Foto’s Ed O’Riley

Camembert-kaaskoek met speksmoor

Toring uit

Hierdie is ’n heerlike, indrukwekkende voorgereg langs die kampvuur.

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • 2 eetlepels olyfolie
  • 200 g spekstukkies
  • 2 rooiuie, fyngekap
  • ½ koppie bruinsuiker
  • 2 eetlepels appelasyn
  • 1 eetlepel sjerrie
  • 1 eetlepel heuning
  • 1 heel brandrissie
  • 2 wiele camembert

Só maak jy

1. Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die spek tot bros. Skep die gaar spek uit die pan, maar behou die geurige olie. Braai nou die ui stadig in die olie tot dit sag en glansend is. (As dit lyk of die uie te vinnig kleur kry, voeg ½ koppie water by.)

2. Roer die gaar spek, suiker, asyn, sjerrie, heuning en brandrissie by die uie en roer alles saam tot die suiker gesmelt is. Prut dit nou rustig tot die mengsel effens verdik en ’n glans kry. Haal die brandrissie uit en geur dit na smaak met sout en peper.

3. Sny elke kaas horisontaal middeldeur om elk twee wiele te maak. Stapel nou die kaasskywe op mekaar met die warm smoor tussen die lae. Sit die toring voor terwyl die kaas nog warm is met soutbeskuitjies of vars brood.

Ry & Sleep sê
As jy hou van ’n sterker byt, voeg gekapte brandrissie by die smoor pleks van ’n hele een.

Beetslaai met bokkaashappies

’n Bok vir beet

As jy vinnig ’n lekker bygereg aanmekaar wil slaan, is ’n bottel ingemaakte beet ’n wenner in jou kampkombuis.

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • ½ koppie droë bosbessies
  • ½ koppie geroosterde amandels (of gebruik pekanneute)
  • 1 eetlepel vars pietersielie (of gebruik ’n knippie droë gemengde kruie)
  • ½ koppie volvet- geroomde maaskaas (of gebruik volvetroomkaas)
  • 1 rolletjie sagte bokmelkkaas
  • 6 ingemaakte bete
  • 1 blik (400 g) lensies, gedreineer en afgespoel
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 klein rooiui, gekap ’n hand vol vars roket (opsioneel)

Só maak jy

1. Kap die bosbessies en neute fyn en meng dit met die pietersielie.

2. Meng die maas- en bokmelkkaas saam tot glad. Probeer dit so koud as moontlik hou – op ’n warm dag gaan die volgende stap knor.

3. Skep nou teelepels vol van die kaasmengsel in die neutemengsel en rol dit in klein bolletjies. Dit lyk mooi en die bros buitelagie help die happies om hulle vorm te behou. Herhaal tot al die bestanddele opgebruik is.

4. Sny die beet in kleiner blokkies en proe – die suurheid daarvan gaan bepaal of die slaai slaaisous nodig het of net olyfolie.

5. Geur die lensies met sout, peper en olyfolie en meng die ui daardeur. Skep dit in ’n slaaibord en rangskik die blare, beet en kaasbolletjies bo-op.

Ry & Sleep sê
’n Gepakte slaai eerder as ’n gemengde een is altyd ’n goeie idee as jy beet gebruik – dan lyk die resultaat nie soos ’n pienk olifant nie. 


Meesterlike mielies

Pitkos

Dié luukse mielies is amper ’n maaltyd op hulle eie.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 6 mielies
  • ¼ koppie romerige mayonnaise
  • ¼ koppie suurroom
  • ’n skeut sriracha of ’n knippie rissiepoeier
  • 1 wiel fetakaas, gekrummel
  • 2 eetlepels gerasperde parmesaankaas lemmetjie- of suurlemoenskyfies om voor te sit

Só maak jy

1. Kook die mielies vir 5 minute in soutwater en dreineer hulle.

2. Meng die mayonnaise, suurroom en sriracha in ’n bakkie saam en meng die feta en parmesaankaas in ’n derde bakkie. Nou kan jy braai.

3. Braai die mielies oor warm kole sodat die pitte hier en daar ’n skroeimerke kry.

4. Verf van die mayonnaisemengsel oor die warm mielies en sprinkel kaas oor. Rol dit sodat die kaas oraloor vassit en bedien met die lemmetjie- of suurlemoenskyfies sodat elkeen self sap kan oordrup.

Ry & Sleep sê
Verhit die lemmetjie- of suurlemoenhalwes vinnig oor die kole sodat die sap makliker uitgedruk kan word.

Ham-en-kaashoender

Lekker opstopper!

