Voeg dié twee resepte saam en smul aan lekker vetkoek en maalvleis. Met die vetkoekresep kan jy die vrede bewaar as die langpad te veel raak vir die kleinspan. 



Die vetkoeke

Vir 6  |  Voorbereityd 15 minute plus rystyd  |  Gaarmaaktyd 10 minute


Jy benodig:

• 500 g broodmeel
• 1 pakkie (10 g) kitsgis
• 1 knippie sout
• 1½ koppie melk of water
• kookolie, vir diepbraai



Die maalvleis 

Voorbereityd 10 minute  |  Gaarmaaktyd 30 minute


Jy benodig:

• 6 ronde vetkoeke (kry die resep hier link na resep hierbo)
• 1 koppie suurroom
• kookolie, vir panbraai
• 1 groot ui, fyngekap
• 1 wortel, geskil en gerasper 
• 1 knoffelhuisie, gekneus
• 2-3 rooi brandrissies, fyngekap (opsioneel)
• 500 g beesmaalvleis 
• 1 blik (410 g) Mexikaanse tamaties
• 1 blik (410 g) rooi niertjiebone
• 1 eetlepel tamatiepasta
• sout en peper 
• 1 knippie suiker 
• 1 hand vol vars pietersielie, gekap



Die salsa

Jy benodig:

• 1 rooiui, fyngekap
• 2 tamaties, in blokkies gesny
• ¼ komkommer, in klein blokkies gesny
• sout en peper 
• sap van 1 suurlemoen 


1. Maak die vetkoeke

  • Meng die meel, gis en sout saam en maak ’n holte in die middel van die mengsel. Skink die melk daarin en roer dit by die deeg in.
  • Knie die deeg vir 10-15 minute op ’n skoon meelbestrooide werkvlak. Bedek dit met ’n skoon vadoek en laat dit op ’n warm plek tot dubbel die hoeveelheid rys – sowat 30 minute.
  • Knie die deeg af en rol dit in ’n lang reghoek. Verdeel dit in eweredige stukke en rol elke stuk in ’n tennisbalgrootte bol.
  • Verhit die kookolie. Toets met ’n stukkie deeg of dit warm is: As die deeg binne sowat 10 tellings verkleur, is die olie gereed. Laat sak 2-3 deegbolle op ’n slag versigtig in die olie en braai tot goudbruin en gaar – die vetkoek moet hol klink as jy met ’n lepel daarop tik.
  • Skep dit met ’n gaatjieslepel uit en laat dit op kombuispapier dreineer. Maak al die deegbolle só gaar. 


2. Maak die maalvleis 

  • Verhit die kookolie in ’n pan en braai die ui tot sag en glansend. Voeg die wortel, knoffel en rissie by en braai vir nog 2-3 minute.
  • Voeg die maalvleis by die groente en braai tot goudbruin. Gebruik ’n vurk om klonte fyn te druk. Roer die tamaties, bone en tamatiepasta by en geur dit met sout en peper. Proe en gooi suiker en pietersielie na smaak by. Laat dit vir 10-15 minute prut.


3. Maak die salsa

  • Meng die ui, tamatie en komkommer liggies saam. Geur die mengsel met sout, peper en suurlemoensap en sit dit eenkant. 

4. Skep maalvleis in die vetkoeke en sit dit voor met salsa en suurroom.