Foto’s Jan Ras|Kosassistent Tani Kirsten 

Hoender-en-groentesop

Kiepie met skop

Omskep ’n blikkie sop met hoenderborsies in ’n heerlike, stewige maaltyd.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 1-2 koppies hoenderaftreksel
  • 2-3 hoenderborsfilette, ontbeen en ontvel
  • 1 blik (400 g) sampioenroomsop
  • 1 pak groentenoedels (soos murgpampoentjie)
  • sout en swartpeper na smaak
  • vars pietersielie (opsioneel)

Só maak jy

1. Verhit die hoenderaftreksel in ’n pot tot kookpunt en prut die hoenderborsies vir sowat 15 minute daarin. Skep die hoender uit, trek dit met twee vurke in repe en gooi dit terug in die pot.

2. Roer die sampioensop by en verhit tot kookpunt. Roer dan die groentenoedels by en verhit alles saam tot deurwarm. Proe en geur dit na smaak met sout en peper. Sit dit voor met fyngekapte pietersielie, indien verkies.

Weg Ry & Sleep sê

In die plek van die groentenoedels kan jy bloot murgpampoentjie oor elke porsie rasper.


MEXIKAANSE TAMATIE-EN-BOONTJIESOP

Mexikaanse winterdans

Foto’s Jan Ras

Hierdie sop is regtig verspotmaklik en jy kan dit vinnig-vinnig aanmekaarslaan – enige plek.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 blik (410 g) Mexikaansestyl tamaties
  • 1 blik (410 g) tamatieroomsop
  • 1 blokkie groenteaftreksel
  • 1 koppie water
  • 1 blik (410 g) rooi niertjieboontjies, gedreineer
  • 1 blik (410 g) swart- of barlottibone, gedreineer
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap (of gebruik rissiesous)
  • sout en swartpeper na smaak
  • nachotjips om voor te sit
  • 1 koppie suurroom om voor te sit
  • 1 avokado, in blokkies gesny
  • vars koljanderblare om voor te sit (opsioneel)

Só maak jy

1. Verhit die tamatie, tamatiesop, aftreksel en water saam tot kookpunt en prut dit vir 10 minute. Roer die bone daarby in en voeg brandrissie na smaak by. Laat die mengsel vir nog 10 minute prut.

2. Bedien elke porsie met nachotjips, ’n skeppie suurroom, avokadoblokkies en vars koljander, indien verkies.

Weg Ry & Sleep sê

Indien jy nie die geblikte Mexikaansestyl tamaties in die hande kan kry nie, gebruik enige geblikte tamatie-en-uiesmoor en geur dit met komyn, rissie en paprika. 


Rooilensiesop met gerookte worsies

Lensies vir honger pensies

Foto’s Jan Ras

Hierdie heilsame sop sal die magies lank vol hou! Maak sommer ’n dubbele hoeveelheid, want dit vries uitstekend.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 3 groot wortels, geskil en fyngerasper
  • 1 koppie rooilensies
  • 1 l hoenderaftreksel
  • 2-4 gerookte worsies soos bratwurst of russians
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n pot en braai die uie oor matige hitte tot sag en glansend. Voeg die knoffel by en braai dit vir nog ’n minuut.

2. Voeg die wortel, lensies en aftreksel by en verhit die mengsel tot kookpunt. Laat dit dan oor lae hitte prut vir 20 minute of tot die lensies en wortel sag is.

3. Sny die worsies in dun skyfies en braai die wieletjies in ’n pan tot bros voor jy dit deur die sop roer. Proe en geur die sop na smaak met sout en swartpeper.

Weg Ry & Sleep sê

Vervang die wortel gerus met ’n halwe botterskorsie wat jy afskil en in klein blokkies sny.


Aartappel-en-biltongsop

Fluweelsagte biltong!

Foto’s Jan Ras

Hierdie sop is ryk en lekker, maar as jy hom nóg ’n bietjie ryker verkies, kan jy van die water met melk of room vervang.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 4 eetlepels botter
  • 4 groot aartappels, geskil en grofgerasper
  • 2 eetlepels wituiesoppoeier
  • 1 hoenderekstrakblokkie
  • 3-4 koppies water
  • 200 g fyngekerfde biltong
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die botter oor lae hitte in ’n groot kastrol en voeg die aartappel by. Laat dit vir ongeveer 10 minute sweet tot sag.

2. Roer die soppoeier en hoenderekstrak by die mengsel en voeg dan die helfte van die water by. Verhit alles saam tot kookpunt en prut dit vir 20 minute. Gebruik ’n aartappeldrukker om die sop fyn te druk en gooi nog water na smaak by tot die sop so dik is as wat jy daarvan hou.

3. Roer driekwart van die biltong by en verhit die sop weer tot deurwarm. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

4. Sprinkel die res van biltong oor die sop en sit dit voor met lekker vars geroosterde brood.

Weg Ry & Sleep sê

Probeer gerus patat in die plek van die aartappel.



Spinasie-en-lensiesop met frikkadelle

Bult daai spiere

Foto’s Jan Ras

Het jy van daai lekker frikkadelletjies oor wat julle vir padkos ingepak het? Gebruik hulle in dié heilsame lensiesop.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

  • 1 pak (600 g) vars groentesopmengsel
  • 1 l biefekstrak
  • 1 blik (410 g) bruinlensies, gedreineer en afgespoel
  • 2 koppies styfgepakte babaspinasieblare
  • 1 pakkie tweeminutenoedels
  • 8-12 gaar frikkadelletjies sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Gooi die sopmengsel, biefekstrak en lensies in ’n groot pot en verhit dit tot kookpunt. Prut dit vir 30 minute of tot die groente gaar is. Gooi nog ’n bietjie water by, indien nodig.

2. Roer die spinasie, droë noedels en frikkadelle deur die kokende sop tot alles deurwarm is. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

Weg Ry & Sleep sê
In die plek van die soppak kan jy ook 4 koppies gekapte groente soos uie, wortels, preie en groenboontjies gebruik.



Garnaal-en-mieliesop

Garnale in die mielieland

Foto’s Jan Ras

Hierdie sop moet dik en romerig wees – jy kan selfs kaas bysit om dit nóg beter te maak.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 koppie aartappels, in klein blokkies gesny
  • 1 l hoenderaftreksel
  • 2 koppies tuisgemaakte óf gekoopte witsous
  • 1 blik (400 g) geroomde mielies
  • ½ koppie heel mieliepitte
  • 1 blikkie (110 g) steurgarnale (shrimps), gedreineer
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Smelt die botter en braai die uie tot dit sag en glansend is. Roer dan die aartappel daarby in.

2. Skink die aftreksel daarby en prut dit vir ongeveer 10 minute totdat die aartappel sag en gaar is.

3. Roer die witsous, geroomde en pitmielies by en prut dit vir nog 10 minute.

4. Voeg die garnale by en roer tot die sop mooi deurwarm is. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

Weg Ry & Sleep sê

Jy kan ook bevrore afgedopte steurgarnale gebruik, maar laat dit eers heeltemal ontdooi