Sit solank die ketel aan

Jy benodig

(maak 60 stukkies)

  • 1 kg bruismeel
  • ½ koppie suiker
  • 1 teelepel sout
  • 1 eetlepel anys
  • 1 koppie sagte botter
  • 1 blik (375 g) kondensmelk
  • 2 koppies karringmelk

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 ºC. Sif die meel, suiker en sout saam en roer die anys by.

2. Vryf die botter in die droë bestanddele tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Roer nou die kondensmelk en karringmelk deur en meng alles saam tot dit ’n sagte deeg vorm. Knie dit nou tot die deeg net-net glad is – gebruik ’n bietjie ekstra meel, indien nodig.

3. Rol die deeg in bolletjies en druk hulle so effens om hulle langwerpig te kry. Pak die stukke in drie gesmeerde broodpannetjies. Moet liefs nie die pannetjies oorvol maak nie; daar moet plek wees sodat die beskuit kan rys.

4. Druk die panne in die oond en bak die beskuit vir 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat dit vir 5 minute in die panne afkoel voordat jy dit op ’n draadrakkie uitkeer.

5. Sodra die beskuit afgekoel is, sny dit in individuele beskuite en pak die stafies in ’n enkellaag op bakplate. Droog die beskuit oornag uit in ’n oond van 100 ºC. Laat dit weer afkoel voor jy dit in lugdigte houers pak.

Ry & Sleep sê
Roteer die plaatjies beskuit in die oond soos dit droog en draai die beskuite so elke nou en dan om om seker te maak hulle droog mooi eweredig.