Jy benodig

(maak 15-20 broodjies)

• 1 kg (7 koppies) koekmeel
• 1 eetlepel (15 ml) suiker
• 2 teelepels (10 ml) sout
• 1 pakkie (10 g) kitsgis
• 650-750 ml louwarm water
• olie of botter om die blikbekers te smeer

Só maak jy

1. Meng die meel, suiker en sout saam en roer dan die kitsgis by. Gooi 650 ml van die louwarm water by en maak die deeg – as die mengsel te styf is, gooi nog ’n bietjie water by. Knie die deeg vir ongeveer 10 minute tot dit lekker glad en elasties is.

2. Smeer ’n blikbeker vir elkeen wat saam kamp. Sit ’n vuisgrootte stuk deeg wat jy mooi afgerond het, in elke beker en laat dit rys tot dubbel die volume.

3. Buig ’n stukkie draad en hang die bekers bo die warm kole van jou kampvuur. Bak die broodjies vir ’n halfuur of wat tot hulle mooi bruin en deurgaar is.

Weg Ry & Sleep sê: Met hierdie basiese deegresep kan jy ook ’n potbrood in jou platboompot maak, brood in ’n broodpannetjie bak én roosterkoek, broodrolletjies of pizzabasisse maak.