. Hier kan jy iets eet by Isabella’s Coffee Shop terwyl jy kyk na die diamant- en vissersbote.

    Stap ná ete al op die hawemuur na die malgaskolonie op Voëleiland. Hier is ’n oulike museumpie en voëlskuiling waar jy kan sit en kyk hoe dié grasieuse voëls by hulle neste kom land.

    Seekos is een van die groot redes hoekom jy teen die Weskus wil kom vakansie hou, en die Muisbosskerm net suid van die dorp het legendariese status onder diegene wat hou van ernstig eet. Dit kos R300 p.p. (jou halwe kreefporsie kos R60 ekstra), en kinders betaal minder (hoe jonger, hoe minder).

    Bespreek vooraf en sit ’n halfdag opsy, want dis ’n ervaring: Kyk hoe hulle die kos berei, eet ’n sarsie, woel jou tone in die see, en smul dan weer verder. Jy kry sommer vyf of ses soorte vis – soos snoek, geelstert, makriel... hier’s ook rooivleis op die spyskaart.

    BLY HIER

    STEENBOKFONTEIN-SEEPLAAS

    Dis sowat 9 km suid van Lambertsbaai (langs die R365). Kitta Burger kook boerekos by Die Plaaskombuis (bespreek vooraf – R180 p.p., en jy gaan éét!). Vra of jy na die geskiedkundige grot op die plaas kan gaan kyk.

    Koste Drie selfsorgchalets op die plaaswerf: vanaf R700 p.n. vir 2 mense, slaapplek vir 6. As jy vooraf reël met Kitta, kan jy dalk jou hond saambring. Dieper die veld in, tussen die lae koppies wat daar lê, is die Weskus Hokkie-, Weskus Grotjie- en Weskus Quarry-blyplek. Die Hokkie: R900 p.n. vir 2 mense. Die Grotjie: R950 p.n. vir 2 mense. Die Quarry het tentblyplek (2 eenhede) wat elk 2 mense huisves teen R500 p.n. Kinders en troeteldiere welkom by laasgenoemde, maar reël vooraf.

    073 178 8433 (Kitta vir Steenbokfontein); 083 702 1414 (Albert vir Weskus Hokkie, Grotjie en Quarry);

    steenbokfonteinaccommodation.co.za; westcoastwonder.com

    EAGLES NEST

    Dis in Lambertsbaai teen die strand, maar ook naby die winkels en restaurante. Bespreek sommer die hele plek as jy en die familie uit Gauteng almal saam wil kuier.

    Koste Vanaf R2 000 p.n. vir een van die 2 groot eenhede (een het plek vir tot 8, die ander vir tot 6). Die drie kleiner woonstelle (vir 2 mense elk) kos vanaf R550 p.n.

    083 458 1575 (Carol); westcoasteaglesnest.co.za

    MALKOPPAN

    Hierdie plaas is by die Muisbosskerm en dus ideaal as jy daar wil eet en nie ver wil ry (of loop) ná ete nie (dalk kan iemand jou met ’n kruiwa huis toe stoot?).

    Koste Huisie vir 2 mense: R750 p.n. Nie toegerus vir selfsorg nie. Die kampterrein is groot (75 staanplekke) en 5 mense mag op elke staanplek kamp – R450 p.n. Jy betaal R75 ekstra p.p. indien julle meer as 5 is. Kragpunte en gemeenskaplike ablusie.

    081 856 9236 (Sharlene); malkoppanfarm@gmail.com

    KOOKFONTEIN WINE

    Dis net 6,5 km oos van die dorp (jy draai af van die R364 op ’n kort stukkie grondpad). Hulle het twee selfsorgkothuise op die plaaswerf. Albei het slaapplek vir 2 mense, maar daar is ook ’n divan waarop ’n kind kan slaap. Die eenhede is teen mekaar en deel ’n stoep wat uitkyk oor die wingerd: In jou yskas wag ’n bottel van hulle witwyn...

    Koste Vanaf R600 p.n.

    082 456 4299 (Theunette); kookfontein.com

    EET HIER

    BUITE LAMBERTSBAAI

    Muisbosskerm is meestal net oop op naweke, maar bel om uit te vind.

    027 432 1017; muisbosskerm.co.za

    Bosduifklip – Jy moet vooraf bespreek, en hulle is net oop wanneer 16 of meer mense bespreek het.

