Vat jou tyd...

Jy benodig

(genoeg vir 6-8)

  • 2 eetlepels koekmeel
  • 1 teelepel elk gerookte paprika en koljander
  • 1,2 kg beesstert, in stukke gesny
  • 6 eetlepels olie
  • 1 groot ui, geskil en gekap
  • 2 wortels, geskil en gekap
  • 3 selderystingels, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 botteltjie (330 ml) bier – ons het lager gebruik
  • 1 blik (400 g) gekapte tamaties
  • 2 blikke (400 g elk) bone
  • 2 l goeie vleisaftreksel

Só maak jy

1. Geur die koekmeel met sout en peper na smaak en voeg die paprika en koljander by. Rol die beesstertstukke in die meelmengsel tot dit oraloor bedek is. Verhit die olie in die swartpot en braai die vleis stadig in sarsies tot mooi goudbruin. Dit klink soos baie olie, maar jy kan dit eerder later uitskep as om nou te sukkel om ’n goeie kors op die vleis te kry. Skep die vleis uit en behou die vet in die pot.

2. Braai die ui saam met die wortel en seldery tot sag en geurig. Voeg die knoffel, tamatiepasta en bier by en kook alles vir ’n paar minute vinnig saam.

3. Skep die vleis terug in die pot en voeg die tamatie, bone en aftreksel by. Prut alles nou rustig vir sowat 3 uur tot die vleis doeksag is. Skep enige skuim en onsuiwerhede af wat op die oppervlak vorm. 4 Druk van die bone met ’n aartappeldrukker in die sop fyn (of gebruik jou staafmenger, maar wees versigtig) terwyl jy die vleis heel hou. Proe ’n laaste keer vir sout en peper en sit dit voor met lekker brood.

Ry & Sleep sê
As jy wil, kan jy die vleis vlok terwyl jy die bone fynmaak. Dan kan jy die fyn vleis met of sonder die bene terugroer by die sop.