Maak 4 groot hamburgers | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 8 minute

Jy benodig

VIR DIE PATTIES

• 400 g volstruis of beesmaalvleis
• 200 g varkmaalvleis
• ¼ teelepel gekraakte suurlemoenswartpeper
• 2 eetlepels sojasous ¼ koppie droë rooiwyn
• 100 g brie

OM VOOR TE SIT

• 4 saadrolletjies
• botter om te smeer
• roketblare, skoongewas
• ½ rooiui, in dun ringe gesny
• 4 eetlepels bessiesous (soos Goldcrest Wholeberry Cranberry Sauce)

So´ maak jy

1. Meng al die bestanddele vir die hamburgerpatties (behalwe die kaas) goed in ’n groot bak saam. Verdeel die mengsel in 4 ewe groot bolle. Sny die skil van die kaas af en sny dit in vier skywe. Vou ’n bol maalvleis om ’n stuk kaas en vorm ’n groot, plat pattie. Sorg dat die kaas heeltemal deur die vleis omring is. Sit die patties in die yskas totdat dit ferm genoeg is om te braai.

2. Smeer die patties goed met olyfolie en braai dit vir 3 minute aan die een kant. Draai hulle versigtig om en smeer die bokant goed met braaisous. Braai die ander kant ook vir 3 minute, draai die patties weer om en bedek die ander kant ook goed met braaisous.

3. Haal die patties van die hitte af. Pasop om dit nie oorgaar te maak nie – volstruis is op sy sappigste as dit mediumgaar is. Onthou, omdat die middel met kaas gevul is, sal die vleis vinniger deurgaar raak as ’n gewone pattie. 

4. Sit dit dadelik voor op rolletjies wat met botter gesmeer is, saam met roketblare, dun uieringe en ’n skeppie bessiesous bo-op. Geniet dit saam met die res van die bottel rooiwyn – verkieslik merlot of pinotage. 

WENK: Vir variasie kan jy die brie met bokmelkkaas vervang