Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 2 uur

Jy benodig

1 eetlepel knoffelpoeier
3 eetlepels paprika
1 eetlepel komyn
1½ koppie gemmerbier
1 eetlepel melasse of bruinsuiker
3 eetlepels sojasous
1 blikkie (210 g) gerookte oesters
2 kg beeskortrib of prima rib, verkieslik 5 cm dik en 12 cm lank gesny
½ ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 koppie rokerige braaimarinade (ek het Woolworths s’n gebruik)
4 eetlepels tamatiesous

Só maak jy

1. Meng die knoffel, paprika, komyn, ½ koppie gemmerbier, melasse of bruinsuiker en sojasous, en gooi dit oor die rib.

2. Sit die vleis saam met die sousie en die oesters in ’n swartpot en bedek dit met ’n dubbele laag foelie. Laat dit dan vir 2 uur oor louwarm kole prut (óf sit dit in ’n oond van 150 °C). Let wel: As jou ribbetjies dunner as 5 cm is, is dit moontlik dat dit dalk ná ’n uur en ’n half reg sal wees. Dis belangrik dat die ribbetjies nie teen ’n hoër temperatuur gaar word nie.

3. Verhit die ui, knoffel, oorblywende gemmerbier, braaimarinade en tamatiesous daarby en laat dit prut tot die sous verdik.

4. Smeer die ribbetjies met die braaisous en braai dit vir ’n paar minute aan ’n kant oor warm kole – verf elke nou en dan nog van die sous aan. Dis reg om af te haal wanneer die ribbetjies lekker taai en goudbruin is.