Vir 6 pasteitjies
Voorbereityd 20 minute
Baktyd 20 minute

Jy benodig

250 g dik varkspek, in blokkies gesny
1 soetrissie, gekap
1 ui, gekap
spare rib-braaisous (ons het Kraft Honey Hickory Smoke gebruik)
1 koppie mozzerellakaas, gerasper

Vir die kors
1 ½ koppie meel
½ koppie botter 
½ koppie roomkaas

Só maak jy

1. Maak eers die kors: Vryf die botter in die meel en meng die roomkaas daarby in totdat ’n deeg gevorm het.(Jy kan ’n voedselverker gebruik om dit binne minute te doen.) Bedek dit met kleefplastiek en plaas dit in die vrieskas vir 20 minute.

2. Braai die spek, uie en soerissie saam totdat dit sag en gaar is en geur dit dan met die braaisous.

3. Rol die deeg uit en maak 6 klein sirkels. Skep ’n paar lepels van die beslag op die een helfte van elke sirkel en strooi van die kaas bo-oor. Vou die deegsirkeltjies toe om halfmaanvormige pasteitjies te maak. Druk die deegrande met ’n vurk se tande toe en plaas die pasteitjies vir 15 minute in die vrieskas.

4. Bespuit ’n braairooster deeglik met Spray&Cook. Braai die pasteie hoog oor matige kole (of in ’n skottelbraai) totdat die deeg bros en gaar is. Draai hulle gereeld om sodat die deeg nie swart brand nie! Jy kan dit ook vir 20 minute teen 180 °C op ’n bakplaat in die oond bak. Onthou om die pasteie ná 10 minute om te draai.

Wenk: Jy kan hierdie degie ook om worsrolletjies vir padkos te maak. Vir die vulsel braai sy maalvleis en geur dit onder meer met uie, blatjang, hawermout en Aromat.