foto’s: Evan Naudé

Die berge rondom Thabazimbi is vol krapmerke, skaafsels, gaatjies, paadjies en reusetrappe van grond en klip. Trouens, as ’n mens suidwaarts uit die dorp ry, lyk dit kompleet of ’n vervalle Asteekse ziggoerat op die dorpsgrens lê.

Dit is omdat dié stukkie aarde besonder ryk is aan ystererts en al dekades lank gemyn word. Die dorp beteken hoeka in Tswana “berg van yster”. As gevolg van die mynbedrywighede is baie van die bergagtige dele rondom die dorp vir die publiek gesluit. Gelukkig is daar een hoekie waar jy nog op die berg kan kamp én ’n 4x4-roete tot bo kan ry.

Roetes

Die Rossouwspoortroete begin langs die bergkamp, by die bordjie wat byna trots verklaar “Slegs 4x4”.

Blaas jou bande af voor jy wegtrek (die mense hier beveel 1,8 bar aan), want van hier af is dit net opdraande. Dis ’n uit-en-terug-roete, wat beteken jy draai in ’n stadium om en ry op dieselfde spoor terug tot waar jy begin het.

Die eerste 2 km klim die roete geleidelik tussen hoë bome en digte bosse berg-op, maar kort voor lank wys jou trokkie byna hemelwaarts. Hier wil jy beslis in 4x4 ry óf selfs na laestrek oorskakel vir ’n gemakliker rit.

Dis hoog hier, maar vat tog ’n oomblik om die besonderse uitsigte buite jou linkerruite te waardeer.

Op die steilste opdraande is die tweespoor egter met beton opgevul om jou bande vastrapplek te gee. Om en by die 3,5 km-merk is ’n skerp haarnaalddraai na links waar jy ’n driepuntdraai moet doen as jou ryding se draaisirkel groot is.

Hoe hoër jy klim, hoe meer vou die landskap aan jou linkerkant oop. Dan, aan die bopunt van die berg, vou die wêreld aan jou regterkant ook oop en die uitsigte strek byna oneindig ver.

Volg die roete verder tot by ’n draai na regs (S24.582434 E27.354697) – van hier af vat die paadjie jou tot op die hoogste punt van die berg, net onder 1 700 m bo seespieël.

Van hier af ry jy op die ruggraat van die berg noordwaarts. Dis hoog hier, maar vat tog ’n oomblik om die besonderse uitsigte buite jou linkerruite te waardeer. Die laaste deel van die roete vat jou 2,5 km aan die agterkant van die berg af tot by ’n krateragtige duik in die berg.

Dit is die omdraaipunt.

Wat jy moet weet

4x4 / Laestrek / Ewenaarslot: Jy moet met ’n volwaardige 4x4-voertuig met laestrek ry, maar ’n ewenaarslot is nie nodig nie.

Kry ek ’n kaart? Jy kan vra vir een, maar die roete is maklik om te volg.

Hoe lank vat dit? 2-3 uur om die sowat 20 km te ry.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Bring jou eie een as jy een het, maar hier is ook ’n pomp op die plaas en vulstasies op die dorp is naby.

Kan ons langs die pad braai? Jy kan bo-op die berg braai, maar jy moet al jou eie braaigoed, braaier en hout saamry. As jy in die bergkamp wil braai, kos dit R50 p.p. vir dagbesoekers.

Sal ek langs die pad wild sien? Hou jou oë oop vir koedoes, klipspringers rooibokke, bosbokke en ribbokke langs die roete.

Kan ek halfpad omdraai? Ja, maar die pad is net hier en daar breed genoeg.

Is hier selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Die roete is heeljaar mooi. In die somer is die berg vol waterstrome en in die winter is die sonsondergange pragtig.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Albei. Jy kan die roete binne ’n oggend of middag doen, maar die kampplek teen die berg is ’n lieflike naweekkampplek.

Is hier ablusiegeriewe? Nie op die roete self nie; net by die kampterrein.

Aanwysings: Draai regs op die Dwaalboompad net buite die suidelike grens van die dorp. Rossouwspoort is sowat 8,5 km verder op dié pad aan die regterkant.

GPS: S31.809253 E18.783783

Wat kos dit? R150 per voertuig.

Kontak:  073 854 8094 (Piet);  info@rossouwspoort4x4.co.za