Foto’s: Michelle Parkin 

Patatpotbrood

Kyk so ’n aspatat!

Hierdie besonderse sagte brood verg effens meer moeite as die ander, maar dit is die moeite werd... ’n mens het mos tyd wanneer jy kamp.

Jy benodig

(maak 1 groot brood)

Vir mengsel 1

  • ¾ koppie witbroodmeel
  • ½ koppie louwarm water
  • 2 eetlepels heuning
  • ¼ teelepel kitsgis

Vir Mengsel 2

  • 1¼ koppie witbroodmeel
  • 2 eetlepels droë melkpoeier
  • ¾ teelepel kitsgis
  • 1½ eetlepels botter
  • 1-2 gaar patats
  • 1 teelepel sout

Só maak jy

1. Maak mengsel 1 aan Meng al die bestanddele goed saam in ’n mengbak. Bedek die bak met plastiek en hou dit vir 30 minute eenkant op ’n warm plek.

2. Maak mengsel 2 aan Meng die meel, melkpoeier en kitsgis goed saam. Sprinkel dit liggies bo-oor mengsel 1, maar moet dit glad nie roer nie. Sit weer plastiek oor en sit dit vir ’n uur (of selfs oornag) op ’n warm plek. Keer die deeg uit en knie dit vir 10 minute met die botter.

3. Druk die patat fyn (soos kapokaartappel) en knie ½ koppie daarvan by die deeg in totdat dit glad en elasties voel. Voeg die sout by en knie dit vir nog 5 minute deur. Vorm ’n bol met die deeg.

4. Smeer die deegbol met olyfolie, sit dit in ’n bak, bedek dit met kleefplastiek en laat dit eenkant op ’n warm plek rys tot dubbel die volume (ongeveer 2 uur).

5. Keer die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Verdeel dit in sowat 10 bolletjies. Smeer ’n nr. 3-pot met botter en pak die bolletjies daarin. Sit kleefplastiek oor en laat dit weer eenkant rys vir 30 minute. Kry intussen die kole gereed.

6. Bak die brood vir 20-30 minute op ’n braaidriehoek oor matige warm kole. Sit ook ’n paar kooltjies op die deksel.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan alles doen tot by die einde van stap 4 en dit dan in die yskas sit. Neem die sak deeg saam in die koelboks as jy gaan kamp en bak die brood die eerste aand.



Geenknie-bruinbrood

Wie wil die korsie hê?

Hierdie is die beste bruinbrood wat ek nóg by die huis gemaak het. Soos die naam sê, word die brood nie geknie nie... en hy rys boonop vinnig. Sit kruie volgens jou smaak by of sprinkel sade oor net voor jy hom bak – dit sorg vir ekstra lekkerte op daardie boonste korsie!

Jy benodig

(maak 1 groot brood)

  • 1 pak (1 kg) Eureka Mills- bruinbroodmeel
  • 1 eetlepel roosmarynblaartjies, fyngekap
  • 1 koppie semels
  • 2 teelepels fyn himalajasout
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 5½ koppies louwarm water
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 eetlepel asyn
  • botter om te smeer

Só maak jy

1. Meng al die droë bestanddele in ’n plastiekbak saam. Roer dan die water, olyfolie en asyn daarby in tot die mengsel ’n slap deeg vorm.

2. Smeer ’n groot platboomgietysterpot (nr. 3) lekker dik met botter – onthou ook die binnekant van die deksel!

3. Krap die beslag – dit sal baie slap wees – uit in die pot. Bedek dit met kleefplastiek en laat dit vir presies 25 minute in die son staan. Moenie dit vergeet en langer laat staan nie! Haal die plastiek af en sit die pot se deksel op.

4. Kry ’n enkellaag matige kole gereed en posisioneer ’n braaidriekhoek daaroor. Sit die pot op die driehoek en skep ’n paar kooltjies op die deksel. Bak die brood vir 2 uur (maak dus seker jy het ’n tweede vuur aan die gang sodat jy die kole elke nou en dan kan aanvul om die temperatuur konstant te hou).

