Foto's: Toby Murphy

Aartappel-en-avokadoslaai

Waar’s die mayonnaise?

’n Aartappelslaai sonder mayonnaise? Ja! Jy kan die sous in die kampterrein maak en met ’n vurk fyndruk en meng, maar dis tog romeriger as jy dit in ’n versapper glad pols – maak die sous dus die aand voor jy ry en gooi dit by die kamp oor die slaai.

Jy benodig

(genoeg vir 6) 4 mielies 2 rooi soetrissies 1 kg aartappels 1 avokado ½ koppie Bulgaarse jogurt (of gebruik karringmelk) 1 koppie fyngekapte koljanderblare 1 knoffelhuisie, gerasper 1 rooi brandrissie, fyngekap (of gebruik 1 teelepel rissiesous) sap van ½ suurlemoen of lemmetjie sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Braai die mielies en soetrissies oor die kole tot dit geskroei en plek-plek swart is. Sit die soetrissies in ’n plastiekbakkie of -sak, laat dit afkoel en sweet, en trek dan die skilletjies af. Skraap die pitjies uit en sny die vleis in stukkies. Sny die mieliepitte van die stronk af. 2 Kook die aartappels gaar voordat jy dit dreineer, in stukke sny en eenkant laat afkoel. 3 Druk die avokado met ’n vurk fyn en roer dan die jogurt, koljanderblare en knoffel daarby in (of pols alles saam in ’n versapper as jy een het). Geur die sous na smaak met rissie, suurlemoensap, sout en swartpeper. 4 Meng die soetrissie, mieliepitte en aartappel en geur dit na smaak met sout. Roer dan die sous deur en sit die slaai in die yskas sodat dit heeltemal kan afkoel.

Weg Ry & Sleep sê: ’n Slim kortpad as jy nie ’n versapper het nie, is om die avokado te vervang met ’n bakkie guacamole, wat deesdae by die meeste supermarkte se groente- of yskasafdeling te koop is.


Knoffel-en-pestobrood

Braai die broodjie

Hierdie brood is knoffelbrood op opkikkers. Jy kan die pesto vervang met enige ander smeer soos chimichurrisous, chermoulasmeer, uiemarmelade of olyftapenade. Gebruik jou verbeelding en maak elke broodjie anders.

Jy benodig

(genoeg vir 6) 1 groot ciabatta of ronde plat witbrood ½ flessie pesto (of gebruik enige ander smeer of sous van jou keuse) 5 eetlepels sagte botter 4 knoffelhuisies, fyngerasper 125 g camembert of brie, in skyfies gesny

Só maak jy

1 Sny die brood in eweredige snytjies, maar wees versigtig om nie deur die onderste korsie te sny nie. Smeer die pesto, botter en knoffel tussen die snytjies en druk van die kaasskyfies in die gleuwe. 2 Draai die brood in foelie toe en braai dit vir 10 minute oor matige kole tot warm.

Weg Ry & Sleep sê Jy kan ’n mengsel van verskillende kase gebruik – feta, bloukaas en brie is heerlik. 


Warm geroomde mielies

Bieliemielies

Hierdie mieliegereg omskep ’n gewone blikkie mielies in ’n kaserige bykos wat vorentoe smaak met hoender. En hy is nét so lekker as ’n doopsous vir nacho’s.

Jy benodig

(genoeg vir 6) ½ rooi soetrissie 4-6 ingemaakte jalapeñorissies 3 koppies mieliepitte (geblik, bevrore óf vars) 2 eetlepels botter ½ koppie (125 g) roomkaas ½ teelepel paprika 1 koppie gerasperde cheddarkaas sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Kap die soetrissie en rissie en ontdooi die mielies, indien nodig. 2 Verhit die botter en roomkaas in ’n pan en meng dit tot die mengsel gesmelt het en warm is. Roer die soetrissie, jalapeñorissie, mieliepitte, paprika en ¾ van die cheddar by die roomkaasmengsel. Geur dit na smaak met sout, swartpeper en nog rissie en hou aan roer tot die kaas gesmelt is. 3 Sprinkel die res van die kaas oor, sit die deksel op en bak dit vir 20 minute oor die kole.

Weg Ry & Sleep sê Jy hoef nie noodwendig ingemaakte jalapeñorissies te gebruik nie – jy kan dit ook met vars rissies of rissiesous vervang.


