Vir 4-6 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 20 minute 

Jy benodig

  • 1 kg vars forel
  • 1 eetlepel olyfolie
  • ¼ koppie bruinsuiker
  • ¼ koppie sojasous
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • ’n hand vol vars koljanderblare 
  • 2 nektariens, in dun skyfies gesny

Só maak jy

1. Kry matige kole gereed in ’n ketelbraai (of verhit die oond tot 180 ºC).

2. Sit die forel in die middel van ’n dubbellaag foelie wat reg rondom 20 cm breër is as die vis. Vou die kante van die foelie op om ’n randjie te maak sodat die vis in ’n oop foeliebakkie lê.

3. Meng die olyfolie, suiker, sojasous, knoffel, en suurlemoensap en -skil, en skink dit oor die vis.

4. Sit die foeliebakkie versigtig op die rooster (of op ’n bakplaat in die oond). Sit die ketelbraai se deksel op en laat die forel vir sowat 15-20 minute braai. Die vis is gaar sodra dit maklik vlok.

5. Sprinkel die vars koljander oor en garneer die vis met die nektarienskyfies. Sit die forel met ’n groenslaai propvol gekapte vars kruie voor.