Dié veelsydige hoender met sy smeltsagte kaashart is verruklik op ’n broodjie, maar dis ook heerlik voorgesny en voorgesit saam met slaai.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 4 groot hoenderborsfilette
  • 1 teelepel dijonmosterd
  • 8 skyfies ham (ons het gypsyham gebruik)
  • 200 g mozzarellakaas, in 4 skywe gesny
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 4 broodrolletjies
  • botter om te smeer
  • 1 groot tamatie, in skywe gesny
  • 1 klein rooiui, in ringe gesny

Só maak jy

1. Gebruik ’n skerp messie en sny ’n gleuf in elke hoenderborsie – probeer ’n lekker holte maak vir die vulsel sonder om deur die buitekant van die vleis te sny.

2. Smeer die mosterd op 4 hamskywe en rol die kaas daarin toe.

3. Stop ’n kaas-en-hambondel in elke hoender-“beursie” en gebruik die ekstra skyfies ham om seker te maak die holte is goed toe sodat daar geen kaas uitloer nie. Steek die hoender met tandestokkies vas en geur die vleis met sout en peper.

4. Verhit die olyfolie in ’n dikboom- of riffelpan oor die kole en braai die gevulde hoender tot dit oraloor mooi goudbruin en gaar is. Onthou, die hoender om die vulsel is dun en sal nie meer as ’n paar minute aan ’n kant neem om gaar te word nie.

5. Laat die gaar hoender vir nog ’n paar minute op ’n snyplank rus tot dit hanteerbaar is, en trek die tandestokkies uit. Smeer die broodrolletjies met botter, sit tamatieskyfies en rooiui op elke broodjie gevolg deur ’n hoenderborsie op elkeen.

Ry & Sleep sê
Jy kan ook die gevulde hoender in skyfies sny vóór jy dit op die rolletjies sit. Die vulsel wys dan mooi af en jy kan meer mense kosgee.

Roosterkoekies met bloukaasbotter en groenvye

Te diep in die botter gekyk...

Klein roosterkoekies braai makliker as grotes en is ook vinnger gaar en reg om opgedollie en verslind te word!

Jy benodig

(maak ongeveer 24 koekies)

  • 3 koppies koekmeel
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 1 teelepel sout
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 350 ml louwarm water
  • 80 g romerige bloukaas, gekrummel
  • ½ koppie botter teen kamertemperatuur
  • 6 ingelegde groenvye, in skyfies gesny

Só maak jy

1. Meng die meel, gis, sout en suiker in ’n groot bak en roer die olyfolie en water geleidelik by. Knie die deeg sommer in die bak om te voel of al die water nodig is en die deeg mooi bymekaarkom.

2. Knie die deeg vinnig tot glad en elasties – mik vir 10 minute as jou armspiere hou! Vorm die deeg nou in ’n netjiese bol, sit ’n skoon vadoek bo-oor en laat die deeg rys tot dubbel die volume. Jy kan ook die deegbol in ’n skoon mengbak sit wat met ’n bietjie olie gesmeer is.

3. Knyp gholfbalgrootte stukkies deeg af en rol dit in bolletjies. Herhaal tot al die deeg in porsies pronk en laat dit weer rys tot dubbel die volume – ongeveer 30 minute.

4. Braai die roosterbroodjies oor lou kole en draai hulle gereeld om sodat dit stadig gaar bak. As dit hol klink wanneer jy daarop klop, is hulle reg.

5.Meng die botter en kaas saam en skep dit saam met van die vy op die warm broodjies.

Ry & Sleep sê
Braai die roosterkoekies in ’n toeknyprooster om die omdraaislag makliker te maak.


Kaas-en-konfytkoekies

Lepelsteeltjies

Dié soentjies smelt behoorlik in die mond!

Jy benodig

(maak ongeveer 30 koekies)

  • 1 koppie botter teen kamertemperatuur
  • 1½ koppie bruismeel
  • 1 koppie sterk cheddar, fyngerasper
  • ½ koppie kaasgeur aartappeltjips, gekrummel
  • 3 eetlepels appelkooskonfyt

Só maak jy

1. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meel totdat die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die kaas en tjips by en meng alles goed deur totdat dit ’n stywe deeg vorm.

2. Rol die deeg in hapgrootte bolletjies en pak dit uit op ’n bakplaat wat met pakpapier uitgevoer is.

3. Druk met die agterkant van ’n houtlepel ’n vlak gaatjie in elke koekie en skep ’n bietjie konfyt in elkeen.

4.Bak die koekies vir 10-15 minute in ’n oond van 180 ºC. Laat die koekies op ’n draadrakkie afkoel en bêre dit dan in ’n lugdigte houer.

Ry & Sleep sê
Vir ’n suiwer soutige koekie, skep ’n leksel Marmite in die koekies pleks van die konfyt