Stokkiesbraai

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 12 hoenderdyfilette (sowat 600 g), middeldeur gesny
  • 1 ui, in kwarte gesny en in blare opgebreek
  • ’n hand vol vars koljanderblare (opsioneel)
  • ½ koppie kasjoeneute, grofgekap
  • gestoomde rys om voor te sit

VIR DIE MARINADE

  • 200 ml Griekse jogurt
  • 2 eetlepels suurlemoensap
  • 2 eetlepels tikka masala

VIR DIE SOUS

  • 1 eetlepel olie
  • 2 rooi brandrissies, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 stuk gemmer van 2 cm, geskil en fyngerasper
  • 1 teelepel elk fyn koljander en komyn
  • 1 blik (410 g) kersietamaties
  • 1 blik (410 g) tamatiepuree
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 koppie room (jy kan ook ’n boksie langleweroom gebruik)

Só maak jy

1. Maak die marinade Meng die jogurt, suurlemoensap en tikka masala en roer die hoenderblokkies daardeur. Laat dit vir minstens ’n halfuur marineer.

2. Maak die sous Verhit die olie en braai die rissie, knoffel en gemmer saam tot geurig. Roer die speserye by, gevolg deur die tamatie en puree. Geur dit na smaak met sout en peper en prut dit vir 15 minute.

3. Ryg intussen die hoender op stokkies met uie tussenin. (Onthou om die stokkies in water te week sodat dit nie vlam vat oor die kole nie.) Braai die sosaties oor matige kole tot net-net gaar terwyl die sous langsaam prut.

4. Skep die hoender in die sous, roer die room by en verhit dit tot deurwarm. Sprinkel die koljander en neute oor en geniet dit saam met rys.

Weg Ry & Sleep sê
Nie lus vir braai én potjie maak nie? Braai dan voor jy die sous maak, die hoender en uiestukkies in dieselfde potjie tot dit mooi bruin is. Skep nou die mengsel uit, maak die sous en skep die vleis terug in die sous sodat dit saam met die room kan gaar kook