5. Gebruik ’n skoon sosatiestokkie om te toets of die brood deurgaar is – dit is reg as die stokkie skoon uitkom. Dop die brood uit, laat dit effens afkoel... en geniet hom!

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie brood maak ’n voortreflike korsie wat ewe gaaf werk as ’n padkostoebroodjie – sónder om pap te raak. 



Chorizo-en-mielie-jaffelskons

Mini-pizzas

Voer ’n jaffelpan met deeg uit en skep ’n lekker vulsel daarin voordat jy dit braai. Dit smaak amper soos ’n mini-pizza.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 stuk (15 cm) chorizo of salami, fyngekap
  • 1 blik (410 g) mielies, gedreineer
  • 400 ml Ina Paarman se tamatie-en-basilie-pastasous
  • 1 klein pakkie (500 g) bruismeel
  • 1 blik (330 ml) bier
  • ’n knippie sout

Só maak jy

1. Roer die chorizo, mielies en pastasous in ’n mengbak saam.

2. Gooi die bier en sout by die bruismeel en roer alles saam tot dit ’n deeg vorm. Gebruik ’n wynbottel om die deeg 3 mm dik uit te rol op ’n meelbestrooide werkoppervlak. Sny sirkels uit die deeg wat net-net groter is as jou jaffelpan.

3. Smeer die jaffelpan met botter en voer albei kante met die deeg uit – dit moet effens oorsteek. Skep van die chorizovulsel in die middel en maak die jaffelpan versigtig toe.

4. Braai die jaffels oor die kole vir 5-10 minute aan elke kant (of gebruik ’n gasvlam). Die jaffels is reg as dit goudbruin buite-om en gaar binne is.

Weg Ry & Sleep sê
Olywe, spek, oorskietbraaivleis, kaas... die moontlikhede vir hierdie mini-pizzas is eindeloos.



Olyfpotbrood

Die maklikste (beste) brood

Hierdie brood hoef jy nie te knie nie. Dis die minste moeite wat jy ooit met ’n brood sal hê en beslis ook die smaaklikste een wat jy al geproe het. Die deeg móét jy oornag buite die yskas laat staan.

Jy benodig

(maak 1 middelslag-brood)

  • 3 koppies witbroodmeel
  • 1½ teelepel sout
  • ½ teelepel droë kitsgis
  • ¼ koppie ontpitte groenolywe
  • 1½ koppie louwarm water

Só maak jy

1. Meng die meel, sout, gis en olywe in ’n groot mengbak saam. Gooi die water by en roer dit met ’n houtlepel tot net-net gemeng. (As die beslag regtig te styf is om met die houtlepel te meng, voeg so 1-2 eetlepels ekstra water by.) Moenie dit knie nie. (Al sê jou ouma ook wat. – Red.)

2. Bedek die mengbak met kleefplastiek en laat die deeg vir minstens 12 uur buite die yskas staan (maar nie langer as 24 uur nie). Moenie dit in die son sit nie; dit moet lekker stadig rys, teen kamertemperatuur.

3. Sprinkel meel op ’n werkblad (of snyplank) wanneer jy gereed is om die brood te bak. Keer die deeg versigtig daarop uit. Vryf ’n bietjie meel in jou hande en vorm ’n bol met die deeg. Bedek die deegbol op die werkblad met plastiek en laat dit vir 30 minute rys terwyl jy solank die pot regkry.

4. Kry ’n bed met kole gereed. Sit ’n platboomswartpot (nr. 2 of groter) in die kole met ’n paar kole op die deksel. Bak die pot net so leeg oor die kole vir 30 minute sodat dit vuurwarm word.

5. Lig die warm pot versigtig van die kole af. Sit die uitgerysde deegbol ligweg in die middel van die pot en sit dadelik die deksel op. Sit die pot op ’n braaidriehoek oor vuurwarm kole en gooi weer ’n paar kole op die deksel.

6. Bak die brood vir 35-45 minute. Haal dit dadelik uit die warm pot en laat dit eenkant afkoel voordat jy dit sny. Hierdie brood bly vir tot 4 dae lekker.

