Steek ’n stokkie daarin

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 16 hoenderdyfilette
  • 1 rooiui, in agstes gesny en in blaartjies gebreek
  • 1 elk groen en rooi soetrissie, in hapgrootte blokkies gesny

VIR DIE MARINADE

  • 2 eetlepels tamatiesous
  • 1 eetlepel appelkooskonfyt
  • 1 eetlepel worcestersous
  • 2 eetlepels bruinasyn
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk

Só maak jy

1. Meng al die bestanddele vir die marinade saam en giet dit oor die hoender. Laat dit vir sowat 1 uur eenkant staan om te marineer terwyl jy die vuur aansteek – jy gaan matige kole nodig hê.

2. Ryg die hoender, uieblare en soetrissieblokkies om die beurt op houtstokkies wat in water geweek is (dit keer dat die stokkies vlamvat oor die kole).

3. Braai nou die hoender rustig oor matige direkte kole. Wees baie versigtig en maak seker jy brand nie die hoender nie – onthou, daar’s suiker in die marinade. 

4.Verf elke nou en dan van die ekstra marinade oor die hoender en onthou om dit iewers te geur met sout en peper na smaak. Braai dit totdat die hoender gaar is met ’n lekker bros, vlamgeskroeide buitekant.

Ry & Sleep sê
Die marinade neig na die soet kant. As jy hou van ’n byt, oorweeg ’n sterker masala of kerriepoeier.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook