Genoeg vir:  6-8 | Bereidingstyd: 20 minute | Gaarmaaktyd: 1 uur en 15 minute

Jy benodig

• 1 heel hoender, maagholte ontbeen

• sout en varsgemaalde swartpeper

VIR DIE VULSEL

• 2 eetlepels botter

• 1 klein ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngedruk

• 1 stuk gemmer van 2 cm, geskil en gekap

• 1 teelepel borrie

• 1 eetlepel garam masala

• 1 koppie langkorrelrys

• 1 koppie warm hoenderaftreksel

• ½ koppie gaar lensies

• ¼ koppie sultanas

• ½ koppie geroosterde kasjoeneute met peri-peri- speserye

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 °C of kry matige kole in jou ketelbraai gereed. Maak die vulsel deur die botter te smelt en die ui, knoffel en gemmer saam te braai tot glansend. Roer die speserye en rys by en braai die mengsel vir nog ’n paar minute tot die rys liggies gerooster is.

Voeg die aftreksel, lensies en sultanas by die rysmengsel en stoom dit met die deksel op vir sowat 7 minute tot al die vloeistof geabsorbeer en die rys halfgaar is. Sprei die rys in ’n plat bak uit sodat dit vinnig kan afkoel.

2. Geur die hoender oraloor (binne én buite) met sout en varsgemaalde swartpeper. Meng die afgekoelde rysvulsel met die neute en vul dan die maagholte van die hoender daarmee. Bind die boudjies met kombuistou oor die opening vas om die hoender bymekaar te hou.

3. Sit die gestopte hoender in ’n oondbak, bedek dit met foelie en rooster dit vir 45 minute in die oond óf in die ketelbraai met die deksel op. Haal die foelie af en bak dit vir nog sowat 15 minute of tot die hoender goudbruin en gaar is. Sit dit voor met jogurt of tzatziki.

WENK
Skep enige rys wat oorbly, in middeldeurgesnyde soetrissies – dit is ’n heerlike bykos en jy kan dit sommer saam met die hoender bak of oor die kole braai