Jy benodig

Vir die koek

  • 1 koppie (130 g) koekmeel
  • knippie sout
  • knippie neutmuskaat
  • 1½ teelepel bakpoeier
  • 125 g botter, kamertemperatuur
  • 2/3 koppie (135 g) strooisuiker
  • 3 eiers, kamertemperatuur
  • 1 naartjie of clementine (of ander sitrusvrug)
  • 2 eetlepels melk
  • 1 teelepel vanieljegeursel

Vir die bolaag

  • 55 g botter
  • 55 g gesplinterde amandels
  • 3 eetlepels ligbruinsuiker
  • 1 eetlepel meel
  • 2 eetlepels room
  • 1 teelepel karamelgeursel

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 175 °C. Smeer ’n 20 cm-losboomkoekpan met botter.

2. Meng die meel, sout, neutmuskaat en bakpoeier saam en hou eenkant.

3. Verroom die botter en suiker in ’n voedselverwerker tot liggeel. Voeg die eiers een vir een by, maak seker dat elke eier goed ingemeng is voordat jy die volgende een byvoeg. Klits dan die gerasperde skil van ’n hele naartjie of clementine en die sap van die helfte van die vrug daardeur. Klits die helfte van die meel daarby en voeg dan die melk en vanieljegeursel daarby voordat jy die res van die meel byklits. Skraap die deeg in die voorbereide koekpan uit.

4. Bak dit vir 35 minute of tot goudbruin en ferm – dit sal nog nie heeltemal gaar wees nie, maar dit moet ferm wees.

5. Maak die bolaag terwyl die koek in die oond is: Voeg al die bestanddele bymekaar in ’n swaarboompotjie. Net voordat die koek uit die oond kom, bring die bolaagbestanddele tot kookpunt – dit sal 5 minute neem. Roer terwyl dit borrel en begin verdik.

6. Haal die die koek uit die oond en drup die bolaag in die middel daarvan. Gebruik ’n paletmes om dit egalig te versprei.

7. Plaas die koek terug in die oond en bak verder vir ongeveer 15 minute totdat die bolaag borrel en goudbruin is.

8. Haal die koek en laat dit afkoel vir ongeveer 10 minute voordat jy dit met ’n paletmes loswikkel.