    084 703 8311 (Aletta); bosduifklip.co.za

    IN LAMBERTSBAAI

    • Isabella’s Coffee Shop: 027 432 1177
    • High Tide-restaurant: 022 300 0119
    DOEN DíT

    BELOER VOËLEILAND SE MALGASSE

    Toegang is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders 4-17 jaar (gratis vir kinders jonger as 4).

    071 657 5651

    DAG 6

    Strandfontein

    Net buite Lambertsbaai (in die rigting van Graafwater), draai jy links op ’n grondpad na Doringbaai – dis sowat 55 km se ry. Daar gekom, korrel weer vir die hawe, na Fryer’s Cove (hier word wyn gemaak!). Sit aan by hulle restaurant, The Jetty, en bestel streekkos soos kerrievis en roosterkoek (R85) of snoekkoekies en aartappelskyfies of slaai (R95). Die restaurant is op die kaai van die ou Doringbaai-kreeffabriek en word deur die plaaslike gemeenskap bedryf.

    Oornag in Strandfontein, net 8 km noord van Doringbaai. Strandfontein is die Weskus se besbewaarde geheim. Op pad soontoe lyk die kuslyn plek-plek vaal en ongenaakbaar. Maar sodra jy die beskutte kom van Strandfontein binnery, verander alles, met reusekranse wat bo die see uittroon. Dis móói hier, en jy gaan teen sononder lus voel vir ’n strandstap. Wie weet, dalk duik jy selfs in die see?

    BLY HIER

    STRANDFONTEIN-KAMPTERREINHierdie agtermekaar plek word deur die Matzikama-munisipaliteit bestuur. Dis uitgelê in ’n hoefysterformaat, en min of meer al die 151 staanplekke (met kragpunte) het ’n onverbeterlike uitsig. Hier is ook 10 chalets.

    Koste Kamp: Vanaf R180 p.n. (gemeenskaplike ablusie) of vanaf R290 p.n. (eie ablusie). Jy betaal ook ’n sleuteldeposito (R220). Die chalets met slaapplek vir 4 mense kos vanaf R570 p.n., en dié met slaapplek vir 6 mense vanaf R730 p.n.

    027 201 3437 (vra vir Jackie – bel weer as jy ’n stemboodskap kry; dis net die nommer wat beset is); strandfontein@matzikamamun.co.za

    STRANDFONTEIN-GASTEHUIS

    Hulle het 8 selfsorgeenhede vir 2 tot 7 mense, die meeste kyk uit oor die see. Jy het luukshede soos DStv.

    Koste Vanaf R850 p.n. vir ’n eenheid vir 2, en vanaf R1 350 p.n. vir ’n eenheid vir 7. 027 215 1727 (Hilda); strandfontein.co.za

    EET HIER

    DORINGBAAI

    DAG 7

    Hondeklipbaai

    Hierdie is ’n lang dag op die pad – een roete (draai weg by Lutzville, oor Koekenaap met die R363) is 245 km lank en die ander (oor Vredendal en Vanrhynsdorp) 306 km. Ons stel voor jy ry die effens langer roete, want dan kry jy meer te sien van die Olifantsriviervallei en sy mooi wingerde.

    Maar eers: Net noord van Strandfontein moet jy die paadjie soek af na die strandmeer by Papendorp. Stop by die uitkykpunt en kyk met die verkyker of jy iewers ’n visserman in sy bakkie sien harders vang.

    Volg die R362 in die rigting van Lutzville, maar hou suid van die Olifantsrivier (dis als teerpad) en sluit later by die R363 aan. Die pad loop onder die la-a-ang treinbrug deur wat besonders is om te sien.

    Loer in by die Maskam Brewing Company of ’n wynplaas soos Teubes om iets te eet of jou voorraad aan te vul, of stop by Klawer se Engen waar die N7 on Wine-padstal byna al die streek se wyne aanhou, én ander kleinode soos biltong en droëvrugte. Doen jou inkopies en trek kontant op Vredendal, want Hondeklipbaai is piepklein.

    Wanneer jy op die N7 is, kan jy maar jou Weg Stories-CD in die speler druk en rustig sit en luister terwyl die Knersvlakte verby dryf. Net noord van Garies (gooi brandstof in vir gemoedsrus) ry jy teen die Garieshoogte uit – bo gekom, sien jy die afdraaibordjie na links vir Hondeklipbaai.

