Vir 4 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 20 minute 

Jy benodig

  • 1 koppie bulgurkoring (bulgur wheat)
  • 250 g murgpampoentjies
  • ¼ koppie olyfolie
  • 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
  • 4 radyse, dungesny
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • ¼ koppie vars mentblare, gekap
  • 2 eetlepels pistasieneute of amandels, gekap

VIR DIE GEKRUMMELDE HALOUMI

  • 250 g haloumi
  • 1 koppie meel
  • 2 eiers, geklits
  • 1 koppie panko-broodkrummels
  • kookolie vir diepbraai

Só maak jy

1. Kook die koring volgens die instruksies op die pakkie.

2. Gebruik ’n aartappelskiller om die murgpampoentjies in dun linte te sny. Verhit ’n pan oor matige tot hoë hitte met ’n leksel olyfolie en braai die linte murgpampoentjie vir 1 minuut in ’n enkellaag en plaas eenkant. Herhaal met die res van die murgpampoentjies.

3. Sny die haloumi in vingers van 1 cm dik. Doop dit om die beurt in die meel, eier en dan in die krummels. Verhit kookolie in ’n diep pan tot warm en braai dan die haloumi daarin tot bros.

4. Rangskik die koring, murgpampoentjie, kekerertjies en radyse op ’n opdienbord. Druk die suurlemoensap daaroor uit en rasper die suurlemoenskil oor. Sprinkel die mentblare en pistasieneute bo-oor. Geur na smaak met sout en peper en ’n ruim skeut olyfolie. Rangskik die haloumi bo-op en bedien.

WENK
Doop die haloumi in net eier en fyn klapper vir ’n glutenvrye alternatief.