Foto’s Michelle Parkin - Kosassistent Tani Kirsten

Sampioen-‘braaipaai’ met mosterdsous

Kolepastei

Foto Michelle Parkin

Die ster van hierdie eenvoudige braaipaai is die witsous wat jy met mosterd geur.

Jy benodig

(genoeg vir 6-8)

  • 6 eetlepels botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 500 g sampioene, in skyfies gesny
  • 2 takkies tiemie (of 1 teelepel droë tiemie)
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 200 ml melk
  • 2 eetlepels heelkorrelmosterd
  • sout en swartpeper na smaak
  • 2 rolle blaardeeg, ontdooi

Só maak jy

1 Smelt 4 eetlepels botter en braai die ui en sampioene met die tiemie daarin tot gaar. Geur dit met sout en peper. Skep die mengsel uit en hou dit eenkant.

2 Smelt nou die oorblywende 2 eetlepels botter en voeg die meel daarby. Roer die mengsel goed todat dit ’n gladde smeer vorm, en braai dit vir ongeveer 2 minute. Haal die pot van die hitte af en klits die melk bietjies-bietjies by tot dit ’n dik witsous vorm. Roer die mosterd by en geur dit met sout en peper. Skep die sous uit en laat dit effens afkoel.

3 Rol een van die deegrolle oop op ’n snyplank. Smeer die witsous oor die deeg, maar los ’n rand van sowat 2 cm om die kante. Verf ’n bietjie water aan dié randjie.

4 Skep die sampioenmengsel eweredig bo-op die witsous. Rol die tweede rol deeg oop en sit dit bo-op die vulsel. Seël die rande reg rondom.

5 Verf ’n bietjie olie aan ’n skoon rooster. Sit die een kant van die rooster oor die deeg en draai alles om sodat die pastei én die snyplank op die rooster is. Haal die plank af en maak die rooster toe. Braai die pastei oor matige kole tot dit mooi bros en gaar is.

Weg Ry & Sleep sê
As jy haastig is, kan jy sommer ’n gekoopte witsous gebruik en dit met heelkorrelmosterd geur.



Patatslaai

Wat! Patat?

Foto Michelle Parkin

Patat is ’n veelsydige groentesoort wat lekker lank buite die yskas hou as jy kamp.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 4 eetlepels botter
  • 2 groot patats, geskil en in 2 cm-blokkies gesny
  • 2-3 wiele feta, gekrummel
  • 3 sprietuie, fyngekap
  • 2 snye witbrood

VIR DIE SLAAISOUS

  • 3 eetlepels olyfolie
  • 2 eetlepels balsemiekasyn
  • 1 eetlepel heuning

Só maak jy

1 Verhit die botter in ’n groot pan of platboompotjie. Braai die patat in die botter tot dit oraloor mooi bruin is. (Sorg dat die patat in ’n enkellaag braai om te keer dat dit water trek en pap word.)

2 Skep die patat uit in ’n slaaibak en sprinkel die feta en sprietuie oor.

3 Braai die brood oor ’n rooster tot bros en sny dit in klein blokkies. 4 Meng die slaaisousbestanddele goed saam en giet dit oor die patat. Sprinkel laastens die brood oor en sit die slaai dadelik voor.

Weg Ry & Sleep sê
As jy ’n gekoopte slaai- sous met ’n balsemiekasynbasis saamvat, hoef jy minder bestanddele in te pak. 



Paptert met mielies, spek en jalapeño

As dit paptert reën…

Foto Michelle Parkin

Die mielies en spek vorm ’n baie geurige kombinasie in dié heerlike tert.

Jy benodig

(genoeg vir 6-8)

  • 4 koppies water
  • 2 koppies mieliemeel
  • 1 blik (410 g) geroomde suikermielies
  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 200 g spek, gesnipper
  • 2-3 jalapeñorissies, in skyfies gesny
  • 1 koppie gerasperde kaas

Só maak jy

1 Verhit die water in ’n platboomswartpot tot kookpunt. Gooi die mieliemeel stadig by terwyl jy die water die heeltyd vinnig roer. Roer sout by en prut die pot dan stadig vir sowat 30 minute tot die pap gaar is. Roer die helfte van die suikermielies daarby in.

2 Smelt die botter in ’n ander pot en braai die ui daarin tot dit sag en mooi glansend is. Voeg die jalapeño’s by en braai dit vir nog 2 minute voor jy die spek byroer en die mengsel dan verder braai totdat dit gaar is. Roer die res van die suikermielies by dié mengsel in.

