Foto’s Michelle Parkin / Kosassistent Tani Kirsten

Gortrisotto met lamsvleis

Die gort is gaar!

Gort maak ’n lieflik neutagtige risotto – en met min moeite maak jy ’n vullende en smaaklik kampaandete!

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • olie vir braai  
  • 4-6 lamsboudtjops
  • 2 koppies groenteaftreksel
  • 1 koppie droë witwyn
  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 koppies gort
  • 4 vars tiemietakkies (of gebruik 1 teelepel droë tiemie)
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit ’n bietjie olie in ’n kastrol en braai die tjops tot goudbruin en gaar. Voeg die helfte van die aftreksel en wyn by en prut dit stadig vir sowat 1½ uur totdat die vleis sag is. Skep die vleis uit die vloeistof en vlok dit met twee vurke.

2. Smelt solank die botter in ’n tweede kastrol en braai die ui tot sag en glansend. Roer die knoffel, gort en tiemie daarby in.

3. Gooi die res van die aftreksel en wyn by die gort en prut dit met die deksel op vir sowat 30 minute of totdat die gort gaar is. Geur dit na smaak met sout en peper.

4. Roer laastens die gevlokte vleis deur die gort.

Weg Ry & Sleep sê
Om tyd te spaar kan jy in die plek van die lamstjops enige koue gaar lamsvleis (soos boud) vlok en dit by die risotto voeg.



Kekerertjiekerrie

Vinnig, maklik, lekker!

Hierdie vinnige kerrie is absoluut heerlik! Gooi gebraaide varkworsies by as jy ’n bietjie meer om die lyf soek.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 teelepel borrie
  • 2 teelepels fyn komyn
  • 2 teelepels fyn koljander
  • 1 blik (410 g) Indiese tamatiemengsel
  • 2 blikkies (410 g elk) kekerertjies, gedreineer
  • 1 blik (410 g) klapperroom
  • sout en swartpeper na smaak
  • ’n bossie vars koljander (opsioneel)
  • rys en poppadums om voor te sit

Só maak jy

1. Smelt die botter en braai die ui tot mooi sag en glansend. Voeg die knoffel, borrie, komyn en koljander by en braai dit vir 1 minuut tot geurig.

2. Roer die tamatiemengsel en keker- ertjies by en verhit alles saam voor jy dit vir 5 minute laat prut. Gooi die klapperroom stadig by terwyl jy dit deurroer. Geur dit na smaak met sout en peper.

3. Prut die kerrie vir 10 minute oor baie lae hitte – dit moenie borrel nie. Roer ook die mengsel gereeld sodat dit nie vasbrand nie. Sprinkel vars koljanderblare oor en sit die kerrie voor met rys en warm poppadums.

Weg Ry & Sleep sê
Vervang gerus die speserye met 2 eetlepels van jou gunstelingkerriepoeier. 



Aartappel-en- boontjiekoekies

Handjies klap…

Hierdie koekies is heerlik met gebraaide spek vir ontbyt of as ’n bykos by die braai.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, fyngerasper
  • 1 blik (410 g) cannelliniboontjies, afgespoel en gedreineer
  • 2 groot aartappels, gerasper
  • 2 eetlepels mielieblom
  • ½ koppie fyngerasperde parmesaankaas
  • sout en swartpeper na smaak
  • olie vir braai

Só maak jy

1. Smelt die botter in ’n pan en braai die uie daarin tot glansend en geurig.

2. Druk die boontjies met ’n vurk fyn en meng dit saam met die ui deur die rou aartappel, mielieblom en kaas. Geur dit met sout en peper.

3. Verhit 2-4 eetlepels olie in ’n pan. Skep lepels vol van die boontjiemengsel in die pan en druk dit effens plat. Braai dit oor matige hitte tot goudbruin voordat jy dit omdraai en die ander kant ook braai. Skep dit uit en laat dit op kombuispapier dreineer.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan enige wit boontjie gebruik vir hierdie resep.



