1.     Wees voorbereid.

Sorg dat al die bestanddele gekap en byderhand is. Tydsberekening is belangrik sodra jy begin.

2.    Nie so koud nie!

Die vleis moet kamertemperatuur wees.

3.    Grootte is belangrik.

Al die vleisrepies moet dieselfde dikte gesny wees, en die verskillende groentesoorte moet ook dieselfde gesny word sodat dit alles gelyk gaar word. Wanneer jy meer as een groentesoort gebruik, sorg dat die een wat die langste gaan neem om gaar te word, die dunste gesny is.

4.    Hoe warmer die pan, hoe beter.

Hitte is noodsaaklik sodat die vog verdamp soos wat die kos gaar word – die vleis en groente moenie stoom nie – dit sal die vleis taai en groente vaal en pap maak.

5.    Sous eers teen die einde.

Indien jy verkies, kan jy die vleis vooraf marineer, maar skep dit uit die marinade en skud die sous af voordat jy dit braai. Voeg dan die sous aan die einde by, en roer dit net vinnig deur voordat jy dit voorsit. Dit keer dat die groente en vleis in die sous kook eerder as braai.

6.    Laat die vleisrepies rus.

Die meeste mense maak die fout om die vleis te lank te braai. Skep dit uit sodra dit gaar is en laat dit eenkant staan terwyl jy die res van die bestanddele roerbraai. Sodoende bly die vleis sag en sappig – skep dit net voor jy klaar is, weer by die res en roer dit deur.