Jy benodig

• 4 kalkoendye

• ¼ koppie sout

• ¼ koppie bruinsuiker

• 3 koppies warm water

• 4 esdoringgegeurde rookplankies (beskikbaar by supermarkte), in water geweek volgens die instruksies op die pakkie

• olyfolie

VIR DIE BRAAISOUT

• ¼ koppie growwe seesout

• ½ koppie bruinsuiker

• 1 eetlepel gerookte paprika

• 2 teelepels gemaalde kaneel

• 1-2 teelepels rissiepoeier

• 1½ teelepel neutmuskaat

• 1 teelepel fyn wonderpeper

• 1 teelepel fyn swartpeper

• 1 teelepel fyn komyn

• 1 eetlepel knoffelpoeier

VIR GHRÊND WEES

• ½ koppie heuning of esdoringstroop

• ½ koppie whisky of brandewyn

Só maak jy

1. Die kalkoen word eers oornag gepekel – dit sorg dat die vleis meer geur het: Los die sout en suiker in die warm water op en laat dit heeltemal afkoel. Pak die dye in houer wat dig seël en gooi die pekel oor. Los dit in die yskas vir ’n dag. Haal die dye uit, spoel dit af en klad dit met kombuispapier droog. Sit dit oop terug in die yskas vir 1-3 uur – dit sorg vir ’n bros velletjie wanneer jy dit braai.

2. Kry matige kole gereed. Meng intussen al die bestanddele vir die braaisout saam en vryf die dye met ongeveer 4 eetlepels daarvan in.

3. Verbruin en seël die dye vinnig oor die kole. Krap dan die kole na die kante toe en sit die rookplankies in die middel van die rooster. Pak die dye bo-op die plankies en verf dit met olyfolie. Braai die dye net so op die plankies vir 45 minute met die velkant na bo.

4. Meng die heuning en whisky, en verf die mengsel oor die dye terwyl jy dit vir ’n verdere 15 minute braai. Wanneer jy ’n mespunt in ’n dy steek, moet die sap wat uitloop, helder wees. Laat die dye eers vir sowat 5 minute onder ’n stuk foelie rus voordat jy dit voorsit.