Vir 6

Voorbereityd 1 uur

Gaarmaaktyd 10 minute


Jy benodig

VIR DIE HOENDER

• 1 hoender, gevlek

• 2 eetlepels sriracha-sous

• 2 eetlepels gerookte paprika

• 2 knoffelhuisies, gekap

• 1 teelepel fyn koljander

• ½ teelepel swartpeper

• 1 teelepel sout

• sap van 1 suurlemoen

• ¼ koppie olyfolie

VIR DIE BROODJIES

• 250 g spek

• 6 paninirolletjies

• botter

• Dijon-mosterd

• 3 groot agurkies

• 200 g kaas (enige soort)

Só maak jy

1 Voorverhit die oond tot 200 °C. Trek ’n bakplaat oor met foelie en plaas die hoender daarop. Meng al die bestanddele vir die hoender en verf die helfte daarvan oraloor die hoender. Bak dit op die bakplaat vir 30 minute. Verf die res van die sous oor en rooster dit vir nog 15 minute of tot dit plek-plek geskroei en heeltemal gaar is. Haal dit uit die oond en laat dit eenkant rus.

2 Braai solank die spek tot gaar maar nie bros nie. Sny die hoenderborsies in dun skyfies en skep die orige pansappe daaroor. Geur dit met sout en peper.

3 Sny die rolletjies middeldeur en smeer dit met botter en mosterd. Vul dan elke rolletjie met ’n lagie spek, agurkies, hoender en kaas.

4 Smelt botter in ’n gietysterpan en braai die gevulde broodjies aan albei kante. Druk die broodjies plat terwyl jy dit braai sodat dit ’n goudbruin korsie vorm en die binnegoed saamsmelt. Laat die gebraaide broodjies op kombuispapier afkoel – anders sal dit sweet en nat word. Draai dit dan in waspapier toe en pak dit in vir die langpad.