Vir 6 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 30 minute

By die huis kan jy dié gereg onder die oond se roosterelement sit sodat die kaas kan smelt, maar as jy kamp, is dit nie nodig nie.

Jy benodig

• 6 eetlepels botter
• 5 eetlepels meel
• 5 koppies melk
• ’n knippie neutmuskaat
• ½ teelepel sout plus ekstra om die pasta te kook
• 1-2 eetlepels heelkorrelmosterd
• 500 g pasta soos macaroni of penne
• 500 g boerewors
• 150 g kaas soos camembert in skywe 
• 1 teelepel vars origanum, fyngekap

Só maak jy

1. Smelt die botter stadig in ’n groot kastrol en roer dan die meel met ’n houtlepel daardeur tot goed gemeng. Hou die kastrol op ’n lae hitte, voeg ¼ koppie melk by die meelmengsel en roer dit baie goed sodat daar geen klonte vorm nie. Herhaal die proses nog 3-4 keer met ’n ¼ koppie melk op ’n slag en sorg dat die melk en meelmengsel elke keer baie goed gemeng is voor jy nog melk byvoeg. Voeg dan die res van die melk by en verlaag die hitte tot matig. Hou aan met roer totdat die witsous begin dik raak en kook, en roer dan die neutmuskaat, sout en mosterd by. Haal die pot van die hitte af en hou die sous eenkant.

2. Verhit ’n groot kastrol met water tot kookpunt en voeg taamlik baie sout by. Kook die pasta in die soutwater totdat dit net-net gaar is.

3. Sny solank die rou wors in stukkies van 2 cm en braai dit vinnig in ’n warm pan totdat dit bruin maar nog sappig is.

4. Dreineer die pasta en gooi dit in ’n swartpot of oondbak. Gooi die witsous en origanum oor die pasta en roer dit deur. Sprinkel dan die stukkies wors daaroor en pak laastens die kaasskywe bo-op. As jy kamp, kan jy die swartpot langs die vuur laat staan totdat die kaas gesmelt het. Andersins kan jy die pasta vir 10 minute onder die oond se rooiwarm roosterelement bak.