Klam appelbrood sal, net soos piesangbrood, vir ’n paar dae hou. Vat dit saam as julle gaan piekniek hou, of eet warm geroosterde snye met heuning en ’n skyfie skerp kaas.


Maak 1 brood | Voorbereityd 10 minute | Baktyd 1 uur


Jy benodig

• 1¾ koppie koekmeel
• ¾ teelepel koeksoda
• ¼ teelepel sout
• 1½ teelepel kaneel
• ½ koppie taai bruinsuiker
• 2 eiers, teen kamertemperatuur
• 3 eetlepels ongegeurde jogurt
• 1/3 koppie olyfolie
• 1½ koppies (360 g) appelsous
• 1 groot groen appel, in stukkies gekap of grofgerasper


Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n gewone broodpan met botter of spuit dit met kleefwerende sproei.
2. Meng die droë bestanddele saam in ’n mengbak en klits die eiers, jogurt, olyfolie en appelsous daarby in tot glad. Vou die appel deur die beslag en skraap dit in die broodpan uit.
3. Bak dit vir ongeveer 1 uur of totdat ’n toetspen skoon uitkom. (As die brood ná 40 minute bruin begin lyk, verlaag die temperatuur tot 170 °C of bedek die brood losweg met foelie.)

WENK: Maak ’n soet-en-sout weergawe deur die suiker met die helfte te verminder en ’n koppie gerasperde cheddarkaas en kruie soos tiemie of salie deur die beslag te roer.