Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 1 uur  

Jy benodig 

• 700 g baba-aartappels
• 1 rooiui
• 125 g repiespek
• 125 g botter
• 3 knoffelhuisies, gekap
• 1 teelepel gedroogde tiemie
• 1 teelepel gedroogde basiliekruid
• 1 eetlepel seesout

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Gebruik ’n skerp mes en sny 6-8 diep gleuwe in elke aartappel sonder om dit heeltemal deur te sny. 

2. Kap die ui en spek fyn. Pak die aartappels in ’n oondvaste bak waarin dit redelik knus pas en sprinkel die uie en spek bo-oor. Smelt die botter, knoffel en kruie saam en giet dit bo-oor die aartappels. Sprinkel die sout oor. 

3. Bedek die bak met foelie en plaas in die oond vir 30 minute. Verwyder die foelie, en skep van die gesmelte botter en spek in die gleuwe van die aartappel. Plaas dit nou onbedek terug in die oond en bak vir nog 30-45 minute. Skep elke nou en dan nog van die botter bo-oor die skywe sodat die geur lekker deur die aartappels trek. Die gereg is gereed wanneer die aartappels sag en die spek effens bros is.