Biltongkoop is ’n véél groter kuns as perdekoop, sê Buks Barnard, ’n leser van Cullinan. Hier deel hy sy gids tot behaaglike biltongbenutting. Kou daaraan.

Met die slaggaaie in die paaie en slapgaaie in die politiek is nie alles altyd meer lekker in ons land nie. Gelukkig is daar één ding wat die moedeloses bemoedig, die troosteloses troos, die reddeloses red. Hierdie gawe van die gode, hierdie weg tot wêreldvrede... biltong. 

’n Koutjie keurige biltong in die kies is salf vir ’n rou gemoed. Dit verruim jou medemenslikheid en verbreed jou verdraagsaamheid. Solank ’n mens biltong het om te kou is dit lekker om te reis.

Daarom, in die belang van padveiligheid, toerismebevordering, goeie smaak, nasiebou en wêreldvrede, koop vir jou ’n stukkie biltong.  

Maar om hemelsnaam, koop net reg.  

Só maak jy... 



1. ’n Mens vra nie prys nie.

Dis beslis  ongemanierd om te vra wat biltong kos. As jy dit wil hê, koop dit, en as jy dit nie wil hê nie, los dit. ’n Mens mag nie iets soos biltong met die wêreldse banaliteit van geldwaarde besoedel nie.



2. Kies jou streek mooi. 

Kies die plek waar jy jou biltong koop, baie versigtig. Die eerste aanduiding van opregte, rasegte biltong is die landstreek. Die Hoëveld en Vrystaat is veilig, die Kalahari en Bosveld is pure  biltongwêreld, maar in die Kolonie moet jy ligloop.

Die mense hier het nie die biltongmaakervaring van die Groot Trek nie. Hulle spesialiteit is bokkoms. En nee, dit het niks met provinsialisme te doen nie. Net so min as wat ek die Kolonie se biltong aanbeveel, net so min sou ek mense aanraai om bokkoms te koop wat in die Bosveld gedroog is.

Die Kolonie is nie biltongwêreld nie en die Bosveld is nie bokkomwêreld nie. Dis hoe die aarde gemaak is – elke ding het sy plek. Maar hier en daar in die Kolonie is wel ’n blokman wat soms ’n reep droë vleis aanbied wat baie, baie na aan die ware Jakob kom.



3. Kies jou winkel nóg mooier.

Koop biltong by ’n slaghuis of biltongwinkel – al is jy hóé desperaat, jy koop nooit ooit ’n pakkie versmoorde biltong by ’n deurpadwinkel of kafee nie.

Daai goed is nie biltong nie. Dis flenters sening en afvalvleis wat sonder liefde of aanvoeling in ’n fabriek deur ’n droogoond gedryf word. ’n Spantou kou makliker én smaak lekkerder.

As iemand jou só ’n sakkie senings present gee, begrawe dit iewers waar jou hond dit nie in die hande kan kry nie. En beskou dit as ’n onsubtiele kennisgewing dat die vriendskap verby is.

Hoe groter die grootpad en hoe nader aan hom die biltongwinkel, hoe beter is die kans dat die biltongtransaksie jou met ’n bitter smaak in die mond kan laat.

Van hierdie handelaars reken daarop dat jy haastig is en ver weg sal wees teen die tyd dat jy agterkom hulle het jou verneuk. Daar is uitsonderings, maar hulle is skaars.

Veiligheidshalwe soek ek eerder ’n slaghuis wat elke dag aan dieselfde plaaslike mense verkoop – hulle kan nie bekostig om hulle klandisie kwaad te maak nie.


4. Kyk na die naam. 

As die slaghuis of biltongwinkel se naam nie Afrikaans is nie, hou maar verby. 

Die Engelse weet niks van biltongmaak af nie. Hulle taal het nie eens ’n woord vir biltong nie. Ek is nie Anglofobies nie – vir “cucumber sandwiches” of “marmelade and toast” sal ek soek totdat ek ’n plek met ’n Engelse naam kry.


5. Hoe’s die mense? 

Bepaal die aard van die mense wat die biltong aan jou wil verkoop. Dekades se noukeurige navorsing het bewys dat goeie biltong nie gemaak kan word deur mense wat onvriendelik, bot, ongemanierd, humorloos of dooierig is nie.

Biltong wat nie lekker is om te koop nie, smaak ook nie lekker nie.


6. Kyk na die omgewing. 

Ek sal byvoorbeeld nie met ’n geruste hart tjilliebyte koop by ’n slaghuis waar daar ’n hoop jakkalsvelle in die agterplaas lê nie.

Kyk en ruik hoe dit binne lyk. As daar vlieë in die slaghuis toegelaat word, dan is daardie effens souterige, bros-op-die-tong korreltjies op die biltong waarskynlik nie fyngestampte koljander nie...

En onthou, ’n slagter wat jou toelaat om met jou kale hande aan die biltong te voel, laat ook hoeveel ander smerige lunsrieme met hulle kloue op die weerlose biltong los.


7. Ken die slagter sy storie? 

Die beste beesbiltong word gemaak van C-graadvleis.

As jy “C-graad” sê en die slagter reageer asof iemand hom met ’n skokstok op ’n teer plek gaffel, soek maar ’n ander slaghuis (C-graad is spesiaal geskape om daardie lekker, smaakryke beesbiltonge met die dik, geel vet te maak).

