Roer jou litte

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 eetlepels olyfolie
  • 3 stukke gerookte reepspek (pork rashers), gekap
  • 1 rooi soetrissie, in repies gesny
  • 1 koppie ertjies (vars of bevrore)
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap (of na smaak)
  • 1 bossie sprietuie, fyngekap
  • 3 koppies gaar rys
  • 1 teelepel borrie
  • 300 g gaar steurgarnale
  • vars suurlemoensap na smaak

Só maak jy

1. Verhit die skottelbraai, gooi die olie in die pan en braai die spek tot dit mooi goudbruin is. Roer die soetrissie, ertjies, knoffel, brandrissie en sprietuie by en roerbraai die mengsel vir ’n paar minute tot geurig. Sorg dat die knoffel nie brand nie – dan kry dit ’n bitter smaak.

2. Meng nou die rys en borrie deur die roerbraai en geur dit na smaak met sout en peper. Hierdie is die lekker deel: Die rys moet braai sonder om vas te brand, maar terselfdertyd moet die braaier nie te driftig roer nie, want dan druk jy die rys pap. Pret!

3. Roer laastens die steurgarnale by en verhit dit tot net-net deurwarm – dit is mos gaar. Proe ’n laaste keer vir sout en peper (en brandrissie, as jy hou van ’n byt) en oorweeg ’n skeutjie suurlemoensap. Draai die vlam af en geniet dit dadelik, terwyl die rys nog warm is.

Ry & Sleep sê

Klits ’n paar eiers en maak dun omelette in die spekvet voor jy aangaan met die roerbraai. Rol die omelette op, sny dit in dun skyfies en garneer die rys daarmee.