Kyk, nacho’s is vreklekker, maar te veel gesmelte kaas is nie goed vir jou spysvertering nie. Ek gebruik ricotta vir ’n gesonder weergawe, maar met die smaak skort daar niks.

Vir 4 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 15 minute

Jy benodig


1 pak (250 g) mielienacho’s (gebruik régte nacho’s)

1 houertjie (250 g) ricottakaas

½ fles (400 g) tamatiesalsa – Woolworths se Mild Chunky Salsa werk goed of sien die wenk

2 hande vol gekerfde biltong

3 ingemaakte jalapeñorissies, dun repies gesny

’n hand vol gerasperde pecorinokaas


Vir die guacamole


2 ryp avokado’s 

½ rooi-ui, fyngekap

1 knoffelhuisie, fyngekap

1 rooi brandrissie, fyngekap
sap van ½ suurlemoen 

swartpeper na smaak 

sout na smaak

Só maak jy

1 Maak die guacamole: Sny die avokado in blokkies en druk die helfte daarvan met ’n vurk fyn. Meng die avokadomoes en -blokkies met die res van die bestanddele en geur dit met sout en swartpeper.

2 Pak ’n laag nacho’s in ’n oondvaste bak en skep dan die helfte van die ricotta, die helfte van die salsa en die helfte van die biltong oor. Pak ’n paar skyfies jalapeño bo-oor.

3 Pak nog ’n laag nacho’s en skep die res van die bestanddele bo-op. Sprinkel laastens die pecorino oor. 

4 Bak die nacho’s teen 180 °C vir ongeveer 15 minute totdat die kaas gesmelt is. Sit dit dadelik voor saam met die guacamole.

Wenk: Maak jou eie tamatiesalsa: Geur ’n blik (410 g) gekapte tamatie met Tabasco, ’n fyngekapte knoffelhuisie, ’n fyngekapte halwe ui, ’n knypie gerookte paprika, en ’n eetlepel elk sterk blatjang en tamatiesous. Verhit dit tot kookpunt en laat dit prut vir 15 minute.