Vinnige sjokoladefudgekoek

As jy nie lus is om ’n koek te bak nie, kan jy ook ’n sjokolade- of vanieljesponskoek koop en dit vries totdat jy dit nodig het. Dan hoef jy net die sjokolade te smelt vir die vulsel.

Vir 6 | Voorbereityd 1 uur (om die koek te bak) | Gaarmaaktyd 15 minute plus rustyd (vir vulsel)

Jy benodig

Vir die koek:

• 1 karton (580 g) Ina Paarmansjokoladekoekmengsel

• Water, kookolie en eiers (volg resep op pakkie)

Vir die vulsel:

• 11/3 koppie room 

• ¼ koppie botter

• 400 g sjokolade, gerasper

• 2 koppies aarbeie, gekap

Só maak jy

1. Meng en bak die koek volgens die instruksies op die pakkie. Laat dit eenkant staan om af te koel.

2. Vir die vulsel: Verhit die room en botter tot kookpunt, verwyder dit van die hitte en roer die sjokolade daardeur tot gesmelt.

3. Voer die bodem van ’n 20 cm-losboomkoekpan uit met bakpapier. Sny die koek in blokkies en krummel dit tot fyn. Roer 1¾ koppie van die sjokoladevulsel daardeur (hou die res vir later). Jy kan ook ’n elektriese klitser gebruik. Meng dit totdat die mengsel soos dik fudge lyk.

4. Roer nou die aarbeie daardeur, skraap dit uit in die voorbereide koekpan en maak dit gelyk bo-op. Bedek dit met kleefplastiek en laat vir 45 minute afkoel of tot ferm genoeg om uit te skep.


’n Ou Weg-gunsteling… Yskaslagie-poeding!

Wie soek ’n skeppie karamel-en-sjokolade-poeding? Kom gou want dié bak word tjoef-tjaf leeg.

Vir 6 | Voorbereityd 30 minute plus rustyd

Jy benodig

• 1 karton (150 g) sjokolademousse of kitspoeding (Woolworths)

• 1 karton (90 g) karamelkitspoeding (soos Moirs)

• koue volroommelk (vir albei die kitspoedings; lees aanwysings op die pakkie)

• 250 ml room• 1 pakkie (200 g) Cream Crackers- of Tennisbeskuitjies

• 1 blikkie (360 g) karamelkondensmelk

Só maak jy

1. Maak die sjokolade- en kitspoedings afsonderlik aan met die melk volgens die aanwysings op die pakkies.

2. Klits die room styf en meng die helfte van die room met die sjokoladepoeding en die ander helfte met die karamelpoeding.

3. Spuit ’n 30 x 22 cm-bak met ’n kleefwerende sproei. Pak ’n laag beskuitjies in die bak en giet al die sjokoladepoedingmengsel daaroor. Pak nog ’n laag beskuitjies daaroor en smeer die karamelpoeding bo-oor en eindig met ’n derde laag beskuitjies. Plaas in die yskas vir ten minste 4 uur of oornag om te stol.

4. Smeer die karamel oor die tert en sit voor.


Sjokolade-en-koffiepoeding

Hierdie is ’n treffer – goedkoop en floploos. Jy kan dit net so maklik in ’n swartpot maak as jy weggaan.

Jy benodig

• ¾ koppie suiker1 koppie meel

• ½ koppie onversoete kakoa-poeier

• 2 teelepels bakpoeier½ teelepel sout½ koppie melk

• 1/3 koppie botter, gesmeltBolaag¾ koppie suiker

• ¼ koppie bruinsuiker¼ koppie onversoete kakao-poeierknippie sout

• 1 teelepel vanielje-geursel

• 1¼ koppie sterk koffie, kokend

Só maak jy

1. Smeer ’n 22x22 cm oondbak of ’n platboompot met botter. Voorverhit die oond tot 180 ºC.

2. Meng die suiker, meel, kakao, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Roer dan die melk en gesmelte botter daarby tot gekombineer en krap die mengsel uit in die voorbereide bak of pot.