Warm lensie-en- sampioenslaai

Laat waai met slaai

Hierdie warm lensieslaai is ’n vinnige ete op sy eie óf sit dit voor met ’n stukkie gebraaide wors.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 50 ml botter
  • 500 g gemengde sampioene
  • 1 blik (410 g) lensies, gedreineer
  • 2 takkies vars tiemie (of gebruik 1 teelepel droë tiemie)
  • 50 ml olyfolie sap van 1 suurlemoen
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 pak (200 g) babaspinasieblare
  • 2 wiele feta, gekrummel

Só maak jy

1. Verhit ’n groot pan oor ’n hoë hitte. Smelt die botter daarin en braai die sampioene in sarsies tot goudbruin.

2. Roer die lensies en tiemie by die sampioene en roer die mengsel tot deurwarm.

3. Haal die pan van die plaat af en gooi die olyfolie en suurlemoensap daaroor. Geur dit na smaak met sout en peper.

4. Roer die spinasie en feta deur en sit dit dadelik voor as ’n vinnige middagete. Of pak dit in ’n plastiekhouer met ’n vurkie vir padkos.

Weg Ry & Sleep sê
Maak seker die pan wat jy gebruik, is lekker groot. En laat die botter vinnig borrel voor jy die sampioene braai. Dis die beste om dit in sarsies te braai, anders trek die sampioene water.



Gerookteham-en- boontjiesop

Raak warm

Maak hierdie sop as jy laat by jou bestemming aankom en net vinnig iets warms wil eet.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 4 eetlepels botter
  • 4 kasslersteaks, in blokkies gesny
  • 1 ui, gekap
  • 1 groot wortel, geskil en fyngekap
  • 2 selderystokkies, fyngekap
  • 2 blikkies (410 g elk) botter- of cannellinibone, gedreineer
  • 1 liter hoenderaftreksel
  • sout en swartpeper na smaak
  • vars pietersielie om voor te sit
  • vars brood om voor te sit

Só maak jy

1. Verhit die helfte van die botter en braai die kasslerblokkies tot gaar en bros. Skep die vleisblokkies uit en gooi die ui, wortel en seldery in dieselfde kastrol met die res van die botter. Roerbraai die groente tot sag.

2. Voeg die bone, aftreksel en vleisblokkies by, roer alles goed deur en laat die sop vir 15 minute prut.

3. Druk van die sop met ’n vurk of die agterkant van ’n houtlepel fyn en geur dit na smaak met sout en peper. Sprinkel pietersielie oor die sop en sit dit voor met lekker vars brood.

Weg Ry & Sleep sê
Die kassler kan jy vervang met ’n pakkie dikgesnyde spek.



Chilli con carne

Cowboykos

Hierdie chilli con carne smaak die volgende dag net so lekker as ’n jaffelvulsel!

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels kookolie
  • 500 g beesmaalvleis
  • teelepels fyn komyn
  • 1 teelepel rissiepoeier (of gebruik 1 fyngekapte vars rissie)
  • 2 blikke (410 g elk) tamatie-uie-en-groenrissie- mengsel
  • 1 blik (410 g) swartboontjies, gedreineer
  • ½ blik (200 g) heel mieliepitte
  • ½ beesaftrekselblokkie
  • sout en swartpeper na smaak
  • rys en nachotjips om voor te sit
  • vars koljander, suurroom en avokado om voor te sit

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die maalvleis tot goudbruin en gaar. Voeg die komyn en rissie by en braai dit vir nog 2 minute tot geurig.

2. Roer die tamatiemengsel, boontjies, mielies en aftrekselblokkie daarby en prut dit vir 30 minute.

3. Proe en geur die mengsel na smaak met sout, swartpeper en nog rissie, indien jy dit verkies.

4. Sit die chili con carne voor met rys en nachotjips, met daarby vars koljanderblare, suurroom en avokado.

Weg Ry & Sleep sê
Swartbone word ook pinto-beans genoem – dis redelik algemeen beskikbaar by supermarkte. As jy dit nie kan kry nie, kan jy dit met rooi niertjiebone vervang óf jy kan selfs ’n mengsel van die twee probeer.