Vir 4 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy kan ook ’n gewone tamatie-en-eiermengsel vir dié gereg gebruik en net ’n teelepel kerrie byvoeg.

Jy benodig

• 1 ui, gekap
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 eetlepels botter of olyfolie
• 2 wortels, gerasper
• 1 blikkie (410 g) All Gold Indian Style Diced Tomatoes
• ½-1 blikkie (410 g) heel kersietamaties
• 4-6 eiers
• vars brandrissie na smaak
• ’n hand vol vars koljanderblare, gekap
• sout na smaak
• gemaalde swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Braai die ui en knoffel saam met ’n groot skeut swartpeper in ’n groot wye pan tot glasig.

2. Voeg die wortel en tamatie by en laat dit vir 10 minute prut. Roer dan die blikkie kersietamaties deur. (Afhangende van die grootte van jou pan sal jy dalk nie plek vir die hele blikkie hê nie.) Proe, en voeg sout na smaak by.

3. Maak holtes in die smoor en breek die eiers versigtig daarin. Laat dit oor ’n matige hitte prut totdat die wit gestol het en die geel na jou smaak is. Sprinkel die rissie en koljander oor en sit dit voor met roosterbrood.