As jy haastig is, kan jy die frikkadelle sommer in ’n tamatiesous laat gaar prut en dit saam met pasta voorsit.




Vir 4 | Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

½ koppie vars broodkrummels
¼ koppie melk
¼ koppie beesaftreksel
¼ koppie vars pietersielie, fyngekap
1 eetlepel origanum
1 eetlepel basilie
’n knippie swartpeper
500 g beesmaalvleis
1 eier, geklits
½ koppie gerasperde mozzarella

VIR DIE TAMATIESOUS

1 blik (410 g) tamatie-en-uiesmoor
1 teelepel origanum
1 teelepel suiker
½ teelepel knoffelpoeier of gekapte vars knoffel
’n knippie sout

VIR DIE BROODJIES

4 panini’s of rolletjies (of roosterkoeke)
botter
4 dun skyfies mozzarella

Só maak jy

1. Meng die broodkrummels en melk, en meng dit dan goed met die res van die bestanddele. Vorm gholfbalgroottte frikkadelle, laat dit vir 20 minute in die ykas rus om ferm te raak, en braai dit dan in ’n pan tot goudbruin en gaar.

2. Meng intussen al die bestanddele vir die tamatiesous en laat dit vir 10 minute in ’n potjie prut.

3. Smeer die brood met botter, skep ’n paar eetlepels warm tamatiesous op elkeen, gevolg deur ’n paar frikkadelle en ’n skyfie kaas. Sit dadelik voor.