Foto’s Myburgh du Plessis  

Beesvleis-bieliebroodjie

Vleis vir die vlees

Hou ’n bevrore pakkie hiervan byderhand en gebruik dit as ’n pastasous of ’n broodjievulsel van formaat.

Jy benodig

(genoeg vir 10)

  • 1 kg beesborsstuk (brisket)
  • 2 soetrissies, gekap
  • 1 blikkie (410 g) tamatiesmoor
  • 1 koppie water
  • 1 teelepel fyn komyn
  • 1 teelepel rooipeper
  • 1 teelepel gerookte rissievlokkies
  • 1 teelepel droë origanum
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en swartpeper na smaak

Vir die broodjie

  • 2 snye suurdeegbrood botter
  • ¼ koppie gerasperde cheddarkaas
  • 2 agurkies, in dun skryfies gesny

Só maak jy

1 Sit die vleis en al die ander bestanddele (behalwe die broodjie) in ’n swartpot met ’n deksel en bak dit vir 1 uur teen 150 ºC. Sit die oond af, maar moenie die oonddeur oopmaak nie. Los die pot met die vleis oornag in die oond.

2 Vlok die die volgende dag die vleis in die sous – indien dit nie dik genoeg is nie, prut dit oop op die stoof tot dit verdik. Proe en geur dit na smaak met sout en peper en skep dit in ’n ziplock-sakkie.

3 Smeer die brood aan albei kante met botter, skep van die vulsel op een van die snye, pak die agurkies daarop en eindig met die kaas.

4 Braai die brood in ’n pan met botter tot dit mooi goudbruin is. Draai dit om en braai die ander kant ook. Jy kan ook die broodjie in ’n jafelpan maak.

Weg Ry & Sleep sê Die sous kan op die kole gemaak word. Verhit dit vir 10 minute met sous en al tot kookpunt, en los dit dan toe in lou as vir ’n paar uur (selfs oornag) totdat die vleis sag is en maklik uitmekaarval.



Ham-en-kaasbroodjie

Klassieke staatmaker

Hierdie ham-en-kaasbroodjie word met ’n skerp kaassous en mosterd gegeur.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 5 eetlepels botter, plus ekstra
  • 2 eetlepels meel
  • ¾ koppie melk
  • 1 teelepel dijonmosterd
  • 1 eiergeel
  • 8 snye brood
  • 4 snye ham
  • 1 koppie gerasperde gruyèrekaas

Só maak jy

1 Smelt die botter in ’n potjie en roer die meel daarby tot gemeng. Klits dan die melk bietjies-bietjies daarby in tot dit ’n gladde sous vorm, en prut dit vir 3 minute.

2 Haal die sous van die plaat af en klits die mosterd en eiergeel daarby in.

3 Verdeel die sous, ham en kaas tussen vier snye brood en sit die oorblywende skywe bo-op.

4 Smelt ekstra botter in ’n pan en braai die toebroodjies daarin tot bros en goudbruin aan albei kante.

Weg Ry & Sleep sê As jy wil tyd spaar, kan jy klaargemaakte witsous koop en dit met ’n eier verdik. 



Basaarjafels

Soos Ouma dit gemaak het

Wat is ’n basaar sonder ’n maalvleisjafel? Ek hou van myne met ’n bietjie groente en ’n ordentlike skop kerrie.

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • 1 eetlepel olyfolie
  • 250 g beesmaalvleis
  • 250 g varkworsies
  • 1 eetlepel kerriepoeier
  • ½ teelepel komynpoeier
  • ½ koppie ertjies
  • 2 wortels, fyngekap
  • ½ koppie water
  • sout en swartpeper na smaak

Vir die broodjies

  • 16 snye witbrood
  • botter

Só maak jy

1 Verhit die olyfolie in ’n pan en voeg die maalvleis by. Druk die vleis uit die varkworsies en gooi dit ook in die pan. Voeg die kerrie- en komynpoeier by en braai die mengsel tot mooi goudbruin en gaar.

2 Roer die ertjies, wortel en water by, geur die vleis na smaak met sout en peper, sit die deksel op en prut dit vir 10 minute.

3 Smeer die brood met botter, vul twee snye brood met ’n skeppie maalvleismengsel en braai die toebroodjie in ’n jafelpan tot goudbruin.

Weg Ry & Sleep sê Jy kan hierdie vulsel gerus vries en dit later vir enigiets van ’n roti tot ’n braaipastei gebruik.



