Jy benodig

(maak 4 groot koekblikke vol)

  • 2,5 kg koekmeel (hou ’n koppie daarvan opsy om die deeg te knie)
  • 2 pakkies (10 g elk) kitsgis
  • 2 eetlepels (30 ml) sout
  • 2 eetlepels (30 ml) heel anyssaad
  • 250 g koue botter, in klein blokkies gesny
  • 1 l warm water
  • 1 blikkie (397 g) kondensmelk
  • 1 koppie (250 ml) suiker
  • 1 l wit druiwesap
  • 1 eier, geklits

Só maak jy

1. Smeer 2 groot swaarboompotte (vir die vuur) of 6 groot broodpanne (vir die oond). Die potte moet deksels hê.

2. Meng die meel, gis, sout en anyssaad. Smelt die botter in die warm water en voeg die kondensmelk, suiker en druiwesap by.

3. Roer nou die droë bestanddele by die vloeistof. Die deeg moet lekker sag wees sodat jy dit maklik kan knie, maar nie slap nie. Knie die deeg vir 10 minute tot dit glad is. Bedek die deeg en laat dit vir 2 uur in matige hitte staan om te rys.

4. Knie die deeg af. Knyp gholfbalgrootte bolletjies deeg af en pak hulle knus teen mekaar in die potte of broodpanne. Bedek die potte of panne met ’n vadoek en laat staan dit vir ’n uur of tot die deegbolle in grootte verdubbel het.

5. Verf die beskuitbolletjies liggies met die eier. Sit die potte op matige kole en pak ’n paar kole op die deksel, of sit die broodpanne in ’n oond van 180 ºC.

6. Bak die beskuit vir 45-60 minute tot goudbruin. As jy die beskuit by die huis bak om dit vir die kampnaweek in te pak, kan jy dit oornag in ’n oond van 70 ºC droog – pak die stukke in  ’n enkellaag op die oondrakke.

Weg Ry & Sleep sê
Jy hoef nie die volle maat te bak nie – halveer die bestanddele as jy minder beskuit wil bak.