Vir 6 | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 40 minute

Jy benodig

• 2 groot uie, in dun skywe gesny
• 3 eetlepels botter
• 2 groot rooi soetrissies, heel
• 500 g lamsmaalvleis (of gebruik bees)
• 1 koppie gekapte sampioene
• 2 blikkies (410 g elk) ratatouille (of gebruik gekapte tamatie)
• 1 eetlepel Ina Paarman-biefekstrakpoeier
• ¼ koppie rooiwyn
• 1 teelepel droë tiemie of salie
• sout en peper
• 1 pak lasagnevelle
• ’n hand vol gerasperde gerookte mozzarella

VIR DIE KAASSOUS

• 3 eiers

• 250 g maaskaas

• 250 g ongegeurde jogurt

• 1 wiel fetakaas

• 1 teelepel growwe mosterd

Só maak jy

1. Bak die uie en soetrissie in die oond of oor die vuur. Plaas die uie saam met 2 eetlepels botter in ’n foeliebak op die rooster (oor matige hitte), bedek die bak met ’n vel tinfoelie en laat vir 20 of 30 minute karamelliseer sodat die uie baie sag raak. Smeer ook die heel soetrissies met botter en sit dit terselfdertyd op die rooster totdat die skil swart gebrand en die rissie sag is. Haal die uie en soetrissie van die kole af. Trek nou die soetrissie se skilletjie af, kap dit fyn en meng dit en enige sappe met die uie.

2. Braai intussen die maalvleis in ’n pot bruin. Voeg die sampioene by en braai dit vir nog 5 minute. Voeg dan die ratatouille, ekstrak, rooiwyn en die tiemie of salie by, laat dit vir 5 minute prut en haal dan die pot van die hitte af. Proe en geur die mengsel na smaak met sout en peper. Meng die uie-en-soetrissiemengsel deur die vleis. 
3. Maak die kaassous deur al die bestanddele daarvoor baie goed saam te klits.

4. Bou nou die lasagne: Skep ’n lagie maalvleis onderin ’n plat swartpot, pak ’n laag lasagnevelle bo-op, gevolg deur die helfte van die oorblywende maalvleis. Giet nou ’n derde van die kaassous eweredig oor die vleis, en pak dan weer ’n laag lasagnevelle bo-op. Skep die res van die vleismengsel oor, gevolg deur die res van die witsous en ’n laag gerasperde kaas.

5. Bak die lasagne vir 40 minute oor matige hitte – onthou om ’n paar kole op die deksel te sit.

Wenk
Maak seker jy koop lasagnevelle wat jy nie eers vooraf in water hoef te week nie.