3 Skep die spekmengsel bo-oor die mieliepap en sprinkel dan die kaas daaroor. Sit die deksel op en verhit die pot stadig eenkant totdat die kaas gesmelt het.

Weg Ry & Sleep sê
As jy nie ’n breë platboompotjie het nie, krap die gaar pap uit in ’n diep blikbord en sprinkel die spekmengsel en kaas oor. Bedek dit met foelie en verhit die tert eenkant oor die rooster.



Koolslaai met groen groente

Koolknarslekker!

Foto Michelle Parkin

Hierdie bros slaai is heerlik vir die eerste aand in die kampplek – gebruik enige groente wat oorbly vir môreaand se potjie.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • ½ koppie bevrore ertjies (óf gebruik geblikte ertjies)
  • ½ pakkie (60 g) mangetout
  • ½ pakkie (100 g) groenboontjies
  • 1 groen soetrissie
  • 2 koppies gesnipperde kool
  • ¼ kop broccoli, in klein blommetjies gebreek
  • 2 eetlepels pampoen- of sonneblomsaad

VIR DIE SLAAISOUS

  • 1 koppie mayonnaise
  • 4 eetlepels wit druiweasyn
  • 1 eetlepel heuning

Só maak jy

1 Bedek die bevrore ertjies met kookwater, laat dit vir ’n paar minute staan en dreineer dit dan. (Indien jy geblikte ertjies gebruik, is hierdie stap nie nodig nie.)

2 Sny die mangetout, groenbootjies en soetrissie in fyn repies en meng dit saam met die ertjies deur die kool en broccoli.

3 Verhit ’n droë pan en braai die pampoensaad tot dit geurig begin word en effens gerooster is.

4 Meng al die bestanddele vir die slaaisous saam. Giet dit oor die koolslaai en rond dit af met die geroosterde pampoensaad.

Weg Ry & Sleep sê
As jy van ’n lekker byt hou, voeg ½ teelepel rooipeper by die slaaisous.


Chakalaka-en-kaasjaffels

’n Jaffel ’n dag...

Foto Michelle Parkin

Hierdie jaffels is geen moeite nie en boonop propvol geur.

Jy benodig

(maak 8 jaffels)

  • 16 snye witbrood (die groter soort)
  • botter om te smeer
  • 1 blik (410 g) chakalaka
  • 2 koppies gerasperde cheddar

Só maak jy

1 Smeer die een kant van al die broodsnye met botter.

2 Skep op 8 van die snye aan die ongebotterde kant ’n groot eetlepel vol chakalaka in die middel. Verdeel nou die kaas tussen die 8 snye brood en pak dit op die chakalaka. Sit nog ’n sny brood bo-op met die botterkant boontoe.

3 Knyp elke toebroodjie versigtig toe in die jaffelpan en sny die rande gelyk af.

4 Braai die jaffels oor matige kole – draai dit gereeld totdat die brood aan albei kante mooi bruin gerooster is en die kaas gesmelt het.

Weg Ry & Sleep sê
Vir ’n vleiserige weergawe sny gaar oorskietbraaiwors in ringetjies en meng dit met die chakalaka voor jy die broodjies vul.



Ingelegde beet

’n Botteltjie beet, asseblief

Foto Michelle Parkin

Maak hierdie beet vooraf by die huis en neem dit saam as jy gaan kamp. Dan het jy ’n heerlike bykos sonder enige moeite.

Jy benodig

(maak 2 x 500 ml-flesse)

  • 1 kg jong bete
  • 2 koppies rooiwynasyn
  • 100 ml water
  • ½ koppie witsuiker
  • 2 heel steranyse
  • ½ teelepel mosterdsaad
  • ½ teelepel vinkelsaad
  • 2 eetlepels olie

Só maak jy

1 Verhit ’n groot kastrol met water en kook die bete vir ongeveer 20 minute tot dit net-net gaar is. Gooi die water af en laat die beet afkoel. Skil die bete, maar hou ’n deel van die stingel aan, indien verkies. Sny die bete in die lengte middeldeur en pak dit in 2 gesteriliseerde flesse.

2 Verhit die res van die bestanddele saam. Roer dit tot  die suiker opgelos het en verhit dit tot kookpunt. Gebruik ’n siffie om die sperserye uit te skep en giet dan die warm sous in die flesse sodat die beet bedek is. Seël die flesse en laat dit afkoel.

Ry & Sleep sê
Gebruik die ingelegde beetskyfies as vulsel vir toebroodjies saam met skoongewaste slaaiblare, mosterd en geroosterde beesvleisskyfies