Jy benodig

• 1 heel hoender

VIR DIE RISSIESOUS

• 300 g geroosterde soetrissies 

• 4 eetlepels srirachasous (of ander rissiesous)

• 1½ eetlepel olyfolie

• 1½ teelepel gemaalde komyn

• 1½ teelepel vars origanum

• 2 knoffelhuisies

VIR DIE GROENSOUS

• 1½ koppie karringmelk

• 1 koppie basilieblare

• ¼ koppie grasuie (chives)

• 2 knoffelhuisies, geskil

• 2 ansjovisfilette (kan vervang word met sout na smaak)

• 1 sprietui

• ½ suurlemoen se sap en skil

• 2 teelepels growwesout

• 1 teelepel gemaalde swartpeper

Só maak jy

1. Verwyder die rugbeen van die hoender deur met ’n skerp mes aan weerskante daarvan te sny en dit uit te lig. Draai die hoender om en druk met jou hande op die borsbeen om die hoender plat te kry.

2. Rooster die soetrissies heel in ’n warm oond (180 °C) vir 20 minute of braai oor die kole tot sag.

3. Plaas die soetrissies, srirachasous, olyfolie, komyn, origanum en knoffel in ’n voedselverwerker en pols tot glad.

4. Masseer die helfte van die rissiesous in die hoender. Bedek en marineer vir 2 uur of oornag in die yskas. Hou die res van die rissiesous ook in die yskas.

5. Laat die hoender weer kamertemperatuur bereik en braai dit oor matige warm kole in ’n ketelbraai met die deksel op vir 35 minute. Draai die hoender elke 15 minute om. Haal af en laat vir 15 minute rus.

6. Maak intussen die groen sous deur al die bestanddele in ’n voedselverwerker glad te pols (die sous sal ’n paar dae hou in die yskas – hou dit toe).

7. Sny die hoender in stukke en bedien met die res van die rissiesous én die groensous, ’n slaai en brood om die souse mee op te vee.

WENK

As jy nie genoeg tyd het nie, gebruik geblikte of gebottelde geroosterde soetrissies – dit word ook pimento of capsicum genoem op die verpakking.