Vir 4-6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

60 ml botter

1 lang selderystingel, fyngekap

1 groot wortel, geskil en fyngekap

1 klein ui, geskil en fyngekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

2 jalapeño-rissies, saadjies verwyder en fyngekap

60 ml meel

250 ml bier (ek het lager gebruik)

250 ml hoenderaftreksel

1 lourierblaar

7,5 ml komynsaadjies, liggies in ’n droë pan gerooster

3 tiemietakkies

125 ml room

125 ml melk

650 ml wit cheddar, gerasper

2 groot, ronde brode (of gebruik 6 ronde rolletjies)

4 grasuie, gekap

6 repies spek, brosgebraai

Só maak jy

1. Smelt die botter in ’n groot pot en braai die seldery, wortel, ui, knoffel en rissie saam tot sag. Voeg die meel by en braai vir 2-3 minute totdat die meel effens verbruin.

2. Verwyder van die hitte en voeg die bier bietjies-bietjies by. Roer goed ná elke bietjie om te keer dat klonte vorm. Wanneer al die bier bygevoeg is, kan jy die pot terugsit op die hitte en die aftreksel, lourierblaar, komynsaadjies en tiemie byvoeg. Geur die sop dan met sout en peper na smaak en laat dit vir 10 minute prut.

3. Verwyder die lourierblaar en die tiemietakkies. Voeg die room en melk by en gebruik ’n staafmenger om die sop glad te pols.

4. Verhit die sop tot deurwarm, maar moenie dit laat kook nie. Roer die kaas deur die warm sop tot gesmelt.

5. Sny die bokant van die brood af en hol die binnekant uit, maar maak seker dat jy ’n dik genoeg wand laat sodat die sop nie sal deursyfer nie. Skink die sop in die uitgeholde brood en sit voor met gekapte grasuie en spekstukkies. En daai klontjies brood is ’n perfekte grootte om in die sop te doop!