Bros kekerertjieslaai

Griekse slaai se nuwe draai

Hierdie is ’n Griekse slaai met ’n kinkel. Dis ook nie die einde van die wêreld as jy nie die groen kruie het nie – die slaai werk nét so goed daarsonder.

Jy benodig

(genoeg vir 6) 2 teelepels olyfolie 1 blik (410 g) kekerertjies, gedreineer 1 eetlepel fyn komyn of koljander sout en swartpeper na smaak 1 komkommer, in blokkies gesny 1 koppie ryp kersietamaties, middeldeur gesny ½ koppie fetakaas 1 koppie gekapte pietersielie of koljanderblare 2 eetlepels suurlemoensap (of gebruik rooiwynasyn)

Só maak jy

1 Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die kekerertjies vir sowat 5 minute totdat dit begin bros word. Geur dit met die komyn of koljander, sout en swartpeper, en braai dit dan verder tot dit ’n effense bros lagie het en die pan droog is. Laat dit eenkant afkoel. 2 Maak ’n slaai deur die komkommer met die tamatie, feta en kruie te meng. Skep die kekerertjies bo-oor die slaai en geur dit na smaak met sout, peper en ‘n goeie skeut suurlemoensap.

Weg Ry & Sleep sê Los die plastiek en bêre eerder jou komkommer in ’n bruinpapiersak om dit langer te laat hou.


Brocolli-en-spekslaai

Kraakvars lekkerte

Hierdie slaai hou goed wanneer jy kamp en gee ’n welkome vars knars so tussen al die braaivleis deur.

Jy benodig

(genoeg vir 4) 250 g spek 500 g brocolli 1 rooi soetrissie ¼ koppie rooiui ¼ koppie mayonnaise ¼ koppie Griekse jogurt 1-2 eetlepels rissiesous sout en swartpeper na smaak ½ koppie cheddarkaas, in blokkies gesny 8 dadels, fyngekap 10 pekanneute, fyngekap vars suurlemoen na smaak

Só maak jy

1 Braai die spek bros, kap dit fyn en hou dit eenkant. Kap nou die broccoli, soetrissie en ui in kleiner stukkies. 2 Gooi die mayonnaise, jogurt en rissiesous in ’n bakkie. Geur dit na smaak met sout en swartpeper en meng alles goed deur. 3 Meng die spek, broccoli, soetrissie en ui saam en roer dan die sous deur. Roer laastens die kaas, dadels en neute deur. Geur die slaai na smaak met suurlemoensap en laat dit vir ’n uur staan voor jy opskep.

Weg Ry & Sleep sê Hierdie slaai smaak die volgende dag selfs beter.


Mieliepap-en-uiebrood

Potjie se maat

Hierdie brood word in ’n plat- boomswartpot of gietysterpan met ’n deksel gebak – en is heerlik saam met enige gereg in ’n potjie.

Jy benodig

(genoeg vir 6) ½ koppie botter 2-3 uie, in ringe van 2 cm gesny 4 eetlepels bruinsuiker 1 koppie mieliemeel of polenta ¾ koppie koekmeel ¼ teelepel growwesout 1½ teelepel bakpoeier ½ teelepel koeksoda 1½ koppie Bulgaarse jogurt of karringmelk 4 eetlepels olyfolie 1 teelepel vars tiemieblaartjies (opsioneel)

Só maak jy

1 Smelt die botter in ’n pot of pan oor matige kole. Pak die uie in ’n enkellaag daarin en sprinkel die helfte van die suiker daaroor. Braai dit vir 5 minute tot die uie sag en effens gekaramelliseer is. 2 Meng die mieliemeel, koekmeel, sout, die res van die suiker plus die bakpoeier en koeksoda saam. 3 Roer die jogurt, olyfolie en tiemieblaartjies deur die meelmengsel tot dit ’n slap deeg vorm. Krap die deeg oor die uie in die pan of pot uit en sit die deksel op. 4 Bak dit oor matige kole (met ’n paar kole op die deksel) vir 30-35 minute of tot ’n mespunt skoon uitkom. Dop die brood om en krap die uie bo-oor die brood uit.

Weg Ry & Sleep sê Probeer gerus dié resep met gebraaide sampioene pleks van die uie.