Min dinge laat jou binneste so glimlag soos die gedagte aan ’n warm vetkoek. Wat nog te sê een met biltong! Dié outjies is effe kleiner, soos soutpoffers, wat dit lekker langpadkos maak.


Jy benodig (Vir 10-15 vetkoeke)

• 1 eetlepel suiker
• 1 eetlepel sout
• 2 eetlepels droë melkpoeier
• 1 pakkie (10 g) kitsgis
• 1¼ koppie lou water
• 4 koppies koekmeel
• 1 koppie droë biltong, fyngekap
• 4 eetlepels botter, gesmelt
• 750ml kookolie vir braai

Só maak jy

1. Roer die suiker, sout, melkpoeier, gis en water saam. Meng dit dan saam met die meel en biltong totdat dit ’n deeg vorm. Knie dit vir minstens 10 minute. Vorm die deeg in ’n bol.
2. Smeer die botter buite-om die deegbol, sit dit in ’n bak wat heelwat groter is as die deegbol, en bedek die bak losweg met kleefplastiek. Laat dit vir ’n uur of twee op ’n louwarm plek staan om tot dubbel die hoeveelheid te rys.
3. Knie die deeg weer vir sowat 3 minute en verdeel dit dan in 2. Rol elke deel in ’n dik wors en sny dit in 6 stukke. Sit dit op ’n meelbestrooide snyplank, sit weer kleefplastiek oor en laat dit vir nog 30 minute rys.
4. Gooi genoeg kookolie in ’n pan sodat dit 1-2cm diep is. Verhit die olie totdat ’n klein stukkie deeg dadelik begin dryf en braai. Braai 3 vetkoeke op ’n slag. Draai dit om sodra dit goudbruin is aan die een kant, draai die hitte laer en braai dan die ander kant.
5. Sit dit warm voor met korrelkonfyt en sterk cheddarkaas.