    Jy ry deur lieflike (ander sal sê: hárde) Namakwalandheuwels en geleidelik daal jy weer af na die kusvlakte. Voor Hondeklipbaai kry jy Wallekraal op jou pad. Kyk uit vir ’n spierwit kerkgeboutjie so ’n ent van die pad na links, en die bouval van wat eens die hotel was direk langs die pad op regterkant. Stop hier, klim uit en neem ’n paar foto’s.

    Nou is jy reg vir Hondeklipbaai, een van die alleenste dorpe in Suid-Afrika.

    Die klippe wat veronderstel is om soos om ’n hond te lyk is by die polisiestasie. Jy moet maar een oog toeknyp en jouself hard verbeel.

    Gaan klok in by die Honnehokke, en braai daai rol wors wat jy hopelik onthou het om op Vredendal te koop (sien Retshof Vleis in die kassie hiernaas).

    BLY HIER

    HONNEHOKKE RESORT

    Dis ’n instelling op die dorp – en ja, hulle is hondevriendelik. Hier is 6 selfsorgeenhede – hulle kan ook ontbyt verskaf (bespreek) teen R100 per kop.

    Die kunstenaars Deon “Villain” Venter en Madeleine Baumgarten se ateljee is direk oorkant die pad van die Honnehokke. Gaan loer gerus na hulle landskap- en blomskilderye van die omgewing.

    Koste Dit kos R700 p.n. vir huisies wat slaaplek het vir 3 mense, en R850 p.n. vir groter eenhede vir 5 mense.

    079 161 6319 (Esmé); honnehokke.co.za

    FISHERMAN'S COTTAGE

    Hierdie groot selfsorggrasdakhuis kyk uit oor die baai.

    Koste R1 200 p.n. vir 4 mense. (Dit styg tot R1400 p.n. van Augustus af.)

    082 814 4641 (Jolandie); stay@honneklip.co.za

    EET & KOOP HIER

    VREDENDAL

    • Maskam Brewing Company: 082 328 0119 (Maree); maskambrewing.co.za
    • Die Keldery-restaurant: diekeldery.com
    • Teubes Wines: teubeswines.co.za
    • Retshof Vleis het twee takke: Een by Sentrale Weg 6, Vredendal, en die ander net langs die dorp naby Namaqua-wyne se groot Vredendal-kelder net noord van die Olifantsrivier. 027 213 1434

    teubeswines.co.za

    • N7 on Wine-padstal: 027 216 1141

    HONDEKLIPBAAI

    • The Shack-restaurant: 064 894 4548 (Sanette)
    • Rooi Spinnekop-restaurant: 079 695 2120 (Annamarie) 
    • Dop en Kreef-restaurant: 083 281 8327 (Lohana) 
    • Sam’s Restaurant: 071 797 9435 (Sam)

    DAG 8

    Kleinzee, Port Nolloth & McDougallsbaai

    Net buite Hondeklipbaai draai jy noord na Koingnaas (jy spreek dit uit: Koinas), ’n diamantmyndorpie waar nie veel gebeur nie. Vat van hier af spoor Kleinzee toe, wat onlangs ’n tweede asem gekry as onwaarskynlike aftreedorp. Hier raak jy só rustig jy vergeet jou verjaardag.

    Dit lê effe tru van die see – tussen die strand en die dorp is die grond dekades lank omgedolwe in die soeke na blink klippies. Besoek die museum om meer te leer oor die dae toe diamantkoors dik geloop het. Dit loop eintlik nog steeds met onwettige, informele mynery wat in 2018 weer in die nuus was...

    Eet middagete by Die Blikbeker in Clarke-straat. Bestel vis-en-tjips (met slaai), of ’n burger (“so groot soos ’n piering”) met tjips en slaai teen R60 elk.

    Druk andersins deur na Port Nolloth. Dis ’n grondpad wat deinings maak. Soms sien jy mynboubedrywighede na links, maar verder is dit net jy en jou gedagtes en dalk ’n bleeksingvalk.

    Port Nolloth is diamantwêreld, en daar’s geen beter persoon as die ouddiamantduiker George Moyses om jou meer hiervan te vertel nie. George is eintlik kurator by die dorpsmuseum, maar dit is tans gesluit.

