Jy kan dit in ’n oond of drukkoker voorberei, maar jy sal jou ketelbraai moet inspan vir ’n heeldag-kooksessie om die manne te beïndruk.

Jy benodig 

  • 1,5-2 kg beesvleis (chuck of brisket)
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • ½ koppie balsemieke asyn
  • 2 eetlepels sojasous
  • ’n knippie gemaalde swartpeper
  • 5 knoffelhuisies
  • 2 eetlepels botter of olyfolie
  • 6 rolletjies 

Só maak jy

1. Plaas die vleis en al die bestanddele – behalwe die botter en die rolletjies – in ’n swartpot. Bedek die pot met twee lae foelie en ’n deksel.

2. Kry kole in ’n ketelbraai gereed vir die indirekte kookmetode. Krap die kole na die kante en plaas die pot op die rooster in die middel. Die kole moet louwarm wees – kyk of jy jou hand vir 8 sekondes 10 cm bo die rooster kan hou voor jy dit moet wegpluk. Vul die kole ná ’n paar uur aan indien nodig, maar sorg dat die hitte baie laag bly. Indien jy ’n gasketelbraai of ’n oond gebruik, moet die temperatuur teen 120 °C gehou word.

3. Ná 5-6 uur (of wanneer die interne temperatuur van die vleis 71 °C bereik) sal die vleis maklik met ’n vurk gevlok kan word. Verwyder die vleis versigtig, plaas op ’n houtbord en bedek met foelie.

4. Kook die sappe in die pot totdat dit met die helfte verminder het. Trek die vleis uit mekaar met vurke en sprinkel die botter of olyolie en ’n soplepel van die sous daaroor. Voorsien elkeen van ’n rolletjie en ’n doopbakkie met sous (blikbekers werk goed!). Laat elkeen sy rolletjie met vleis vul en die rolletjie – vleis en al – in die sous doop voordat hulle wegval.