Tydsberekening is belangrik met die voorbereiding om seker te maak die eiers is sag, die vleis sappig en die krummels goudbruin. Maar as jy dít regkry, het jy die perfekte alles-in-een-ontbyt, bygereg of padkos! 

1. Sit ’n halfdosyn eiers saam met ’n knippie sout in water en verhit dit tot kookpunt. Sodra die water borrel, kan jy dit vir nog 4 minute laat kook. Skep die eiers dan dadelik in yswater om die kookproses stop te sit. Dop die eiers versigtig af. 

2. Druk die boerewors se vleis uit, maak dit met ’n vurk los en geur dit met die rissie en appelkosies. Verdeel die vleis in 6 gelyke bolletjies. Maak een bolletjie op ’n slag in jou handpalm plat, sit ’n saggekookte eier daarop neer en vorm die maalvleis rondom die eier tot dit bedek en verseël is. 

3. Klits die oorblywende vier eiers. Rol die vleisbolle in die meel, dan in die eier en laastens in die broodkrummels. Sit dit vir 20 minute in die yskas om ferm te word. 

4. Diepbraai dit dan in warm olie tot goudbruin en gaar. As jy bang is die vleis raak nie deurgaar voordat die krummels goudbruin is nie, kan jy dit nog ’n paar minute in ’n voorverhitte oond bak.