Voorgereg, hoofgereg óf padkos

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 4 varkworsies
  • 2 eetlepels olie 
  • 1-2 gaar patats
  • 1 koppie gerasperde cheddar
  • 4-6 wraps
  • sout en swartpeper

Só maak jy

1. Druk die vleis van die varkworsies uit die derm en roerbraai dit vinnig in ’n bietjie olie in ’n pan. Breek die stukkies met ’n vurk op terwyl dit gaar word – maak seker die vleis is sappig en ordentlik gaar.

2. Druk die gaar patats fyn en meng dit met die gaar vleis. Proe en geur die mengsel met sout en swartpeper.

3. Skep ’n paar ruim eetlepels van die vulsel op ’n wrap en sprei dit eweredig uit. Sprinkel kaas oor. Sit nog ’n wrap bo-op en braai dit direk op die rooster oor matige kole. (Jy kan dit ook in ’n pan braai.) Sodra dit begin bruin braai aan die een kant, draai dit versigtig om en braai die ander kant.

4. Sny die wraps in wiggies en sit dit voor as ’n voorgereg of aandete. Pak enige oorblywende wiggies in vir padkos.

Weg Ry & Sleep sê

Jy kan enige gaar braaivleis of wors in die resep gebruik –sny dit net in klein stukkies voordat jy dit met die patat meng.