Goeie brood

Gebruik ’n stewige brood met ’n sagte binnekant en ’n ordentlike korsie. Tradisioneel word ’n ronde brood hiervoor gebruik, maar ’n groot panini of ciabatta sal ook werk.

Die smeer

1-2 eetlepels heelkorrelmosterd

1-2 eetlepels mayonnaise

Geroosterde of ingelegde groente

2 groot rooi soetrissies

1 knoffelhuisie, in skyfies gesny

2 tiemietakkies

’n skeut olyfolie

sout na smaak

gemaalde swartpeper na smaak

Vars salsa

5 olywe, ontpit

1-2 rosa-tamaties

’n groot hand vol vars basilie

of pietersielie

½ rooiui

’n skeut olyfolie

½ suurlemoen se sap

½ komkommer

Die vulsel

6-10 plakkies emmenthalerkaas

6-10 plakkies kouevleis soos ham of gebraaide beesvleis

Sny met ’n skerp mes ’n dekseltjie sowat 2 cm van die bokant van die brood af en hol die brood se binnekant uit – los sowat 2 cm al aan die binnekant van die kors langs. Gebruik die agterkant van ’n teelepel en smeer die helfte van die mosterd en mayonnaise al aan die binnekant van die brood.

Halveer die soetrissies, krap die saadjies uit en pak hulle velkant na onder op ’n bakplaat. Pak ’n stukkie knoffel en ’n tiemietakke op elkeen, drup ’n bietjie olyfolie oor en rooster dit vir 20 minute in die oond teen 180 °C.

Maak die vars salsa deur al die bestanddele fyn te kerf en saam in ’n bak te meng. (Jy kan die komkommer ook in die lengte met ’n groenteskiller in linte sny en dit in lae binne-in die brood pak.) Gooidie salsa in ’n sif of vergiettes en laat dit staan sodat die ekstra vog kan dreineer.

Pak ’n laag soetrissies binne-in die brood, gevolg deur die helfte van die kaas en die plakkies vleis. Pak dan ’n laag komkommer in, gevolg deur ’n paar skeppies salsa en nog ’n laag komkommer. Pak dan die res van die vleis, kaas en soetrissies in die brood, smeer die oorblywende mayonnaise en mosterd aan die binnekant en sit die dekseltjie op. 

Draai die brood stewig in waspapier en dan in foelie of kleefplastiek toe. Sit dit op ’n plat oppervlak neer en laat ’n broodplank bo-op rus. Pak ’n paar blikkies bo-op die plank en laat dit oornag só staan. Dis nie nodig om die brood in die yskas te sit nie – dit gaan dan in elk geval net klam word.

Trek die volgende oggend die foelie of kleefplastiek af, maar los die waspapier om die brood. Sny die brood met ’n baie skerp mes (’n elektriese mes werk uitstekend) soos ’n koek in wiggies en draai elke wiggie weer in waspapier toe voor julle vertrek.

WENK:
Jy kan ’n hele maaltyd in ’n toebroodjie pas en as jy ’n paar basiese reëls volg, sal die broodjie nie vog trek óf vervelig smaak nie – selfs al was julle heeldag op die pad. Geur jou bestanddele goed en maak seker die klammer bestanddele is in die middel, mooi tussen deur vleis of kaas.

3 variasies op die piekniekbrood:

Italiaanse piekniekbrood

Smeer die binnekant van die uitgeholde brood met basiliepesto en vul dit met lae vars roketblare, gemarineerde groente (soos artisjokke, soetrissies en sondroogtamaties), plakkies salami of prosciutto en dik snye fior de latte mozzarellakaasballe in die brood (foto bo).

Franse pan-bagnat

Gebruik ’n vulsel bestaande uit lae heelkorrelmosterd, blaarslaai, snytjies     hardgekookte eier, komkommer, tuna en mayonnaise gemeng met fyngekapte rooiuie en ’n liberale skeut olyfolie.

Britse shooter sandwich

Smeer die uitgeholde brood se binnekant met peperwortel. Braai twee dun steaks mediumgaar en skep die een dadelik in die brood. Braai fyngekapte sampioene en uie, geur dit met heelwat gekapte vars pietersielie swartpeper en ’n skeut worcestersous en skep ’n laag daarvan bo-op die steak. Sit die tweede steak bo-op die sampioene.