Jy benodig

  • 1 hoeveelheid basiese brooddeeg en ekstra meel vir sprinkel. (Of maak jou eie, ons deel 'n resep hieronder).
  • 1 hand vol roketblare
  • 2 of 3 soorte kaas, in skywe gesny
  • 1 pakkie (240 g) sondroogtamaties in olie 

Só maak jy

1. Vorm die deeg wat reeds 1 keer gerys het in tennisbalgrootte bolletjies en rol dit in baie dun sirkels uit.

2. Strooi meel oor en hou dit eenkant. Krap die kole van ’n lekker warm vuur oop, sit die rooster op en pak die deegsirkels bo-op die toe rooster.

3. Braai die broodjies vir ongeveer 8 minute.

4. Draai dit elke paar sekondes om sodat die deeg nie brand nie.

5. Haal die broodjies af en pak dit in ’n enkellaag op ’n draadrak waar dit kan afkoel sonder om te sweet of die krakerigheid te verloor.

6. Sny elke broodjie in kwarte en wikkel elke kwart met ’n mespunt oop. Sit roketblare, kaas en sondroogtamaties binne-in.

Basiese brooddeeg

1 potbrood

Jy benodig

  •   7 koppies witbroodmeel, ekstra vir jou werkvlak
  •   2 pakkies (10 g elk) kitsgis
  •   2½ koppies lou water
  •   2 eetlepels suiker
  •   3 teelepels fyn sout

Só maak jy

1. Gooi die meel in ’n diep bak.

2. Meng die gis, water en suiker in ’n kleiner bakkie en laat dit vir 10 minute staan totdat die gis skuim.

3. Gooi dit by die meel, voeg die sout by en roer dit goed.

4. Sit die bol deeg op ’n meelbestrooide oppervlak.

5. Druk, knie, vou en rol die deeg vir sowat 10 minute of tot sag en elasties.

6. Sit die deeg in ’n meelbestrooide bak en strooi ’n bietjie meel oor.

7. Maak die bak met ’n klam vadoek toe en laat dit op ’n warm plek tot dubbel die hoeveelheid rys.

8. Knie die deeg weer vir 10 sekondes af en sit dit in ’n ronde ysterpot (of 2 broodpanne) om weer tot dubbel die hoeveelheid te rys.

9. Hanteer die pot versigtig; jy moenie al die lug uit die deeg skud nie.

10. Sit die pot op die kole en stapel kole op die deksel.

11. Kyk ná ’n halfuur of die brood al bruin word en sit die deksel terug met nuwe kole bo-op. Dit behoort ná ’n uur gaar te wees.

12. Haal die pot van die vuur af en laat dit vir ’n halfuur afkoel voordat jy die pot omkeer om die brood uit te haal.