Braaipasteitjies

Japtraphappies

Gebruik enige vulsel wat jy normaalweg op jou pizza sou sit om dié deeghalfmaantjie te vul vóór jy dit braai – sorg net dat kaas een van die bestanddele is.

Jy benodig

(genoeg vir 8)

Vir die deeg

  • 3-4 koppies broodmeel
  • 1½ koppies louwarm water
  • 10 g gis
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 eetlepel suiker
  • 2 teelepels seesout

Vir die vulsel

  • 1 koppie bokmelkkaas
  • 2 koppies gerasperde mozzarellakaas
  • 125 g salamiskyfies
  • 10 pikantrissies (peppadews)
  • 10 sondroogtamaties
  • 2 hande vol vars roketblare

Só maak jy

1 Meng die meel, water, gis, olyfolie, suiker en sout saam en knie dit vir 10 minute. Bedek en laat dit eenkant staan om in volume te verdubbel.

2 Verdeel die deegbol in 8 bolle en laat dit vir 15 minute rus. Rol dan elke bol in ’n sirkel uit. Verdeel die vulselbestanddele (behalwe die roketblare) tussen die deegsirkels en sprinkel dit op die een helfte. Vou die ander helfte bo-oor.

3 Sit ’n groot gietysterpan of plat gietysterbraaiplaat in ’n ketelbraai oor matige warm kole. Pak die deegpasteie bo-op. Sit die ketelbraai se deksel op en draai die pasteie ná 8 minute om. Bak dit vir nog 5-10 minute tot dit mooi goudbruin en gaar is.

4 Sny die kant van die pasteie oop, druk roketblare daarin en sit dit warm voor.

Weg Ry & Sleep sê Sit hierdie pasteitjies voor met ’n bakkie soet rissiesous daarby.



Ham-avokado-en-eier- broodjie

Brekfisbroodjie

Hierdie alles-in-een-ontbyttoebroodjie maak ’n mens moeiteloos in die kampterrein.

Jy benodig

(genoeg vir 1)

  • 2 snye brood
  • botter
  • 2 eiers
  • soet rissiesous na smaak
  • ½ avokado, fyngedruk
  • 2 velletjies ham
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Smeer die brood aan albei kante met botter en druk dan ’n gaatjie in die middel van elke sny brood – ’n vonkelwynglas is net reg.

2 Verhit ’n pan en sit die sny brood daarin. Breek ’n eier in die gaatjie in die brood sodat die eiergeel in die gaatjie rus. Gebruik die agterkant van ’n teelepel op die eierwit oor die sny brood te versprei. Braai die brood totdat dit goudbruin is aan die onderkant, draai dit om en braai die ander kant vir ’n paar minute. Skep die broodjie uit die pan.

3 Drup soet rissiesous oor die brood, skep van die avokado oor en rangskik dan die ham daarop. Geur die broodjie na smaak met sout en swartpeper en eindig met die tweede sny brood. Val weg!

Weg Ry & Sleep sê Jy kan die ham met brosgebraaide spek vervang.



Thaise hoender-en-pynappeljafel

Veelsydige vulsel

Hierdie hoender word liggies in klappermelk geposjeer en dan met Thaise speserye gegeur. Jy kan die mengsel voor die tyd maak en dit vries.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2-3 hoenderborsies
  • 1 blikkie (410 g)
  • klappermelk
  • 1 eetlepel Thaise kerriesmeer
  • 1 knoffelhuisie, gerasper
  • 1 rooi brandrissie (of gebruik 1 teelepel rissiesous)
  • sout en swartpeper na smaak
  • sap van ½ suurlemoen of lemmetjie
  • 2 vars pynappelringe, in blokkies gesny
  • 1 koppie koljanderblare, gekap

Vir die broodjies

  • 8 snye witbrood
  • botter

Só maak jy

1 Sit die hoenderborsies in ’n potjie en gooi die klappermelk, Thaise kerriesmeer en knoffel daarby. Verhit die melk tot net onder kookpunt, en laat dit liggies prut vir 20 minute.

2 Skep die vleis uit die vloeistof en trek die vleis met twee vurke uitmekaar. Geur die vleis na smaak met die rissie, sout, swartpeper en suurlemoensap, en meng dit dan met die vars pynappel en koljanderblare.

3 Smeer die brood met botter, vul twee snye brood met ’n skeppie maalvleismengsel en braai die toebroodjie tot goudbruin in ’n jafelpan.

Weg Ry & Sleep sê As jy lus is vir iets anders, is hierdie ook ’n voortreflike vulsel vir pizza en pasteie