    Intussen kan jy sommer by sy huis inloer op McDougallsbaai waar hy jou met staaltjies vermaak. Gaan stap langs die strand nadat jy by George was en steek later ’n vuurtjie aan. Klink vir oulaas ’n glasie Kookfontein Sauvignon Blanc op die Weskus!

    Môre kan jy verder noord ry na Alexanderbaai of op jou hakke draai en huiswaarts keer.

    Nou het jy die Weskus “gedoen”. Maande later gaan jy telkemale onverwags verlang. Na Langebaan se blou strandmeer, of Paternoster se son op die water. Dalk na Lambertsbaai se bord vol seekos of Strandfontein se sandsteenkranse...

    Toemaar, dié plekke gaan nêrens heen nie: Hulle wag dat jy weer kom bladskud.

    Die Weskus is ’n vakansiebestemming; dus styg pryse in die seisoenstyd. Ons gee meestal die buiteseisoenspryse in dié artikel.

    BLY HIER

    KLEINZEE: THE LAZY WHALE

    Hierdie gerieflike selfsorghuis is aan die westekant van die dorp, en jy kyk see toe. Die Crazy Crayfish-restaurant is op dieselfde perseel.

    Koste R1 000 p.n. slaapplek vir 6.

    073 547 4948 (Natalie)

    MCDOUGALLSBAAI: DIS AL

    Dié vier kompakte, netjiese selfsorgeenhede is stapafstand van die see af.

    Koste Vanaf R725 p.n., slaapplek vir 4 mense.

    081 371 6258 (Lynette); disal@telkomsa.net

    MCDOUGALLSBAAI: WOONWAPARK

    Nader aan die see kan jy nie slaap nie. Hier is 98 staanplekke (met krag), 14 selfsorghuisies en een igloe (ja, wraggies!).

    Koste Kamp: Vanaf R180 p.n. vir 5 mense. Selfsorghuis: Vanaf R574 p.n., slaapplek vir 5 mense; vanaf R753 p.n slaapplek vir 2 mense. Igloe: Vanaf R326 p.n., slaapplek vir 3 mense.

    027 851 1110 (Ria)

    PORT NOLLOTH: BEDROCK LODGE

    Dis langs die museum, teenaan die see. Hulle het verskeie kamers en ’n paar kothuise.

    Koste Vanaf R550 p.p. wat deel (met ontbyt), of vanaf R450 p.p. (selfsorg). Wanneer julle meer as 2 mense is, raak dit goedkoper. Kinders kry afslag.

    027 851 8865 (Mike); bedrocklodge.co.za

    PORT NOLLOTH: THE BEACHHOUSE

    Hierdie geskiedkundige selfsorghuis (gebou in 1874) het plek vir 12 mense en is reg teen die see.

    Koste Vanaf R900 p.n. vir 2 mense, R1 450 vir 5 of meer mense. Die kleiner kothuis het plek vir 2 grootmense en 2 kinders en kos R800 p.n.

    portnollothbeachhouse.co.za

    Weg sê Hier’s ook ’n oulike plekkie in Kleinzee. kleinzeebeachcottage.co.za

    EET HIER

    KLEINZEE

    Die Blikbeker – gesluit op Sondae: 082 709 0047

    Crazy Crayfish – dis slegs oop vir aandetes (gesluit op Sondae en Maandae): 073 547 4948

    PORT NOLLOTH

    Mar-e-sol: 072 010 3871 (Rozanne)

    Vespetti: 027 851 7843 (Brenda)

    Weg sê Koop braaivleis en roosterkoek by Emma Seas se stalletjie naby die Spar in Port Nolloth. Sy is ’n Weskus-orakel. Jy gaan met ’n glimlag wegstap. Ondersteun haar projek met ’n skenking.

    079 670 7091

    DOEN DIT

    KLEINZEE-MUSEUM

    Toegang: R10 p.p. 027 877 0028 (Herman)

    KUIER BY GEORGE MOYSES Moyses Bel George se dogter Helen vir ’n afspraak. Jy gee net ’n skenking.

    George verkoop ook DVD’s wat die diamantgeskiedenis uitbeeld. Sy huis is in McDougallsbaai teen die see. Vra enigiemand in die straat, hulle sal jou soontoe beduie.

    078 618 5512