En as die slagter jou biltong vir jou in ’n plastieksak wil sit, kanselleer die transaksie net daar, vat jou geld en loop.

G’n mens wat iets van biltong weet, versmoor die goed in plastiek nie – dit bederf binne ’n uur of twee. Biltong hoort in ’n bruin papiersak – dis nou as jy nie ’n slopie het soos die oumense gebruik het nie.


8. Kyk na die biltong self. 

Bekyk die biltong mooi: As hy ’n sening of ’n vlies in die middel af het, sal die biltongmaker jou waarskynlik met jou kleingeld ook probeer verneuk. Kies ’n biltong wat reg gesny is of gaan koop vir jou ’n pakkie skyfies by die kafee langsaan.

Die heel lekkerste wildsbiltong is die blinkste, swartste, gladste een wat nie te dik is nie, tensy dit ’n oumabiltong is (’n oumabiltong is die sagte binnerugstringvleis wat mense beeshaas noem). Wildsbiltong moet droog wees – hoe droër, hoe beter.

Hy moet só droog wees dat hy breek as jy hom buig. Morsaf.

Beesbiltong kan maar dik en natterig wees en rooi deurskyn as jy ’n skyfie teen die lig hou. As jy nie ’n beesbiltong met dik geel vet kan kry nie, soek dan die swartste biltong met die egaligste tekstuur, maar moet jou nooit in ’n pienk biltong of ’n biltong met wit vet in laat verneuk nie.

Wit vet is voerkraalvet. Dit is verbouereerde beeste wat in kampies saamgehok word en allerhande goeters ingestop word om hulle so gou as moontlik vet te martel. 

En die storie dat geel vet ongesond is, is nóg groter twak. My oupagrootjie sê al hierdie praatjies dat mense kwansuis sou siek word en doodgaan van cholesterol, pyprook, mampoer en geel vet, is twak.

Siekte word veroorsaak deur spanning en spanning word veroorsaak deur onsekerheid en onsekerheid word veroorsaak deur ’n vrot regering, sê hy. Moenie die skuld op biltong pak nie.


9. Kerf hom reg. 

Die beste, voorbeeldigste manier om beesbiltong aan te durf is met ’n skerp knipmes, maar dit kan soms lastig wees as jy nog ’n hand van iewers af moet optower om ’n stuurwiel vas te hou. Dan vra jy die slagter om die biltong wat jy gekies het, vir jou te kerf. 

Die meeste van die tyd word die stomme biltong in ’n rasende masjien gedruk. As dié masjien oud word en sy lem stomp, dan kerf hy nie die biltong ordentlik nie – hy vermink dit. Hy skeur die vet met die riem af en smyt dit, as jy gelukkig is, in een lang, papgekapte sliert eenkant en befomfaai die res tot ’n hopie flenters.

Soms is dit so erg dat die hele ding, biltong, vet en riem, oral aanmekaar vas is wanneer hy kastig klaar gekerf is. As jy ewe stylvol en deftig ’n kerfie biltong met twee vingers raakvat en uit die sakkie wil lig, kom die hele spul saam, nes ’n slaghoender se gedermtes.

Hier is my raad: Keer wanneer hulle jou biltongsakkie wil toeplak. Steek jou hand in, vat ’n stukkie biltong en tel dit op. As die stukkies een-een uitkom, vrolik die mense se dag op met ’n spitsvondigheid, sê dankie en betaal.

Maar as daar ’n sliert biltongderms saamkom, eis dan dat jou biltong ordentlik gekerf moet word of vat jou geld, ruk jou op en loop. As die plek ’n sifdeur het – soos dit elke sindelike slaghuis betaam – klap hom dat hy tot in sy skarniere sidder. Dis jou reg en jou plig teenoor ander biltongeters.


10. Die smaak.

’n Mens proe nie regtig hoe ’n biltong smaak as jy daar voor die toonbank drie koue aan ’n toetsmootjie gee nie – biltong het ’n langdurige tongtroeteling nodig om sy ware boeket te bepaal. Dis die deel waar jy moet vertrou.

Maar as jy vir al hierdie voorsorge gesorg het, en al hierdie slaggate gesystap het – en jy het nog genoeg tande vir die taak – wag daar op jou ’n wonderlike belewenis: Die heilsame geelvetkroon, die smaaklike swartvleisrand en die dieprooi lekkerte in die middel.

Ruik hom: Die ene soet rooigrasweiding, ware Bosveld; goed en gesond. 

Proe hom: Net genoeg geurgoeters sodat die vleissmaak ongeskonde behoue bly (een ding waaroor daar nie ’n verskil mag wees nie, is dat ’n fatsoenlike biltong sout moet wees. Nie brak nie, net lekker sout, soos ’n biltong behoort te wees).

Kou hom: ’n Kernontploffing van smaak en voedingskrag; ook voeding vir die geteisterde gees. 

Ewe skielik word die ou vaal wêreld rondom jou volkleur. Die onregte wat die mensdom jou so knaend aandoen, word nietighede. Die slaggatpad word ’n hemelse hoofweg.  Jou medepadgebruikers word jou innigste vrinne – almal broers teenoor wie jy niks anders koester nie as die grootste begrip en deernis. 

Die lewe is lekker. Alles is mooi. Alles is goed.