Jy benodig

• 1 blik (385 g) kondensmelk

• 80 g botter

• ½ koppie suiker

• ½ koppie room

• 3 piesangs

• 30 ml vars suurlemoensap

• room

• 2 eetlepels gerasperde sjokolade of ’n gekrummelde Flake

VIR DIE KLAPPERKORS

• 2 koppies (160 g) klapper

• ½ koppie suiker

• 2 eierwitte

• ’n skeutjie vanieljegeursel

• ’n knypie sout

1. Maak die kors: Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die klapper, suiker, eierwit, vanielje en sout saam. Druk dit dan as ’n dik kors op die bodem van ’n blikbord met ’n randjie vas. (As daar te veel beslag vir jou tertbord is, kan jy die oorblywende klappermengsel in happiegroot koekies rol en dit saam met die kors bak om aan te peusel.)

2. Bak die kors vir 10-15 minute totdat dit om die rande langs ligbruin word. Die klapperkors sal verder hard word terwyl dit afkoel.

3. Nou vir die vulsel: Smelt die kondensmelk, botter, suiker en room saam en roer deurgaans flink totdat die suiker opgelos is. Hou steeds roer terwyl jy die mengsel vir sowat 5 minute kook totdat dit soos gesmelte toffie lyk. Giet dit in die voorbereide kors. Laat afkoel. (Moenie die mengsel te lank kook nie – pleks van ’n toffietekstuur sal dit in fudge verander.)

4. Sny die piesang net voor opdiening in dun skyfies en meng dit met die suurlemoensap om te verhoed dat dit bruin raak. Skep ’n piesanglaag bo-op die toffie, gevolg deur ’n paar ruim skeppe geklopte room en laastens ’n sprinkeling sjokolade.

WENK: Hier’s ’n kitsweergawe van die toffielaag: Klits ’n blik karamel en ½ koppie room saam en giet dit in die afgekoelde klapperkors. Laat die tert in die yskas stol voor jy die piesang, room en sjokolade byvoeg.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook