Japtraphappies

Jy benodig

(genoeg vir 8)

Vir die deeg

  • 3-4 koppies broodmeel
  • 1½ koppies louwarm water
  • 10 g gis
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 eetlepel suiker
  • 2 teelepels seesout

Vir die vulsel

  • 1 koppie bokmelkkaas
  • 2 koppies gerasperde mozzarellakaas
  • 125 g salamiskyfies
  • 10 pikantrissies (peppadews)
  • 10 sondroogtamaties
  • 2 hande vol vars roketblare

Só maak jy

1 Meng die meel, water, gis, olyfolie, suiker en sout saam en knie dit vir 10 minute. Bedek en laat dit eenkant staan om in volume te verdubbel.

2 Verdeel die deegbol in 8 bolle en laat dit vir 15 minute rus. Rol dan elke bol in ’n sirkel uit. Verdeel die vulselbestanddele (behalwe die roketblare) tussen die deegsirkels en sprinkel dit op die een helfte. Vou die ander helfte bo-oor.

3 Sit ’n groot gietysterpan of plat gietysterbraaiplaat in ’n ketelbraai oor matige warm kole. Pak die deegpasteie bo-op. Sit die ketelbraai se deksel op en draai die pasteie ná 8 minute om. Bak dit vir nog 5-10 minute tot dit mooi goudbruin en gaar is.

4 Sny die kant van die pasteie oop, druk roketblare daarin en sit dit warm voor.

Weg Ry & Sleep sê Sit hierdie pasteitjies voor met ’n bakkie soet rissiesous daarby.