Foto’s: Michelle Parkin

Trinchado

Daai ryk en lekker sous

Hierdie romerige sousie smaak baie luuks en is ’n groot lekkerte saam met steaksosaties oor die kole.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

  • 1 kg steak – gebruik lendeskyf (sirloin) of kruisskyf (rump)
  • 2 eetlepels growwesout
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • gemaalde swartpeper
  • 2 eetlepels olyfolie
  • ½ koppie rooiwynasyn
  • 2 soetrissies, pitjies uitgeskraap

VIR DIE TRINCHADOSOUS

  • 4 eetlepels olyfolie
  • 4 eetlepels botter
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 eetlepels rissievlokkies
  • 2 lourierblare
  • 1 koppie brandewyn
  • 1 koppie droë rooiwyn
  • ½ koppie sojasous
  • 2 koppies room (vars óf die langlewesoort)

Só maak jy

1. Sny die vleis in blokkies van 3 cm. Gooi dit in ’n bak, voeg die sout, knoffel en ’n goeie skeut gemaalde swartpeper by, en vryf die vleis goed in met die geurmiddels. Voeg die olyfolie en asyn by en meng alles goed deur.

2. Sny die soetrissie in repe van 2,5 x 4 cm. Voeg dit in die bak by die vleis, bedek die bak met kleefplastiek en marineer dit vir minstens 2 uur, maar verkieslik oornag.

3. Ryg die vleis en soetrissie om die beurt op sosatiestokkies wat jy in water geweek het – om te keer dat dit brand (of gebruik metaalstokkies).

4. Maak die trinchadosous Verhit die olyfolie en botter in ’n pan en braai die ui tot sag. Voeg die knoffel, rissie en lourier daarby en soteer dit vir nog ’n paar minute. Hou dit fyn dop – die uie moet glad nie bruin braai nie, maar net mooi sag en glansend wees.

5. Gooi die brandewyn en rooiwyn by die pan en draai die hitte hoër sodat die alkohol kan verdamp en die mengsel reduseer en effens begin verdik. Roer dan die sojasous daardeur. Hou die sous in ’n pannetjie aan die kant van die braai warm.

6. Braai die sosaties oor matige kole vir ongeveer 6 minute – draai dit elke 2 minute om en bedruip dit deurentyd met die marinade. Haal dit van die kole af wanneer dit gaar is na jou smaak en laat dit eenkant onder foelie rus.

7. Giet die room by die sous en laat dit een keer borrel voor jy dit van die hitte verwyder. Sit dit dadelik voor saam met die sosaties.

Weg Ry & Sleep sê
Laat die vleis vir minstens 1 uur buite die yskas staan voordat jy dit braai.


Java-ribbetjiepot

’n Ontploffing van geur

Dié vrugtige pot is ’n lieflike kombinasie van geure. Dit is nie ’n kerrie nie, maar net soos met bobotie gebruik jy vrugte en klapper vir ’n eg-Suid-Afrikaanse smaak.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 eetlepel kookolie
  • 1,5 kg beeskortrib
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap (opsioneel)
  • 2 eetlepels vars gemmer, fyngerasper
  • 2 eetlepels kerriepoeier (matig óf sterk)
  • 1 kaneelstokkie
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 koppies beesaftreksel
  • ½ koppie fyn klapper (of gebruik amandelmeel)
  • sap van ½ vars suurlemoen
  • 1 groenappel, grofgekap
  • ¼ koppie droë appelkose, fyngekap
  • ¼ koppie sultanas
  • sout en witpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n potjie en braai die kortribstukke in sarsies daarin tot goudbruin. (Moenie alles gelyk probeer braai nie, want dan gaan dit stoom en dan vaal anderkant uitkom.)

2. Gooi al die ribbes terug in die pot en voeg die ui, rissie, gemmer, kerrie en kaneel by. Soteer alles saam oor matige hitte tot die ui geurig begin word.

3. Roer die knoffel, aftreksel, klapper, suurlemoensap, appel, appelkose en sultanas by die pot en geur dit met sout en witpeper. Sit die deksel op en laat prut die pot vir 90-120 minute oor matige kole – die hitte is reg as die pot net so nou en dan ’n ligte borrel opstoot (só sorg jy dat die vleis lekker sappig bly).

4. Sit die vleis voor op rys. Voeg nog klapper, suurlemoensap en gekapte vars rissie na smaak by.

Weg Ry & Sleep sê
As jy nie van klapper hou nie, gebruik amandelmeel. 


Maklike moussaka

Mooi Griekeland

Eiervrug kom tot sy reg in hierdie smaaklike potjie.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 middelslag-eiervrugte
  • ¼ koppie olyfolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 1 kg beesmaalvleis
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 lourierblare
  • 1 eetlepel droë origanum
  • 1 blikkie (410 g) gekapte Italiaansgegeurde tamaties
  • 4 eetlepels tamatiepasta
  • ½ koppie droë rooiwyn
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 1 pakkie (40 g) sampioensous (ons het Royco s’n gebruik)
  • 1 koppie gerasperde cheddar

Só maak jy

1. Sny die eiervrug in skywe van 1 cm en verf dit aan albei kante rojaal met olyfolie. Braai dit op ’n rooster oor matige kole tot goudbruin aan albei kante.

