Jy benodig

• 8 Granny Smith-appels, geskil en klokhuis uitgesny

• ½ suurlemoen

• 4 eetlepels botter

• 2 eetlepels suiker

• 1 teelepel kaneel

• 350g suurroom

• 5 eiergele

• 2 teelepels vanielje-ekstrak

• ½ koppie suiker

• 6 eetlepels meel

VIR DIE KRUMMELLAAG

• 12 gemmerkoekies, gekrummel

• ¾ koppie meel

• 40g pekanneute, gekap

• 100g botter, gekap

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180ºC. Sny die appels in skyfies. Pak dit soos wat jy vorder, in ’n bak en druk die suurlemoensap daaroor uit om te keer dat die appels verkleur.

2. Braai die appels in die botter, suiker en kaneel tot halfpad gaar en skud dit in ’n tertbord van ongeveer 30 cm groot uit. (Wees versigtig dat die skyfies nie breek nie.)

3. Klits die suurroom, eiergele, vanielje en suiker deeglik saam en voeg dan die meel daarby. Roer dit goed deur totdat daar nie meer klonte is nie en skep dit bo-oor die appels. Bak die poeding vir sowat 20 minute.

4. Pols intussen die gemmerkoekies, meel, neute en botter in ’n voedselverwerker saam tot growwe krummels. Haal die tert uit die oond, sprinkel die krummellaag oor die appels en bak dit vir nog 20 minute tot goudbruin. Laat die poeding vir ’n uur rus om te stol voordat jy dit sny.