3. Sprinkel die droë bestanddele vir die bo-laag in volgorde (eers die suiker, dan die bruinsuiker, gevolg deur die kakao-poeier en die knippie sout) oor die poeding en gooi die vanielje en kokende koffie stadig oor die agterkant van ’n houtlepel oor die poeding. Moenie die poeding enigsins roer nie.

4. Bak oop in die oond, of in ’n pot oor matige kole met ’n paar kooltjies op die deksel, vir 30 minute – die middel moet nie heeltemal gestol wees nie. Bedien warm met roomys of vla.


Sjokolade-en-brandewynstafie

Maak dit by die huis en vat dit saam, want min dinge is so lekker saam met kampvuurkoffie soos dié bevrore nagereg.

Vir 6-8 | Voorbereityd 20 minute plus rustyd

Jy benodig

• 250 g botter, ekstra vir smeer

• 400 ml kakao

• 1 koppie room

• 2 blokke (100 g elk) donkersjokolade, in stukke gebreek

• 8 groot eiergele

• 200 ml strooisuiker

• 40 ml brandewyn

• 6 Eet-Sum-Mor-beskuitjies

Maak só

1. Voer ’n klein broodpannetjie (18 cm x 10 cm) met waspapier uit en smeer die waspapier met ’n bietjie botter.2. Klop die botter en kakao tot glad en hou dit in ’n afsonderlike bakkie.3. Klop die room styf en sit dit eenkant. 

4. Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond of in ’n bakkie oor ’n kastrol kookwater en sit dit eenkant.5. Klits die eiergele en suiker saam in ’n groot bak met ’n elektriese klitser tot lekker dik.6. Voeg die gesmelte sjokolade by die eiermengsel en meng goed. Voeg die botter-en-kakaomengsel by en meng goed.

7. Roer die brandewyn by, krummel die beskuitjies by en vou die geklopte room in. 

8. Gooi die mengsel in die gesmeerde pan en maak die bokant glad.

9. Draai kleefplastiek om die pan, sit dit in ’n vriessakkie en vries dit totdat jy dit nodig het.

10. Haal die sjokoladestaaf ’n halfuur voordat jy dit wil voorsit uit die vrieskas.

11. Sny dit met ’n warm mes in skywe.


Nutella-poeding

Sit dit voor met gebraaide malvalekkers! Wat oorbly kan jy in blokkies sny en inpak vir padkos.

Vir 6-8 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 35-50 minute

Jy benodig

• 4 eiers, kamertemperatuur

• 1 ¾ koppie suiker

• 1 teelepel vanielje-geursel

• ¾ koppie donker onversoete kakoa

• ½ koppie meel

• ½ koppie Nutella

• 1 koppie botter, gesmelt

• malvalekkers

Só maak jy

1. Klits die eiers en suiker saam tot lig van kleur en romerig en roer dan die vanielje-geursel daardeur.

2. Meng die kakao en meel saam en roer dit dan deur die eier-mengsel. Roer die Nutella by die mengsel, maar moet dit nie heeltemal deur roer nie.

3. Laat die gesmelte botter effens afkoel, en roer dit liggies deur die mengsel tot net-net gekombineer.

4. Smeer ’n platboompot of gietysterpan wat ten minste 2 liter water kan hou met botter. (Of verdeel die mengsel tussen twee kleiner gietysterpanne van 1 liter elk.) Gooi die mengsel in die pot of pan. Plaas die deksel op en plaas die pot of pan op ’n braai driehoek oor matige warm kole en sit ’n paar kole op die deksel. 

5. Hou die poeding fyn dop – dit is op sy lekkerste sodra die kante ferm en koekerig is en die bo-laag effens gekraak lyk, maar dit nog reg in die middel die tekstuur van gesmelte sjokolade het. Dit kan tot 50 minute neem in een groot pot maak, en slegs 20 – 35 minute indien die mengsel tussen 2 kleiner panne gedeel word. As jy dit effens te lank bak sal dit steeds lekker wees en ’n meer koekerige tekstuur hê.

WENK: Bak oop in die oond teen 180 °C.