2. Soteer die ui in ’n klein pot met die res van die olyfolie. Voeg die maalvleis by en braai dit tot goudbruin. Roer die knoffel, lourier, origanum, tamatie, tamatiepasta en rooiwyn deur die maalvleis en prut alles saam vir 30 minute. Proe en geur dit na smaak met sout en swartpeper.

3. Pak ’n enkellaag eiervrugskywe in ’n middelslag-platboompot. Skep van die maalvleismengsel daarop. Herhaal die lae eiervrug en maalvleis tot alles opgebruik is.

4. Maak die sous aan volgens die instrukies op die pakkie en giet dit oor die moussaka. Sprinkel die kaas oor, sit die deksel op die pot en bak dit vir 45 minute oor matige kole.

Weg Ry & Sleep sê
As jy ’n ryker moussaka verkies, kan jy die pakkie sampioensous met room aanmaak.


Kerriekool

So by my kool

Kool is die afskeepkind van die groenterak, maar as jy hom reg gaarmaak en behoorlik geur, is dit heerlik. En dis perfek vir kamp, want hulle hou lank. En natuurlik is dit goed vir jou.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 ui, gekap
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 teelepel gemmer, fyngerasper
  • ½ teelepel rissiepoeier
  • 2 teelepels sterk kerriepoeier
  • ½ rooikool, gesnipper
  • 1 teelepel heuning
  • ’n hand vol pampoenpitte
  • ’n hand vol rosyne

Só maak jy

1. Soteer die ui in die olyfolie met die knoffel, gemmer, rissie en kerrie tot sag en geurig.

2. Voeg die kool daarby en roerbraai alles saam tot die kool nog bros, maar nie meer heeltemal rou is nie.

3. Roer die heuning, pampoenpitte en rosyne deur die gereg en geur dit na smaak met sout voordat jy dit voorsit.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan ook ’n grofgekapte halwe blomkool gebruik vir hierdie gereg.


Lemoenpatats

Kyk so ’n aspatat!

Gee jou foelie-patats ’n heel nuwe dimensie met dié heerlike lemoen-en-heuningsous.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 6 klein patats
  • 3 eetlepels olyfolie
  • gerasperde skil en sap van 1 lemoen
  • ’n knippie sout
  • ¼ koppie gesmelte botter
  • ¼ koppie heuning
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • 50 g gevlokte amandels, gerooster

Só maak jy

1. Sny kepe in die patat, maar moenie regdeur die onderste skil sny nie. Pak hulle in ’n vuurvaste pan en sprinkel die olyfolie, lemoensap en ’n knippie sout oor die patats. Bedek die pan met foelie en sit dit vir ongeveer 30 minute oor matige kole tot sag. Haal die foelie af.

2. Gooi die lemoenskil, botter, heuning en vanieljegeursel in die gleufies van die patats en eindig met die gevlokte amandels.

Weg Ry & Sleep sê
Die patats kan ook een-een in foelie toegedraai word met die olyfolie en lemoensap.


Warm perskepotjiepoeding

Soet soos stroop

’n Ou gunsteling met ’n nuwe baadjie – en heerlik om die kampvuur.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 koppie ligte bruinsuiker
  • 4 koppies water
  • 2 koppies koekmeel
  • 1 eetlepel koeksoda
  • ’n knippie sout
  • ½ koppie botter, in blokkies gesny
  • 1 koppie perskekonfyt
  • 1 eetlepel vanieljegeursel
  • 2 vars nektariens of perskes, in skyfies gesny

Só maak jy

1. Roer die suiker en water saam in ’n klein potjie (nr. 3) wat oor matige kole staan. Wanneer die suiker heeltemal opgelos is, laat die stroop kook.

2. Meng die meel, koeksoda en sout saam in ’n mengbak. Vryf nou die botter met jou vingers deur die meelmengsel totdat dit soos growwe broodkrummels lyk.

3. Roer die konfyt deur die meelmengsel sodat dit ’n beslag vorm.

4. Sorg dat die potjie met stroop op ’n braaidriehoek rus met ’n paar kole daaronder – dit moenie te warm wees nie, want dan gaan jou poeding brand.

5. Skep die beslag op die warm stroop – moenie dit roer nie – en sit die pot se deksel op sodat dit lekker styf pas.

6. Prut die poeding stadig vir 1 uur oor louwarm kole. Haal dit van die kole af en sit die poeding warm voor met die perskeskyfies daarby.

Weg Ry & Sleep sê
Wanneer jy die beslag op die warm stroop skep, gaan jy dink dit lyk snaaks – maar hou moed; dit moet so lyk (moenie roer nie!)