Weg Ry & Sleep sê
Moenie die brood in ’n ander soort pot probeer bak nie; die vuurwarm ysterpot is juis die geheim.



Kersie-en-spek-blikbroodjies

Bliksoldaatjies

Bêre al die leë blikkies wanneer jy tamaties of baked beans of perskehalwes gebruik. Veral kinders is mal oor hulle eie broodjie-in-’n-blik.

Jy benodig

(maak 4 broodjies)

  • 1 pakkie (250 g) spek, gesnipper
  • 150 g glanskersies, middeldeur gesny
  • 1 koppie braaisous
  • 1 eetlepel heuning
  • 1 eetlepel Tabascosous
  • 1 klein pakkie (500 g) bruismeel
  • 1 blik (330 ml) bier
  • ’n knippie sout

Só maak jy

1. Smeer vier skoon blikkies met botter. Kry ’n bed met kole gereed.

2. Braai die spek tot bros. Roer die kersies, braaisous, heuning en Tabasco daarby in en laat prut dit vir 5 minute. Verdeel die sous tussen die vier gesmeerde blikkies.

3 Meng die bruismeel, bier en sout goed saam in ’n mengbak. Verdeel die deeg in 4 bolle en druk ’n bol in elke blikkie. Pak die blikkies in ’n groot platboomswartpot en sit ’n deksel op wat mooi styf pas.

4. Sit die swartpot versigtig op ’n braaidriehoek oor die warm kole, en skep ’n paar kole op die deksel.

5. Bak die broodjies vir ongeveer 20 minute. Toets of die broodjies deurgaar is en haal dit uit.

Weg Ry & Sleep sê
Roer ’n koppie mielies deur die deeg voordat jy die deegbolle in die blikkies druk.



Bruinsuikerbrood

Watwo droog!

Hierdie brood vorm sy eie sous wat oor die brood loop wanneer jy dit omdop... Heerlik!

Jy benodig

(maak 1 middelslag-brood)

  • 5¼ koppies witbroodmeel
  • 1 eetlepel kitsgis
  • 1 koppie ingedampte melk (Ideal-melk)
  • ½ koppie botter, in blokkies gesny
  • ½ koppie witsuiker
  • ¾ koppie water
  • 1 eetlepel olyfolie
  • ½ koppie bruinsuiker
  • 4 teelepels fyn kaneel

VIR DIE STROOP

  • ½ koppie botter
  • 1 koppie bruinsuiker

Só maak jy

1. Maak die stroop Smelt die botter en suiker oor lae hitte in die platboompotjie waarin jy die brood gaan bak. Laat dit eenkant afkoel.

2. Meng die meel en gis goed deur. Verhit die ingedampte melk effens en smelt die botter en ½ koppie witsuiker daarin. Haal dit van die hitte af en roer die water daar- by in. Laat die mengsel afkoel tot louwarm.

3. Roer nou die louwarm melkmengsel deur die meelmengsel en knie dit vir 10 minute tot dit ’n gladde deeg vorm. Vorm ’n bol daarmee en smeer die deegbol met die olyfolie. Sit dit in ’n mengbak en bedek dit met kleefplastiek. Laat dit eenkant rys tot dubbel die volume.

4. Krap die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en rol dit uit tot ongeveer 2 cm dik. Meng die oorblywende bruinsuiker en kaneel. Sny die deeg in stukke van 3 cm. Pak ’n laag van die deegstukkies onderin die potjie. Sprinkel van die kaneelsuiker oor soos wat jy aangaan. Laat die pot weer vir 30 minute eenkant staan om te rys.

5. Kry solank matige kole reg. Sit die pot oor die kole en bak die brood vir ongeveer 50 minute – onthou om ’n paar kooltjies op die deksel te sit. 6 Keer die brood uit op ’n opdienbord en laat almal stukke afbreek en deur die sous trek. Hemels!

Weg Ry & Sleep sê
Die botter- en-bruinsuiker sous kan jy met 1 blik kondensmelk vervang